Thursday, January 8, 2009

Boer glo as 'wit hond' uitgeskel

Jan 08 2009 07:52:57:463AM - (SA)

Tom de Wet

Welkom. - In nóg 'n voorval van beweerde polisie-wreedheid en swak
dienslewering op Odendaalsrus in die Vrystaat is 'n bejaarde boer na
bewering deur polisiebeamptes as 'n "wit hond" uitgeskel en aan hom is
ook glo gesê dat "alle wit honde in Suid-Afrika doodgemaak sal word".

Beeld se susterskoerant Volksblad berig reeds weke lank oor klagtes
uit die gemeenskap oor swak dienslewering deur die polisie op dié dorp
wat glo selfs al gestaan en toekyk het hoe 'n vrou wreed deur die pa
van haar kind aangerand word, ondanks 'n gesinsgeweldinterdik.

Mnr. Rudi van Vuuren het reeds die nuwe stasiekommissaris, sr.supt.
M.B. Mbongo, oor die gebeure Saterdag op sy pa, mnr. Gert van Vuuren
(68), se plaas gaan spreek. Hy is aangeraai om 'n klag teen die
betrokke polisiebeamptes in te dien.

Van Vuuren (sr.) was baie jare hoof van die polisie se reservistekorps
op Odendaalsrus.

Van Vuuren (jr.) sê drie polisiebeamptes het Saterdag omstreeks 14:00
met 'n polisievoertuig op die plaas Hilton aangekom. Hulle het vir sy
pa gesê hulle bring R100 wat 'n vorige plaaswerker hom skuld.

Een van hulle wou by hom weet waarom hy geld van 'n arm man wou hê,
waarop hy geantwoord het dat dit geld is wat die man hom skuld.

Van Vuuren (sr.) is daarna deur een van die konstabels as 'n rassis
uitgeskel en sy (Van Vuuren se) ma is ook gevloek. Van Vuuren (sr.)
het hulle aangesê om die plaas onmiddellik te verlaat, waarna hulle
vuurwapens uitgeruk en Van Vuuren (sr.) glo as 'n wit hond uitgeskel
is. Hulle het daarna gery.

Later was hulle egter terug en Van Vuuren (jr.) se ma het hom gebel.
Met sy aankoms op die plaas het die polisieman na bewering weer sy
ouers en suster geskel. Hulle het probeer wegry toe hy opdaag, maar hy
het voor hulle stilgehou en pen en papier gevat om hul name te kry.

Hulle het eers lank geweier om hulself te identifiseer, maar nadat hy
aan hulle gesê het dat hy 'n majoor in die kommando was en sy regte en
die wet ken, het die passasier homself as konst. Mokwena
geïdentifiseer, en die bestuurder van die voertuig, wat glo die
skelwerk gedoen het, het homself as konst. Mafabatho geïdentifiseer.

Van Vuuren (jr.) het daarna verskeie keer onsuksesvol die
polisiekantoor op die dorp en 10111 gebel in 'n poging om klagte teen
die betrokke polisiemanne in te dien en hulle van die plaas weg te
kry.

Terwyl hy op die telefoon besig was, het Mafabatho gesê Van Vuuren kan
Welkom, Bloemfontein en Pretoria bel, niemand sal of kan enigiets aan
hom (Mafabatho) doen nie.

Nadat hy sy voertuig weggetrek en die polisiemanne beveel het om die
plaas te verlaat, het hulle geweier en gesê hulle wag op versterkings.

Die versterkings, in nie minder nie as agt polisievoertuie, het daarna opgdaag.

Toe Van Vuuren daaroor navraag doen, is vir hom gesê dat hulle
daarheen ontbied is. Hulle is glo (verkeerdelik) ingelig dat 'n
plaaswerker op die plaas deur die boere aangerand word en dat die
polisie wat die man wou help daarna aangeval, gevloek, met vuurwapens
gedreig en die honde op hulle gesit is.

Van Vuuren (jr.) sê hy wil onder meer weet waarom daar nou klagte van
regsverydeling en crimen injuria teen hom en sy pa ondersoek word. Hy
wil ook weet wat die polisie met private aangeleenthede soos die bring
van die R100 te doen het en dit boonop in 'n polisievoertuig terwyl
hulle aan diens is.

Supt. Sam Makhele, provinsiale woordvoerder van die polisie, sê mense
moet met hul klagtes eerste na die stasiekommissaris gaan waarna dit
deur die regte kanale hanteer sal word.

Die polisiebestuur verstaan die erns van die bewerings, maar daar moet
klagte teen polisiebeamptes wat dalk oortree, ingedien word sodat dit
behoorlik ondersoek kan word.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2450135,00.html

No comments: