Friday, December 4, 2009

Mediavrystelling: Geloftevolk kom in beweging.

MEDIAVRYSTELLING

GELOFTEVOLK KOM IN BEWEGING

Die Geloftevolk Koördineringskomitee (GKK) het oor die naweek van 27 --
29 November 2009 in Bloemfontein vergader. Die komitee is tydens die
volksvergadering wat aan die einde van September by Vegkop gehou is,
aangewys om die besluite van die volksvergadering uit te voer. Tydens
die naweek se vergadering het die komitee hom onherroeplik verbind tot
die sentrale standpuntinname van die volksvergadering naamlik dat die
Geloftevolk weer 'n vrye volk in sy eie land onder sy eie regering moet
word.

Die volgende posisies is ingeneem en aksies in die vooruitsig gestel
deur die vergadering:

. Die komitee erken ons volk se afhanklikheid vir die herwinning van ons
vryheid van die Lewende God, dieselfde God wat die eer moet ontvang vir
die oorwinnings by Vegkop, Bloedrivier en Majuba. Die hoofdoel van
vryheid is om weer 'n volkshuishouding tot Sy eer daar te stel.

. Die komitee erken terselfdertyd ons volk se staat van sondigheid en
afvalligheid van God en besef die noodsaaklikheid van verootmoediging
voor Hom. Met die oog op gekoödineerde reëlings daarvoor sal daar
geskakel word met instansies wat reeds sodanige inisiatiewe begin het.
In hierdie verband word volksgenote herinner aan ons plig tot nakoming
van die volksgeloftes en die komitee wil hulle aanmoedig om moeite te
doen om Geloftefeeste op 16 Desember hierdie jaar by te woon.

. Die komitee is gegrief deur die misbruik van die
Bloedrivier-,Voortrekker- en ander volksmonumente vir doeleindes
waarvoor dit nie opgerig is nie en 'n ondersoek in verband daarmee sal
onderneem word met die oog op gepaste optrede.

. Die komitee ag dit noodsaaklik dat die vryheidsideaal tot op grondvlak
in die harte van volksgenote ingedra word. Elke volksgenoot tot op die
kleinste dorpie en op elke plaas in Suid-Afrika moet met hierdie
boodskap bereik word. Met die oop daarop is 'n omvattende
inligtingsaksie geloods wat sal bekend staan as Operasie Volksgesprek en
'n kommunikasiekomitee is aangewys om dit te inisiëer. Vir die welslae
van die aksie is ons egter aangewese op die ondersteuning van
goedgesinde individue, organisasies en media. Die komitee sal mettertyd
met sodanige persone en instansies in verbinding tree en spreek sy
waardering uit vir die ondersteuning wat reeds met die reëlings van die
volksvergadering ontvang is.

. Met die oog op omvattende kommunikasie met die volk is daar besluit
dat die komitee sy eie selfstandige databasis van volksgenote moet hê en
almal wat belangstel om die inligtingsmateriaal van die GKK te ontvang,
kan daarvoor registreer op www.volksvergadering.co.za
. onder Geloftevolk Koördineringskomitee.

. Ten einde volksbetrokkenheid by die vryheidstryd te verbreed, word 'n
volgende volksvergadeing vir die naweek van 8-10 Oktober 2010 DV in die
vooruitsig gestel. Die presiese vergaderplek en ander besonderhede sal
mettertyd bekend gemaak word, maar volksgenote word versoek om nou reeds
die datum te reserveer.

. Die komitee het 'n beleid oor ander volksorganisasies geformuleer.
Daar word gestreef na goeie en opbouende verhoudinge met die oog op die
bevordering van die vryheidsideaal. Vir die GKK is dit egter belangrik
om sy algehele onafhanklikheid te behou. Terselfdertyd gun hy alle ander
organisasies hulle eie identiteit en die selfstandige nastrewing van
hulle eie doelstellings.


Vir die lede van die GKK was die naweek se vergadering 'n verrykende en
verdiepende belewenis en 'n hegte eenheid is tussen lede gevorm. Die
komitee is ongekompromiteerd daartoe verbind om die vryheidsvisie met
die hulp van God en die ondersteuning van mede-volksgenote te
verwesenlik, hoe moeilik dit ookal mag wees en hoe lank dit ookal mag
neem en is vasbeslote om enige pogings om dit te belemmer met alle
beskikbare kragte teen te staan. Daarvoor put ons inspirasie uit die
woorde van die 18de eeuse denker George Byron: Die vryheidstryd, as dit
eenmaal begin, word van die vader bloeiend deur die seun geërf, en die
stryd sal altyd gewen word, hoe moeilik ookal.

Volledige besonderhede oor die beplande aksies van die GKK sal DV vroeg
in die nuwe jaar bekend gemaak word maar persone wat belangstel om nou
reeds by die komitee se aksies betrokke te raak, kan die sekretaris, mnr
Frikkie Strauss, by 022 -- 913 2391 skakel.

Uitgereik deur : Dagbestuur van die Geloftevolk Koordineringskomitee
Navrae: Frikkie Strauss, 022 - 913 2391

No comments: