Friday, March 19, 2010

Boer wag nou nog vir Malema

Pretoria – Julius Malema, die president van die ANC-jeugliga, het
Vrydag nog nie opgedaag om 'n "boer" by Fort Schanskop suid van
Pretoria te skiet nie.

Ben Geldenhuys, die nasionale sekretaris van die Verkenners Beweging,
het vir Malema gewag om hom te kom skiet, maar Malema het teen 12:30
nog nie opgedaag nie.

Geldenhuys het Malema verlede week uitgedaag om hom te skiet nadat dié
omstrede jeugleier "skiet die boer" gesing het.

Geldenhuys het gesê dat as Malema so gretig was om 'n boer te skiet,
"kan hy kom en my skiet eerder as om ander mense op te sweep om
weerlose bejaarde boere en vroue te vermoor.

"Om dit vir hom maklik te maak sal ek by Fort Schanskop vir hom wag om
12:00 op 19 Maart," het hy verlede week gesê.

"Ek het nie ingegee nie, ek sal wag," het Geldenhuys gesê terwyl hy
Vrydag vir Malema gewag het.

Ishmael Mnisi, ANC-woordvoerder, het gesê dat Geldenhuys en sy
organisasie met Malema moet "gesels" en hom 'n geleentheid gee om
homself uit te druk.

"Hierdie is net 'n beheptheid met iets verregaande," het hy gesê en
bygevoeg dat enige verdere navrae aan die jeugliga gerig moet word.

Floyd Shivambu, die jeugliga se woordvoerder, was nie onmiddellik
beskikbaar vir kommentaar nie. Hy het verlede week gesê dat die
liedjie "uit proporsie geblaas is."

- Sapa

http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/426cc7cba953439dbd09301de61ec58c/19-03-2010-02-01/Boer_wag_dat_Malema_hom_skiet

No comments: