Wednesday, October 29, 2008

Soek hulp met skêr in haar rug

Oct 27 2008 10:25:30:190PM - (SA)

Amanda Roestoff

Terwyl sy nog van dubbele longontsteking probeer herstel het, is 'n
64-jarige ontvangsdame die naweek ses keer met 'n mes in haar woonstel
in Krugersdorp gesteek.

Mev. Juffie van der Westhuizen, ontvangsdame van dr. Anne-Marie Nel,
moes Sondag 'n noodoperasie ondergaan om die aar by haar wangbeen en
slukderm te heg.

Van der Westhuizen was volgens haar dogter, mev. Christa Ras nog baie
swak nadat sy vroeër die week vir dubbele longontsteking behandel is.

Die aanvaller het Sondag kort ná middernag vermoedelik tussen 'n
veiligheidshek en 'n geut na die boonste verdieping van mev. van der
Westhuizen se woonstel by Golfview-kompleks in Paardekraalweg,
opgeklouter en toegang tot 'n venster gekry wat op 'n skrefie oop was.

"My ma sê sy het wakker geskrik toe haar aanvaller bo-op haar sit en
haar begin steek," sê mev. Ras.

Haar aanvaller het haar glo herhaaldelik met die vuis geslaan, met die
skêr in haar gesig gekrap.

Daarna het hy haar twee keer in die nek, een keer in haar rug en
onderskeidelik drie keer met die skêr naby haar skouer- en borsbeen
begin steek.

Met die skêr nog in haar rug gedruk, het die aanvaller haar uit haar
kamer gestamp en die deur gesluit om vermoedelik na sy buit te soek.

Sy het die kans aangegryp om hulp by inwoners in die woonstelblok te gaan soek.

Sy het volgens Ras "al bloeiend en kaalvoet in die reën, die trappe
afgeklim en by 'n buurvrou op die grondvloer gaan aanklop.

Die familie is toe telefonies ontbied, terwyl inwoners 'n handdoek om
van der Westhuizen se nek gedraai het om die "geweldige bloeding" te
stol.

Die familie het haar agter op 'n motor se sitplek gelaai en hospitaal
toe gehaas.

Volgens Ras het sy haar ma stewig vasgehou, sodat die skêr nie verder
in haar rug insteek nie.

Haar aanvaller het vermoedelik deur dieselfde kamer na onder geklouter
en met haar beursie, wat sowat R500 kontant bevat het, gevlug.

Me. Melanie Besselaar, woordvoerder van die Netcare
Krugersdorp-private hospitaal, het gesê mev. van der Westhuizen word
steeds in die trauma-intensiewe eenheid van die hospitaal behandel.

Sy is steeds in 'n bedenklike, maar bestendige toestand.

Kapt. Jacob Raboroko, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in
verband met die aanval op Van der Westhuizen in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2416982,00.html

Saturday, October 25, 2008

VF+ wil hoë hof toe oor strate se name

Oct 24 2008 09:02:06:537PM - (SA)
Cobus Claassen

Die VF+ gaan die hooggeregshof vra om 'n stokkie te steek voor die
Tshwane-metroraad se planne om die name van 27 Pretoriase strate te
verander.

Mnr. Willie Spies, VF+-LP, het gister gesê sy party is optimisties dat
die hof deur 'n verklarende bevel die raad se besluit oor die
naamveranderings tersyde sal stel.

Die burgerregte-waghond AfriForum en die FAK het bevestig hulle gaan
saam met die VF+-applikante tot die hofstryd toetree.

Volgens Spies sal hofstukke Maandag ingedien word.

Die VF+ se regsadviseurs meen die raad het wetgewing verkeerdelik
vertolk en drie wette – die Wet op Munisipale Stelsels, die Wet op
Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) en die Nasionale
Erfenishulpbronwet – verontagsaam.

Spies het gesê die raad het boonop sy eie beleid geïgnoreer met die
besluit wat hy op 27 September verlede jaar geneem het.
Opposisiepartye was erg ontstoke toe die ANC op dié vergadering die
raad se beleid oor naamsveranderinge opsy geskuif het. Die ANC het die
beleidsriglyn teengestaan wat beslis dat "in die gees van demokrasie
minstens 51% van ge- registreerde kiesers in 'n betrokke straat
skriftelik met 'n voorgestelde naamsverandering van die straat moet
saamstem".

Al sal die saak waarskynlik eers in middel-2009 aangehoor word,
beteken dit die raad sal nou sekere reëls moet gehoorsaam en nie die
proses kan stoomroller nie, het hy gesê.


# Mnr. Henk van de Graaf, president van die Verkennersbeweging van
Suid-Afrika, het intussen gister in 'n verklaring toegegee lede van sy
jeugbeweging was by Woensdagaand se chaotiese straatnaamvergadering in
die Pretoria-Noord-stadsaal betrokke.

Die vergadering het op 'n rassegeveg tussen inwoners uitgeloop.

"Ek stel dit onomwonde dat ons nie gaan optree teen enige lede van ons
jeugbeweging nie. Ons kan hulle net gelukwens met hul optrede."

Woeste rassegeveg by straat-vergadering: metroraad in spervuur

Oct 23 2008 09:37:47:197PM - (SA)

Cobus Claassen

Die Tshwane-metroraad is in die spervuur oor sy hantering van die
openbare straatnaamdebat nadat eergisteraand se vergadering in die
Pretoria-Noord-stadsaal op 'n woeste rassegeveg tussen inwoners
uitgeloop het.

Emosies oor dié raad se voorgestelde veranderings van straatname het
so oorgekook dat die polisie die oproeriges met traangas
uitmekaargejaag het.

Die geveg is glo ontketen toe 'n inwoner 'n ander man met 'n stoel oor
die kop geslaan het. Twee groepe van verskillende rasse het onder
mekaar ingevlieg. Die polisie en die metropolisie moes bontstaan om
die situasie te ontlont en het versterkings ontplooi.

Na verneem word, is niemand ernstig beseer nie.

Ontevredenheid het agterna geheers toe net een groep toegelaat is om
verder aan die vergadering deel te neem, terwyl die ander groep
toegang geweier is.

Chaos en onderlinge rassespanning het die raad se reeks
deelnamevergaderings deurgaans gekenmerk.

Mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum wat self onder die
geweld deurgeloop het, het gister bevestig hy het 'n klag van
aanranding teen dir. Ndumiso Jaca van die Tshwane-metropolisie
ingedien.

Kriel sê Jaca het hom hardhandig begin rondstamp nadat hy dit onder
Jaca se aandag gebring het dat die man "wat vir die stoelslanery
verantwoordelik was", steeds in die saal is.

"Ek het dit duidelik gemaak dat ek geen aandeel gehad het in die
ontwrigting nie en het my nie teëgesit nie."

Volgens Kriel is daar ooggetuies "wat bereid is om die gebeure onder
eed te bevestig".

Jaca wou nie gister met Beeld praat nie.

AfriForum het sy kommer uitgespreek oor die polisie en die
metropolisie "wat as instrumente van die ANC gebruik is om almal by
die vergadering te teiken wat teen die straatnaamveranderings gekant
is".

Die VF+ meen die ANC se roekelose hantering van die kwessie het
krisis-afmetings aangeneem en ingryping is dringend nodig.

"Die geweld het uitgebreek toe 'n swart inwoner 'n wit inwoner met 'n
stoel geslaan het. 'n Wit man is gearresteer, terwyl die stoelslaner
nie eens aangespreek is nie," het mnr. Willie Spies, VF+-LP, gesê.

Die polisie het bevestig 'n 26-jarige man is in hegtenis geneem.

Mnr. Dana Wannenburg, DA-raadslid, het gesê die proses wat die ANC
volg om die straatname te verander is onaanvaarbaar.

Die DA distansieer hom "van wat op die vergadering gebeur het" en vra
dat 'n geloofwaardige en onafhanklike proses begin word.

Mnr. Khorombi Dau, die raad se speaker, het gesê dit is jammer die
vergadering het op so 'n "onaangename wyse" afgeloop.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2415118,00.html

2 broers se trane toe moordenaars skuldig bevind word

Mev. Yvette Maritz, die vermoorde se weduwee, buite die hof. Foto: Herman Verwey

Oct 23 2008 09:37:54:353PM - (SA)

Hilda Fourie

Twee broers het gister die trane afgevee toe twee mans weens die moord
op hul broer skuldig bevind is.

Mnr. Manie Maritz (47), 'n takbestuurder van BMW, is op 15 Julie
verlede jaar voor sy gestremde dogter by hul huis in Constantiapark,
in die ooste van Pretoria, doodgeskiet.

Frans Mthabesitha (26) en Patric Sithole (36) is in die Pretoriase
hooggeregshof skuldig bevind weens die moord op Maritz en die
aanranding van sy dogter.

Sithole is ook skuldig bevind op 'n aanklag van die onwettige besit
van 'n vuurwapen.

Waarnemende regter Vivian Tlhapi het Mthabesitha en Sithole op grond
van omstandigheidsgetuienis skuldig bevind.

Tlhapi het bevind die twee het Maritz oorval toe hy in die oprit van
sy huis gery het. Daarna is Maritz op die stoep van sy huis
doodgeskiet en sy gestremde dogter is aangerand.

Maritz se buurman het gesien wat aangaan, geskree dat hulle die dogter
moet uitlos en drie skote afgevuur. Een van dié skote het Sithole in
die been getref.

Hy het oor die vurktandheining geklim, maar sy tekkies het agtergebly.
'n Vuurwapen is ook langs die heining gekry. Daarby is 'n paar
handskoene buite Maritz se huis gevind waarop Sithole se DNS gevind
is.

Die gestremde dogter se selfoon is in Mthabesitha se besit gevind.

Tlhapi het bevind hulle het 'n gemeenskaplike doel gehad. Sy het
Sithole en Mthabesitha vrygespreek op 'n aanklag van huisbraak met die
opset om te steel.

Mnr. Louw Maritz het gesê hy is verlig dat Sithole en Mthabesitha
skuldig bevind is, want "nou kan ons met ons lewens aangaan".

Maritz, wie se ander broer, Coen, ook die verrigtinge bygewoon het,
het gesê hy hoop hulle word kwaai gestraf.

Die staat het vir 'n lewenslange vonnis gevra, terwyl adv. Bafana
Mamba gevra het Mthabesitha moet net tien jaar tronkstraf kry.

"Dié moord was nie die wreedste wat daar al in die howe was nie," het
hy gesê, waarop Tlhapi hom gevra het hoe 'n mens dit kan regverdig dat
dié moord nie wreed was nie. Mamba het aangevoer Mthabesitha het nie
die sneller getrek nie.

Staatsadv. Alicia Lewis het daarop gesê Mthabesitha het die besluit
geneem om dié aand by Maritz se huis te wees en dat hy geweet het sy
medebeskuldigde was in besit van 'n vuurwapen.

Mev. Yvette Maritz het ter strafverswaring getuig Maritz was die man
saam met wie sy wou oud word.

Die twee skuldiges hoor volgende maand hul vonnis.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2415094,00.html

Friday, October 24, 2008

Uit die Kantoor van die Verkennerspresident

Die Verkennersbeweging van Suid-Afrika

Kantoor van die Verkennerspresident


24 Oktober 2008

Openbare Verhore oor Naamsveranderings


Sekere sake moet in perspektief geplaas word rondom die gebeure by die
sogenaamde openbare konsultasies oor Pretoria se
straatnaamsveranderings.

Dit was veral jongmense, en spesifiek lede van die Verkenners se
Jeugbeweging, wat betrokke was by die openbare "verhore". Dit was een
van die lede van die Verkenners wat deur die polisie weggevoer was, en
wat later maar weer laat gaan is toe dit blyk dat hier sprake was van
magsvergryp deur lede van die SAPD, en dat dit neerkom op 'n onwettige
arrestasie.

Die Dagbestuur van die Verkennersbeweging stel dit onomwonde dat hy
nie gaan optree teen enige lid van die Verkenners se Jeugbeweging nie.
Hulle het in hulle jeugdigheid, aangevoer deur erge frustrasie, sake
dalk op 'n ander wyse benader as wat ouer mense dit moontlik sou doen.
Dit is egter so dat hulle nog meer die slagoffer is van 'n bestel en
omgewing wat Afrikaner-onvriendelik is. Hulle kry slegs met uiterste
inspanning werk, want affirmative action tel teen hulle. As hulle 'n
eie onderneming wil begin, is SEB daar om 'n deel van hulle
onderneming van hulle af te vat. Op universiteite word hulle gedwing
om te integreer, en die reg tot assosiasie en disassosiasie word hulle
ontneem, onder die valse beskuldiging dat hulle dan rassisties is.
Ook hulle wil die bietjie erfenis wat hulle vadere aan hulle oorgedra
het, in die vorm van 'n ontwikkelde stad met historiese name, sien
behoue bly – iets wat lynreg bots met die sinnelose naamsveranderings.

Bowendien is dit duidelik dat die openbare verhore 'n klug is en net
bedoel is om te dien as rubberstempel op 'n besluit wat reeds geneem
is.

Die ANC-bestel lok sodanige optrede uit, en as iemand te blameer is,
is dit die ANC self. Die ANC moet dalk kennis neem dat optredes van
dié aard, in die toekoms eerder sal toeneem as afneem, as die ANC
voortgaan met sy Afrikaner- en Boere-vervolging.

Die Verkennersbeweging is trots op hierdie lede van hom, wat nie
skroom om standpunt in te neem nie, en selfs bereid is om daarvoor
opgesluit te word in omstandighede wat bekend is as haglik. Dit is
wonderlik om te sien dat seuns mannemoed openbaar oor iets waaroor
hulle sterk voel. Ons kan hulle net gelukwens met hulle optrede.

Ons doen ook 'n beroep op elkeen van hulle wat ook maar net gedreig is
met geweld deur arrogante polisielede wat skynbaar nie weet waar hulle
bevoegdhede eindig nie, om aanrandingsklagtes teen dié polisielede
aanhangig te maak nie, ongeag of hulle wit of swart is. Die
Verkennersbeweging sal help met regshulp indien nodig.


Henk van de Graaf

President

Pasop wat jy sing !!

Dit is wel bekend dat die ANC leier Jacob Zuma gereeld stydliedere
sing. Sy volgelinge sing ook gereelde sy kenmerkende "bring my masjien
geweer" wanneer hulle steun aan hom wil wys of om persone wat hulle
teenstaan te intimideer. Daar is egter ander liedere wat hierdie
radikale elemente sing, die temas waarvan heelwat die geweld wat hulle
gaan pleeg teen blankes en veral boere bevat. Teen hierdie persone is
nog nooit opgetree nie en dit blyk dat dit as aanvaarbaar ge-ag word
deur die polisie.

Daarteenoor is "Jan Pierewiet", "Sarie Marais" en ander
Afrikanervolksliedere heeltemal onaanvaarbaar. 'n Bewys hiervan is die
reusagtige polisie teenwoordigheid by die openbare vergadering oor
straatnaamveranderings by die Pretoria-noord stadsaal. Die Polisie het
slegs opgetree teen die Afrikaners wat hierdie liedere gesing het en
nie eens die geweldadige wyse waarop 'n ANC/SAKP lid die Afrikaners
met 'n stoel aangerand het, kon die polisie motiveer om teen die
ANC/SAKP lid op te tree nie.

'n Versoek sal gerig word aan die FAK om 'n waarskuwingsnota aan die
FAK-sangbundel te heg: "Hierdie liedere kan polisiegeweld veroorsaak".

Die uwe,

Ben Geldenhuys

Thursday, October 23, 2008

ANC soek konfrontasie in Pretoria

Die ANC wil etniese konflik in Suid-Afrika hê. 'n Mens kan tot geen
ander gevolgtrekking kom as jy die party se optrede rondom die
straatnaamkwessie in Pretoria beskou nie. Gisteraand het geweld
uitgebreek tussen Afrikaners wat teen straatnaamveranderings gekant
is, aan die een kant, en lede van die ANC/SAKP en die metropolisie aan
die ander kant.

Die metropolisie het openlik kant gekies in hierdie etniese
konfrontasie waar een groep poog om die geskiedenis en kultuur van 'n
ander uit te wis. Dit was die laaste spyker in die doodskis van
Suid-Afrikaanse demokrasie. Want demokrasie in die normale sin kan net
bestaan waar die staat en veral die polisie onpartydig optree om orde
tussen mededingende etniese of belangegroepe te handhaaf. Waar die
polisie in kultureel bevooroordeelde gedrag begin verval, verloor
hulle alle legimiteit en begin as 'n soort proregeringsmilisie optree
soos mens in soveel Afrikalande aantref.

Eintlik is die onlangse wending skokkend. Mens het nog altyd gedink
dat Pretoria met sy groot Afrikanerbevolking 'n potensiële
territoriale strydperk tussen Afrikaners en die Xhosa- en
Zoeloe-oorheersde ANC sou word. Gedurende die Kemptonparkse
onderhandelinge in die vroeë negentigerjare het die ANC sy bes gedoen
om Pretoria as opposisiegebied lam te lê. In die aanloop tot die
munisipale verkiesings in 2000, het die ANC se dr. Michael Sutcliffe
die grense so getrek dat die groot aantal Afrikanerkiesers in die
gebied geneutraliseer is en verhoed word om enige invloed uit te
oefen.

Hoewel ons by Praag reeds 'n aantal jare gelede Pretoria as 'n
moontlike konflikgebied uitgesonder het, kon ons nie die huidige
situasie voorsien wat so vinnig besig is om in 'n klassieke etniese
konflik van die Afrika-tipe te verval nie - baie soortgelyk aan die
DRK, Oeganda of die Ivoorkus waar een groep 'n ander probeer uitstoot
en alle spore van sy vorige bestaan uitwis.

Eintlik is dit 'n wonderwerk, gegewe die vyandigheid op voetsoolvlak,
dat veel meer geweld nie reeds uitgebreek het nie. As mens die
internasionale modelle van etniese wrywing toepas, het Pretoria reeds
van geel na rooi oorgeslaan.

Dat verdere konflik in Pretoria op pad is, is seker. Sosiale onrus,
onluste of erger is binne die volgende ses maande onafwendbaar.
Afrikaners sal móét saamstaan om dit te hanteer.


http://praag.co.za/index.php?option=com_content&task=view&id=3276&Itemid=197

Oplossing dringend nodig vir Pretoria straatnaamgeskil

AfriForum beskou die geweld wat gisteraand in Pretoria-Noord tydens
die openbare oorlegplegingsvergadering rakende die voorgestelde
straatnaamveranderings uitgebreek het, as onaanvaarbaar. Volgens
AfriForum is dit in almal se belang dat daar nou dringend op ʼn
konstruktiewe wyse na oplossings vir die straatnaamgeskil gesoek moet
word. AfriForum se reaksie volg nadat dié organisasie se uitvoerende
hoof, Kallie Kriel, self tydens die vergadering onder geweld
deurgeloop het.

Kriel het gisteraand ʼn klag van aanranding by die Pretoria-Noord
polisiestasie teen die direkteur van die Tshwane Metropolisie, Ndumiso
Jaca, ingedien. Volgens Kriel was hy uiters verbaas dat Jaca hom
tydens die vergadering hardhandig begin rondstamp het, terwyl hy
(Kriel) op geen wyse by enige ontwrigtende aktiwiteite betrokke was
nie, en eenkant gestaan en toekyk het wat gebeur.

"Ek het agter in die saal gestaan en die ongelukkige gebeure aanskou
waartydens teenstanders en voorstanders van die straatnaamveranderings
mekaar verskree het. Toe sien ek hoe ʼn persoon uit die ANC-groep
iemand met ʼn stoel slaan, waarna geweld uitgebreek het. Ek het steeds
agter in die saal bly staan. Nadat die polisie verskeie van die mense
wat die straatnaamveranderings teenstaan uit die saal verwyder het,
het ek gesien dat die persoon wat vir die stoelslanery verantwoordelik
was, nie verwyder is nie. Ek het op ʼn beskaafde wyse aan
Superintendent Connie Ngomane, wat in bevel van die polisie op die
toneel was, uitgewys wie die stoelslaner was. Ngomane het geweier om
my van hulp te wees en verkeerdelik beweer dat ek die vergadering wil
ontwrig. Hierna het Jaca, wat in siviele klere geklee was en homself
nie geïdentifiseer het nie, my begin rondstamp. Om konflik te vermy,
het ek besluit om my nie teen te sit nie," het Kriel gesê. Volgens
Kriel het hy ooggetuies wat bereid is om sy weergawe van die gebeure
onder eed te bevestig.

Kriel het sy kommer uitgespreek dat die polisie en metropolisie-lede
wat by gister se vergadering was, as instrumente van die ANC opgetree
het deur almal wat teen die straatnaamveranderings gekant is, te
teiken – selfs diegene soos hyself wat nie deel van die oproer was
nie. "Die polisie is veronderstel om almal in die land se belange te
dien en nie net dié van een politieke groepering nie," het Kriel
bygevoeg.


http://www.afriforum.co.za/?p=1769#more-1769

Straatnaamkwessie 'n krisis

Straatnaamkwessie 'n krisis, sê VF Plus
Geskryf deur verslaggewer
Donderdag, 23 Oktober 2008

"Die ANC se roekelose hantering van die straatnaamkwessie in Pretoria
het nou krisisafmetings aangeneem en verg nou dringend ingryping."

Dit was die reaksie van die VF Plus se LP en voorsitter in die
Groter-Pretoria streek, Willie Spies, op die geweld wat gisteraand in
die Pretoria-Noord stadsaal uitgebreek het tussen strydende faksies
oor die naamkwessie.

Die geweld het uitgebreek toe 'n swart inwoner 'n wit inwoner, volgens
berigte van agter met 'n stoel geslaan het. Tydens die daaropvolgende
hewige argumente is 'n wit inwoner gearresteer, terwyl die persoon wat
die aanval met die stoel geloods het nie eens aangespreek is nie - hy
is trouens later weer deur die organiseerders van die vergadering na
die verrigtinge teruggenooi.

Spies het gesê die saak moet nou uit die hande van die plaaslike ANC
geneem word omdat die ernstige spanning wat deur hulle aksies geskep
word, 'n landswye impak kan hê. Die party het gesê dat hy sy
voorbereiding van regsaksie teen die stadsraad gaan versnel om die
proses so gou moontlik onwettig te laat verklaar deur die howe.

http://praag.co.za/index.php?option=com_content&task=view&id=3266&Itemid=402

Polisie tree soos Gestapo op in Pretoria

Swart polisieman gebruik geweld teen blanke Afrikaanse vrou,
gisteraand in Pretoria07:34:07 'n Vergadering oor
straatnaamsveranderings in Pretoria gisteraand het handuit geruk, met
swart metropolisielede wat geweld teen blanke Afrikaanse vroue gebruik
het (sien foto hiernaas).

Die vergadering is deur verskeie Afrikanergroepe bygewoon, waaronder
Afriforum en die Verkennersjeug. Die byeenkoms het sonder probleme
begin maar toe Mnr. Jan Beyers van die Verkenners se punt van orde
blatant van die tafel gevee is, het ontstoke lede van die vergadering
hul stemme laat hoor.

Mnr. Beyers se punt van orde het behels dat die vergadering moet
verdaag aangesien dit 'n onwettige vergadering was. Terwyl daar
aangedring is dat die punt van orde aanvaar moes word, het
polisieverteenwoordiging skerp toegeneem. Gemoedere het begin oplaai
tussen diegene wat gekant was teen die naamsveranderings en diegene
wat daarvoor was.

Lede van die SAKP en ANC in T-hemde van hul partye het luidkeels hul
steun vir die naamsveranderings te kenne gegee. Geweld het uitgebreek
toe 'n lid van die SAKP/ANC 'n stoel na die Verkenners geslinger het.
Die swart Metropolisielede het hul egter aan die kant van die SAKP/ANC
geskaar en hardhandig teen Verkennerlede begin optree. Een lid van die
Verkenners is in hegtenis geneem.

Mnr. Werner Smook, voorsitter van die Verkennersjeug, het gesê: "Die
arrestasie is onregmatig en die behandeling van die polisie was
hardhandig en uiters eensydig. Verskeie lede van die Verkenners
oorweeg regstappe in verband hiermee."

Ná die arrestasie is die ligte van die saal afgeskakel en die polisie
het die aanwesiges met traangas bestook. Die meeste mense wat teen die
naamsverandering gekant was, het op dié stadium die saal verlaat.

Hierna is die vergadering egter hervat met die doel om "steun" vir die
naamsveranderings te betoon. Volgens mnr. Werner Smook "is verskeie
van ons lede met arrestasie gedreig indien hulle weer die saal sou
betree. Gevolglik is die vergadering verder bykans net bygewoon deur
lede van die SAKP/ANC. Dit is uiters ondemokraties en op grond daarvan
alleen is die vergadering 'n klug en verwerp ons die uitkoms daarvan."

Mnr Kallie Kriel van Afriforum het 'n poging aangewend om die polisie
te oortuig om die SAKP/ANC-lid wat die Verkenners met die stoel
geslaan het, te arresteer. Hy het die persoon aan die polisie
uitgewys, maar is toe self hardhandig uit die saal verwyder. Blykbaar
is mnr Kriel ook deur 'n senior lid van die Metropolisie aangerand.

Agterna is vorms uitgedeel waarop voorstelle vir nuwe straatname
gemaak kon word. Volgens die Verkenners se woordvoerder "bevestig dit
weereens dat die metroraad die besluit alreeds geneem het om die name
te verander. Geen kans word dus gegun om teen die veranderings te
protesteer nie. Die Verkenners is 'n vreedsame kultuurorganisasie en
betreur die gewelddadige optrede van die ANC/SAKP en die polisie wat
van Gestapo-tipe optrede gebruik gemaak het."


http://praag.co.za/index.php?option=com_content&task=view&id=3260&Itemid=402