Saturday, October 24, 2009

Woelinge rondom die “Reitz 4”

Die gebaar van prof. Jonathan Jansen, Rektor van die Universiteit van
die Vrystaat, om die klagtes teen die sogenaamde Reitz 4 terug te
trek, is niksseggend en in wese misleidend, as gekyk word na die
planne wat prof. Jansen met die Vrystaatse Universiteit het.

Die Verkennersbeweging beskou sy gebaar nie as 'n gebaar van
versoening nie, maar as 'n gebaar van hulpeloosheid ten opsigte van 'n
saak waarvoor daar oënskynlik geen stawende getuienis of afdoende
bewyse is nie. Dit is al versterk deur die vervolgingsowerhede se
besluit om die klagte van beweerde urinering wat sou plaasgevind het
tydens die vervaardiging van die video waaroor die hele herrie gaan,
terug te trek.

Die Reitz-video is indertyd gemaak uit protes van die studente teen
dié universiteit se gedwonge koshuis integrasie program. Met daardie
gedwonge integrasie, is die Grondwetlike reg van die studente, naamlik
die reg tot assosiasie en gevolglik ook die reg tot disassosiasie,
vertrap. Die video wat hulle vervaardig het, was enersyds 'n hulproep
na buite oor die onreg wat hulle aangedoen word, en andersyds 'n
metode om spot te dryf met 'n onnatuurlike en gedwonge proses.

Prof. Jansen het reeds aangedui, dat hy hierdie transformasie- en
integrasieprosesse wil versnel. Hy gaan dus doelbewus voort met dié
proses wat tot die hele omstredenheid aanleiding gegee het. Daarom
kan sy gebaar nie gesien word as 'n gebaar van versoening nie, maar as
'n publisiteitsfoefie waaragter hy sy afkeurenswaardige transformasie
van die universiteit wil voortsit.

Henk van de Graaf
President: Verkennersbeweging van SA

No comments: