Monday, October 26, 2009

Oranjekas mediaverklaring

Oranjekas het op Saterdag die 24ste Oktober 2009, sy eerste Algemene
Jaarvergadering gehou in die Louis Buhrmann saal te TLU kantore in
Silverton. Tydens hierdie vergadering, is daar 'n mosie van dank en
vertroue in die direksie van Oranjekas ingestel en die positiewe gees wat
daar geheers het, sal lank onthou word. Hierdie positiewe gees heens
Oranjekas is ook 'n kenmerk van Oranjekas sedert sy ontstaan.

Oranjekas het die afgelope drie maande met meer as 60% per maand gegroei en
is die Spaar en Krediet Kooperasies in Suid-Afrika, met die grootste aandele
kapitaal. Daar is tans 55 Spaar en Krediet Kooperasies in Suid-Afrika.

Vyf direkteure moes volgens die statuut herkies word, tydens die Algemene
Jaarvergadering en die vergadering het sonder een teenstem die hele direksie
net so verkies vir die volgende jaar.

'n SKK (Spaar en Krediet-koöperasie) is 'n demokratiese, unieke,
lede-gedrewe, selfhelp Koöperasie. Dit word besit, beheer en bestuur deur
die SKK se lede wat 'n gesamentlike doel het. Die lede het ooreengekom om
hul geld in die SKK te spaar, en dan die geld te gebruik vir lenings aan
lede teen 'n redelike rentekoers. Rente word gehef teen die lenings, om die
beleggings se rente te dek, asook vir die administrasie en bestuur van die
SKK.

Daar word geen winste uitbetaal aan buite-instansies nie en die besluit oor
wat om met die winste te maak, berus by die lede.'n SKK is 'n demokratiese
organisasie wat beteken dat die lede 'n direksie verkies, en die direksie
verkies 'n bestuur om die SKK te bestuur en mense aan te stel. Daar word ook
'n toesighoudende komitee deur die lede verkies, om toesig te hou oor die
bedrywighede van die Direksie.

Mnr. Jan Beyers, Besturende Direkteur van Oranjekas, het tydens ''n
bespreking op die AJV wat gehandel het oor die toekomsblik van Oranjekas,
die volgende gesê : " Oranjekas kan en wil bankwese in Suid-Afrika
verander. Dit gaan Oranjekas regkry deur die die volgende te doen :

1. Voortbou op die goeie produkte en koerse van Oranjekas

2. Voortbou op Oranjekas se goeie diens in Afrikaans en in die kultuur
van die Afrikaner

3. Uitbreiding van Oranjekas se takke en filiale

4. Voortbou op sy goeie en bekwame personeel

5. Vestiging van Elektroniese Bankdienste

6. Skep van 'n groeifonds vir die ekonomiese vryheidstryd van die
Afrikaner "

Mnr. Beyers het sy toespraak afgesluit met die volgende verwerking van
Stephanus Roos se woorde die oggend voor die slag van Majuba: "Ek voel in my
hart dat ons ekonomies moet vry raak, want anders is ons verlore, maar hier
moet ons met mekaar 'n verbond maak om ekonomies vry te raak of almal te
val. Ons God sal ons help en ons SAL ekonomies vry raak, *WANT ONS KAN NIE
ANDERS NIE!*"

*Jan Beyers*

*Besturende Direkteur*

*Oranjekas Spaar en Krediet Koöperatief*

Reg no : 2009/003378/24

Tel : 0860 104 297 Faks : 086 536 5745

Epos : bestuur@oranjekas.co.za www.oranjekas.co.za

No comments: