Wednesday, April 8, 2009

Tshwane Metropolisie hoë noem Afrikaans "wishy-washy language"

AfriForum
ʼn Inisiatief van Solidariteit
Mediaverklaring
7 April 2009

Tshwane Metropolisie hoë noem Afrikaans "wishy-washy language"

AfriForum het ʼn dringende skrywe aan die burgemeester van die Tshwane
Metropolitaanse Raad gerig om te verneem wat dié raad se standpunt
jeens Afrikaans is. Dit volg nadat direkteur Jaca, uitvoerende hoof
van die Tshwane Metropolisie, gister geweier het om ʼn skrywe van
AfriForum oor taxi-brandpunte in die stad te bestudeer, omdat dit in
Afrikaans was, wat volgens hom "a wishy-washy language" is.

In die brief aan die burgemeester, vra AfriForum of die houding van
direkteur Jaca sy persoonlike disrespek vir ʼn amptelike landstaal
weerspieël, of die amptelike houding van die Metroraad is. Indien ʼn
bevredigende antwoord en optrede nie binnekort van die burgemeester
kom nie, sal die saak verder gevoer word deur middel van klagtes by
instellings byvoorbeeld die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat),
Menseregtekommissie (MRK) en Afrikaanse Taalraad. Afskrifte van die
brief aan die burgemeester is ook reeds aan Pansat, die MRK en die
Afrikaanse Taalraad gestuur.

In reaksie op AfriForum se taxi-veldtog teen roekelose
taxibestuurders, is 11 brandpunte in die Tshwane metropolitaanse
gebied geïdentifiseer, waar die roekelose optrede van taxibestuurders
dringende optrede noodsaak. Nantes Kelder, hoof van
gemeenskapsveiligheid van AfriForum, het die lys met ʼn versoek vir
onmiddellik stappe gister persoonlik aan direkteur Jaca gaan
oorhandig. AfriForum se hulp met ʼn veldtog teen die oortreders is ook
aangebied. Jaca het egter aangedring dat die brief in Engels aan hom
gegee moet word voordat hy sal reageer. Sy motivering vir die optrede
was dat Afrikaans "a wishy-washy language" is.

Volgens Alana Bailey, hoof van Afrikaanse veldtogte van AfriForum,
druis Jaca se optrede en aanmerking nie alleen teen die
Suid-Afrikaanse grondwet se bepalings rakende meertaligheid en respek
vir alle kultuurgroepe in nie, maar is dit ook teenstrydig met die
metroraad se eie taalbeleid (sien:
http://www.facebook.com/l.php?u=http://www.tshwane.gov.za%2Fdocuments%2FLanguagePolicy.pdf).
"As Jaca dan nou glad nie Afrikaans kan verstaan nie, het hy die
diens van professionele vertalers en kollegas tot sy beskikking om ʼn
brief oor so ʼn dringende aangeleentheid, wat deur ʼn burgerlike
organisasie namens letterlik duisende lede van die publiek aan sy
kantoor gerig word, vir hom te laat vertaal," het Bailey gesê. "Dit
is duidelik dat hy nie veel waarde heg aan die metroraad se leuse We
are the same nie, en Afrikaanssprekende inwoners van die gebied as
minderwaardig beskou. Hierdie ongrondwetlike houding vereis spoedige
optrede en ons wag gretig op die burgemeester se reaksie."


Alana Bailey
Adjunk-Uitvoerende Hoof: AfriForum
072-7284541
alana@afriforum.co.za

- - - - - - - - - - - - - - -

AfriForum is ʼn onafhanklike burgerregte-inisiatief wat deur
Solidariteit gestig is om ʼn forum te bied vir die konstruktiewe
aktivering van die burgerlike samelewing buite die partypolitiek tot
deelname aan die openbare debat en aksies – sien
http://www.facebook.com/l.php?u=http://www.afriforum.co.za.

No comments: