Wednesday, December 16, 2009

Geloftedag = Selfrespek

Ek was ongeveer 'n jaar terug vir 'n saak in die Konstitusionele Hof
in Johannesburg. Hierdie moreel onbegronde hof vind jy in die
oorblyfsels van die voorheen Nommer 4 tronk, wat deel uitgemaak het
van die ou Fort, waar verskeie ANC terroriste aangehou is.

Konstitusionele Heuwel, waar die hof en tronkmuseums ens. staan, word
deur die ANC voorgehou as een van die morele regverdigingsgronde
waarom die nuwe bestel sodanig legitiem sou wees. Net soos die
Apartheid Museum en "Freedom Park", word hierdie propaganda struktuur
met groot koste getooi en in stand gehou in die gees van die "nuwe"
SA. Dit terwyl daar skaars 'n blok vanaf die Konstitusionele Hof op
groot skaal geroof, verkrag en vermoor word. In die moderne samelewing
weet die ANC goed dat die leuen verbloem in 'n waas van liberale
propaganda maklik deur die publiek soos soetkoek opgevreet sal word.

Die oorhoofse doel van elke ANC monument en museum, is dan ook om
hierdie leuen weer te bevestig, te versterk en aggressief na buite te
kommunikeer. So vind ons in die nuwe ANC-gefinansierde Bloedrivier
museum (net oorkant die rivier van ons eie Bloedsrivier monument) die
geskiedenis amptelik voorgehou as volg: Piet Retief en sy manskappe is
om die lewe gebring omdat hulle gevang was waar hulle naby Dingaan se
hut in die nag besig was met "loitering" en toordery.
Van die Voortrekkers het onbehoorlik teenoor die Zoeloe dames
opgetree, en hulle probeer verlei. Verder verdien hulle om dood gemaak
te word, omdat hulle van die Zoeloes almal slawe en Christene wou
maak.
Daar was nooit 'n traktaat nie, en Bloedrivier was nie 'n oorwinning
nie, aangesien net 'n paar honderd krygers aan die slag deelgeneem
het.
Die vorme wat die leuen van die "nuwe" SA aanneem, vind op
verskillende wyses plaas. Aan die swart massa word die illusie
voorgehou dat hulle inderwaarheid nou vry is, en dat dit kwansuis
beter met hulle sou gaan. Aan die Afrikaner, wat kan sien dat dit
eintlik nie so goed gaan nie, word die herhaalde refrein in ons kele
afgedruk dat ons skuldig is. Vir alles skuldig is.

Hierdie skuldgevoel werk soos 'n virus. Dit gryp die oningeligte aan
sy keel, laat hom smoor van skaamkry. Die stommerik sê gevolglik dan
net ja en amen op elke immoreel waansinnige ANC-daad. Met
bloedstollende oë kyk hy jou angsbevange aan as jy dit sou waag om
kritiek uit te spreek teenoor die regering. Ons is mos dan skuldig.
Sleg en verkeerd. En ons moet betaal. En nooit ophou betaal nie.
Hierdie skuldgevoel versmoor alle vorme van logika, dit beklemtoon die
persoon wat net saam met die stroom beweeg se swak karakter, en maak
inderdaad van ons volk slawe.

In 'n maand wat ons weer Geloftefees hou, moet ons vir 'n oomblik
stilstaan, en ons situasie met realisme in die oë kyk. Vir ons om as
volk weer 'n regmatige plek in Afrika in te neem, moet ons terugkeer
na die basiese beginsels. En dit begin deur 'n gees van nasionalisme
te kweek. 'n Gees van trots op wie en wat ons is. Ons behoort oor niks
skaam te voel nie. En hier praat ons nie van 'n arrogante trots nie,
maar inderdaad van selfrespek uit hoofde van ons nederigheid voor die
Drie-Enige God. Dit maak nie saak wat die leuen is wat die ANC aan ons
probeer voorhou nie, die waarheid kan nie verbloem word nie.

As daar een boodskap van die ou Voortrekkers is
wat veral in hierdie tyd tot ons behoort te spreek, is dit die gees
van selfrespek wat uit ons harte moet gloei. Die Voortrekkers het nie
jammer gesê omdat hulle getrek het nie. Hulle het ook beslis nie
jammer gesê omdat hulle hulself verdedig het teen die aanslae van
barbare nie. Die Voortrekkers het ten spyte van baie swaarkry, hul oë
op God gerig gehou, en daad by die woord gevoeg en sweet en bloed laat
tap ter wille van hul ideaal van vryheid.

Die ANC was nog altyd immoreel. Hulle is dit, en sal dit ook altyd
bly. In die einste Konstitusionele Hof, net voor jy by die hof instap,
is daar twee groot koper deure waardeur jy moet loop. Daar by die
ingang is 'n plaat aangebring met die woorde van Nelson Mandela, waar
hy sy hoop uitspreek dat hierdie hof waarlik vir almal in SA
regverdigheid, billikheid en vryheid sal bring. Skaars drie meter regs
van hierdie plaat, is daar graffiti op 'n ou tronkmuur geverf. Die
woorde skree dit uit: "Viva MK" (ANC se terroriste vleuel, wat vandag
sterk verdink word vir baie plaasaanvalle). In daardie hof, die
regering se liberale konstitusionele struktuur, kan die haat en
wrewel, die terrorisme, die onregverdigheid en onbillikheid net
eenvoudig nie weggesteek word nie.

Dit spreek daartoe dat selfs die liberalis se droom van 'n Grondwet en
menseregte hof inderwaarheid reeds met die hof se opening gesneuwel
het voor die barbarisme van Afrika.
As dit die blatante wyse is hoe die regering hul gruweldade goedpraat,
waaroor durf ons skaam te voel? Laat ons as volk hierdie Gelofte maand
met trots uitleef. Vir niemand vra ons verskoning nie, van niemand vra
ons toestemming om hier te mag wees nie. Die gees van al die geslagte
voor ons, ja daardie gees van trots wees op ons eie, dit is die gees
wat ons vyande soos mis voor die son sal laat verdwyn.

"Ons het selfrespek, ons durf nie anders nie."


Jan van Zyl

No comments: