Tuesday, October 13, 2009

Verslag van volksvergadering

Geagte volksgenoot,

VERSLAG VAN VOLKSVERGADERING


Dit is vir ons as Volksvergadering Reëlingskomitee 'n bron van
blydskap om verslag te doen van die Volksvergadering wat oor die
naweek van 25 - 27 September 2009 te Vegkop naby Heilbron gehou is.
Ons kan getuig dat dit 'n geslaagde byeenkoms was waarvoor ons al die
eer en dank aan ons Hemelse Vader gee.

Die doel van hierdie skrywe is om u in te lig oor die besluite van die
vergadering, maar eers bietjie inligting oor die vergadering self:

· Die vergadering het ontstaan uit die diepgevoelde en
groeiende behoefte by 'n toenemende getal Boere/Afrikaners dat ons
verlore vryheid weer herstel moet word. Die Volksvergadering
Reëlingskomitee is aangewys tydens 'n beplannings-vergadering wat op
20 September 2008 te Bloemfontein gehou is en wat op sy beurt
voorafgegaan is deur 'n wye en inklusiewe raadplegingsproses

· Die doel van die vergadering was om met mekaar ooreen te kom
oor 'n strategie vir die herstel van die vryheid van ons volk en het
plaasgevind onder die tema Soewereiniteit binne Gelofteverband.

· Ten einde te verseker dat dit 'n verteenwoordigende
vergadering is, is landswyd daarvan kennis gegee deur die
gebruikmaking van al die beskikbare media soos pamflette, die radio en
die internet. Dit is nie vergesog om te sê dat dít wat op die
vergadering besluit is, 'n redelike goeie weerspieëling is van dit wat
in die harte van baie van ons volksgenote leef nie.

· Meer as 400 mense het die vergadering oor die drie dae
bygewoon. Mense het die vergadering in hulle persoonlike hoedanighede
en nie as verteenwoordigers of leiers van organisasies bygewoon nie.

· Dit was 'n geleentheid waar volksgenote vryelik met mekaar
gesprek kon voer en ongeveer 80 persone het aan die debatvoering
deelgeneem.

· Ons kon mekaar vind oor verskeie sleutelkwessies sover dit
ons volk se vryheidstrewe betref en 'n eenheidsband is gelê wat 'n
stewige basis vir die pad vorentoe bied.

Die besluite van die vergadering word hierby aangeheg. Die hoofsaak
daarvan kan soos volg saamgevat word. Ten einde ons roeping as
Geloftevolk te vervul en 'n toekoms vir ons kinders te skep, ag ons
dit noodsaaklik dat ons weer 'n vrye volk in ons eie land onder ons
eie regering word. Ons aanspraak is volkome in ooreenstermming met
die reg van volkere soos ons dit in die Bybel en die aanvaarde
internasionale reg vind. Ons glo dat dit deur die krag van God ook
binne ons bereik is.

Die besluite is ingrypend en verreikend van aard. In beginsel lê dit
die grondslag vir 'n onvermydellike skeiding van ons volk se weë met
dié van die sogenaamde Nuwe Suid-Afrika, 'n geestelike trek na
algehele vryheid en die volkome plasing van ons lotgevalle in die
hande van God, soos ons voorouers by Vegkop, Bloedrivier en Majuba
gedoen het. Die besluite sal egter eers konkrete gestalte in ons
volkslewe kry as volksgenote oor 'n breë front dit hulle eie maak en
positief in hulle harte omhels. Dan kan dit dieselfde langtermyn
gevolge hê as die volksvergaderings van Desember 1879 en Junie 1940.
Binne 15 maande na eersgenoemde was Transvaal weer onafhanklik en die
Republiek van Suid-Afrika was die direkte uitvloeisel van die
1940-vergadering. Op ons webtuiste by www.volksvergadering.co.za kan
u meer lees oor dié vergaderings.

Die bekendmaking van die besluite van die Vegkop-vergadering is die
eerste stap om die vryheidsideaal tot op voetsoolvlak in die harte van
ons volk in te dra. In die weke en maande wat kom, sal DV meer
volledige besonderhede oor die inhoud en betekenis van die besluite,
soos wat dit tydens die vergadering uitgekristalliseer het, aan u
verskaf word. U sal ook ingelig word oor die bydrae wat u persoonlik
kan lewer om ons vryheidsideaal te verwesenlik. Intussen is u welkom
om enige vrae oor die volksvergadering wat u mag hê aan ons te stel.

Vir die onmiddellike wil ons u versoek om, as u uself met die besluite
van die volksvergadering kan vereenselwig, dit met alle middele tot u
beskikking so wyd moontlik bekend te maak.

Hierdie brief is die laaste brief wat u van die Volksvergadering
Reëlingskomitee sal ontvang. Tydens die vergadering is 'n
voorsettingskomitee aangewys, wat voortaan as die Geloftevolk
Koördineringskomitee bekend sal staan. Die name en
kontakbesonder-hede van die lede verskyn op
www.volksvergadering.co.za. Die taak van die komitee is om die
besluite van die vergadering uit te voer. 'n Eie webtuiste sal
mettertyd vir die komitee geopen word en korrespondensie sal later
vanaf 'n eie e-posadres geskied.

Hiermee beskou die Volksvergadering Reëlingskomitee die taak wat hom
tydens die Bloemfontein-vergadering opgelê is, as afgehandel. Ons
bedank hiermee elke volksorganisasie en individu wat 'n bydrae gelewer
het tot die welslae van die vergadering en gee ook erkenning aan die
rol wat andere voor ons gespeel het om ons volk in hulle gemoed en
denke gereed te maak vir die besluite wat op die vergadering geneem
is.

Ons wil elke volksgenoot versoek om hulle ondersteuning aan die
werksaamhede van die nuwe komitee te gee en ons bid die komitee die
krag en wysheid van ons Hemelse
Vader toe vir die uitvoering van hulle take.

Dankie

Volksvergadering Reëlingskomitee

PIKETBERG

10 Oktober 2009

Dokument beskikbaar by :
http://groups.google.com/group/onsstem-van-die-nasie/browse_thread/thread/993c7637c85b740f

No comments: