Thursday, January 15, 2009

"PRAAG - Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep"

PRAAG-nuusbrief, nr. 1, Januarie 2009 9de jaargang

Voorspoedige nuwe jaar aan elke Praager
Mag 2009 vir u 'n blink jaar wees!
Ons wens elke PRAAG-lid 'n opwindende nuwe jaar toe; mag al u wense en
ambisies vanjaar vervul word, D.V.

Konsolidasie gedurende 2008
Groei in webwerfgebruik en lidmaatskap in die vorige jaar
Gedurende 2008 het die Pro-Afrikaanse Aksiegroep hom opnuut gefokus op
die volgende vier gebiede:

1. Nuwe media in Afrikaans. PRAAG is tans die enigste Afrikaanse
organisasie wat oor 'n eie e-dagblad in die vorm van www.praag.co.za
beskik. Sedert Januarie 2008 het die aantal lesers van www.praag.co.za
verdriedubbel en ons voorsien nogmaals groei vanjaar soos wat meer en
meer mense bewus raak van ons gratis webwerf propvol vars nuus en
kommentaar, met ongeveer 15 nuwe artikels wat daagliks gepubliseer
word, soortgelyk aan die webwerwe van gedrukte dagblaaie in Afrikaans.

2. Uitgewery en elektroniese publikasies. Ons heruitgawe van Paul
Kruger se biografie deur D.W. Krüger het ietwat langer geneem as wat
verwag is, maar dié belangwekkende hardebandboek van 640 bladsye sal
binne die volgende twee maande op die rakke wees, ná maande se harde
werk en proeflees. Ons het ook gedurende 2008 ver gevorder om 'n
e-boekstelsel te implementeer waarmee ons met streng
kopieregbeskerming boeke elektronies kan publiseer in die
Mobipocket-formaat wat ook op selfone gelees kan word. Dit gaan 'n
eerste in Afrikaans wees.

3. Taalhandhawing. Sedert 2000 toe PRAAG gestig is, is ons een van die
min Afrikaanse organisasies wat onverskrokke standpunt ten gunste van
Afrikaans as openbare taal innneem. Onder andere het ons Standardbank
en Woolworths oor hul miskenning van Afrikaans gepak en dié veldtogte
sal in 2009 'n veel meer sigbare vorm aanneem.

4. Aksies oor veiligheid. Gedurende die jaar was ons steeds betrokke
by die opleidingskampe van TLU Veiligheid en het eie strategiese
beplanning rondom veiligheid gedoen.

Aanstelling van Gustav Venter as Bestuurder: lede en organisasie
'n Strydros vir die Afrikanersaak gaan ons help om die VRYHEID
2013-ideaal te bereik
Gustav Venter, wat reeds op 'n vrywillige grondslag by PRAAG betrokke
was, is sedert 1 Janurie vanjaar aangestel as Bestuurder: lede en
organisasie. Ons mikpunt is om vanjaar 2000 betalende lede vir PRAAG
te werf ten einde ons strategiese doelwit van Afrikanervryheid in 2013
te bereik. Nie net is Gustav 'n talentvolle skrywer en joernalis wie
se uitmuntende rubrieke op www.praag.co.za te lese is nie, maar hy is
ook 'n geesdriftige organiseerder wat begeesterd is oor PRAAG se
potensiaal om dié voertuig te word waardeur die Afrikaner verlos gaan
word van geweldsmisdaad, grondhervorming, regstellende aksie,
taaldiskriminasie en alles wat daarmee saamhang. Van meet af aan
vanjaar sal huidige PRAAG-lede gekontak word om hulle by aktiwiteite
in hul eie gebiede te betrek, maar ook om ons te help om ons
organisasie verder landwyd te versterk, ten einde daardie VRYHEID
2013-ideaal te bereik. Ons vra elkeen wat vir ons toekoms omgee om hul
geesdriftige samewerking aan Gustav te gee sodat ons sommer vinnig ons
doelwitte vir die jaar kan bereik. 083 690 6257

Facebookgroep
PRAAG op Facebook groei tot 750 lede

Binne slegs enkele maande vandat Albertus Kleingeld 'n Facebookgroep
vir PRAAG geopen het, het die groep aangewas tot 750 lede. Van die
begin af was PRAAG 'n tegnologies gedrewe organisasie wat in pas met
die internet en ontwikkeling van nuwe media gegroei het. Ook die
Facebook-fenomeen bied aan ons 'n geleentheid om ons aksiegroep te
bemark en die Afrikanersaak verder onder die groot aantal Afrikaners
wat aan Facebook se sosiale netwerk deelneem uit te brei.

Planne vir 2009
Organisasieversterking, diplomatieke en internasionale aksies,
media-ontwikkeling

Waar ander Afrikaanse organisasies reeds boedel oorgegee het of die
ondergeskiktheid van die Afrikaner en Afrikaans aanvaar, gaan ons
vanjaar voort om:

1. Ons organisasie te versterk sodat ons in die geval van 'n
verslegting van politieke of ander toestande (soos in Zimbabwe
byvoorbeeld) 'n rol kan speel om Afrikaners op 'n groot skaal te
mobiliseer deur middel van ons ontwikkelende kommunikasievermoëns.

2. Intellektuele leiding te verskaf daar waar soveel verwarring rondom
die wesentlike kwessies in Suid-Afrika heers.

3. Diplomatieke aksies teenoor buitelandse ambassades in Pretoria,
asook simpatieke organisasies en groepe in die buiteland te voer.
PRAAG beskik oor die strategiese aanvoeling en intellektuele statuur
om sinvolle internasionale verhoudings in die belang van
Afrikaneroorlewing in Suid-Afrika aan te knoop en uit te bou.

4. Om nuwe Afrikaanse media soos webwerwe, e-boeke en e-nuusbriewe
verder te ontwikkel ten einde 'n onafhanklike kommunikasiekanaal te hê
wat nóg aan die staat onderhewig is soos die SAUK, nóg aan die Brits-
en Amerikaans-oorheersde geldmag wat geen waarde aan die Afrikaner se
oorlewing en langtermynteenwoordigheid in Suid-Afrika heg nie. Deur
die waarheid oor Afrika en internasionale strategiese kwessies op 'n
sinvolle en toeganklike manier aan ons lesers te bied, word hulle nie
net ingelig nie, maar bou ons ook aan die suksesverhaal van Afrikaans
op die internet.

Ons saak is dringend
Afrikanermoedeloosheid mag ons nie verhoed om sukses te behaal nie

Terwyl die hoofstroommedia 'n rooskleurige prentjie oor Suid-Afrika
skep, weet ons van die moedeloosheid wat onder die meerderheid
Afrikaners heers sover dit ons toekoms in ons vaderland betref. Vele
mense is steeds besig om na Australië en ander lande te emigreer of
emigrasie as enigste toekomsdroom te aanvaar.

Ons mag nie toelaat dat hierdie moedeloosheid ons verlam nie. Ons tyd
is min. Die toekoms van Zimbabwe is verseël in die vroeë tagtigerjare
toe 'n groot aantal blankes die land verlaat het, waarna dit net 'n
kwessie van tyd was voordat radikale Afrosentriese politiek sou
seëvier en die land weens 'n gebrek aan kundigheid in duie sou stort.
Indien die aantal Afrikaners in ons land onder 'n kritiese massa sou
verval, is ons ewe verlore as die blanke Zimbabwiërs.

Daarom is dit so noodsaaklik dat ons vanjaar berge moet versit om die
oënskynlik onafwendbare af te weer. Daar bestaan nou 'n
geleentheidsvenster vir die Afrikaner, gegewe die vloeibare
internasionale politiek en swart verdeeldheid in Suid-Afrika, om weer
sy vryheid terug te kry, al is dit net gedeeltelik en binne 'n kleiner
gebied as dit waaraan ons in die verlede gewoond was.

Ons mag nie, ná al die onbesonne foute wat in die onlangse geskiedenis
deur Afrikanerleiers begaan is, hierdie allerlaaste kans laat
verbyglip nie!

U ondersteuning, hetsy finansieel, hetsy as vrywillige organiseerder
om PRAAG uit te bou, is wat die verskil gaan maak.

Maak kontak by inlig@praag.org!

Dr. Dan Roodt, direkteur

No comments: