sy eie land nie, en word hy onderdruk, verguis en in 'n permanente
toestand van skuldgevoel gehou.
Daar is onder ons volksgenote hoofsaaklik drie groepe mense.
Die eerste groep is die wat die nuwe Suid-Afrika aanvaar het, en
aktief meedoen aan voetewas en wat selfs ANC-lede geword het om te
toon hoe bly hulle is dat die vorige era verby is. Hierdie mense word
nie deur die Boere- of Afrikanervolk gerespekteer nie. Inteendeel,
hulle word geminag as verraaiers van dit waarvoor hulle voorouers
meestal geveg het. Interessant genoeg, word hierdie mense ook nie
werklik deur hulle nuwe heer en meesters vertrou nie, want geen
verraaier word ooit êrens vertrou nie.
Die tweede groep is die volksgenote wat nie jubel oor die nuwe
Suid-Afrika nie, maar wat sê dat die nuwe bedeling nou eenmaal 'n
werklikheid is, dat dit nie weggewens kan word nie, en dat dit aanvaar
moet word, maar hoogstens ten beste vir ons volk bestuur moet word.
Hierdie mense glo dat alle middele gebruik moet word om die land, tot
almal se voordeel, "gemaak werk" moet word. En ja, in daardie werkbare
bestel, hoop hulle om 'n sonstraaltjie vir die Afrikanervoolk ook te
kan opvang.
Die derde groep is die mense wat sê dat hulle 'n vrye Boere- of
Afrikanerrepubliek nastreef. Doodgewoon: 'n eie land waarin die volk
homself kan regeer, sy eie standaarde kan stel, sy eie waardes kan
handhaaf, en sy eie siening van vryheidvan spraak en die regstelsel
kan uitleef, op Christelike grondslag gebou.
Hierdie laaste groep word dikwels as regs of verregs gebrandmerk, die
skelwoord, rassiste, word ook dikwels na hulle kant geslinger.
Dit is interessant om daarop te let dat die laasgenoemde groep, die
republikeine, eintlik dié groep met die meeste geskiedkundige wortels
is.
Dit was immers die republikeine wat weggetrek het vanuit die Britse
onderdrukking in die Kaap. Dit was die republikeine wat twee
vryheidsoorloë geveg het teen daardie selfde imperiale kolonialis.
Dit was daardie republikeine wat in 1948 die oorwinning behaal het by
die stembus, en die lang en moeisame proses aan die gang gesit het om
die Afrikanervolk finaal vry te maak van die Britse kolonialisme –
iets wat uiteindelik in 1961 gebeur het toe die Republiek van
Suid-Afrika as 'n Afrikanerrepubliek tot stand gekom het.
Alhoewel die bedreiging van die voortbestaan van hierdie
volksrepubliek reeds voor 1994 duidelik geword het, het die nuwe
bestel van 1994 die volksrepubliek vervang met 'n rasrepubliek. Want
sedert 1994 word die klem net gelê op swart bevoordeling en
bemagtiging. Die Afrikaner het sy seggenskap oor feitlik alles
verloor: hy mag nie meer in sy eie skole toelaat wie hy wil nie, daar
is druk op sy kerke om hulle Woordgegronde karakter te verander, sy
monumente moet gedeel word, sy taal moet verwater, verkieslik
vernietig, word.
As republikeinsgesinde volksgenote daarteen probeer wal gooi, en die
vryheidsideaal van 'n onafhanklike Boererepubliek verkondig, word
hulle skielik die verregses en die ekstremiste genoem.
In werklikheid is dit nie hierdie vryheidsgesindes, die republikeine,
wat na regs beweeg het nie. Dit is die aanvaarders van die bestel, en
dié vir wie vryheid in 'n eie republiek nie meer belangrik is nie, wat
in wese na links beweeg het. Die republikeinse strewe, die smagting na
vryheid, waar ook al en hoe groot die republiek ook al mag wees, loop
soos 'n goue draad deur ons volk se geskiedenis. Daardie goue draad
het uiteindelik die meerderheid van die volk begeester. Toe was dit
nie 'n "regse" standpunt nie. Dit was natuurlik, alledaags. Niemand
het getorring aan die vrye republiek nie.
Helaas het die meerderheid van die volk, saam met die paaiers en
verraaiers na links beweeg en hulle rug op die republikeinse- en
vryheidsideaal gekeer. Die republikeine het bloot bly staan daar waar
hulle voorouers gestaan het: op die beginsel van vryheid in 'n
republiek. Dit is die "aanvaarders" wat na links beweeg het, en die
beginsel weggesmyt het, hetsy uit kruiperigheid voor die vyand, hetsy
uit opportunisme ter wille van die plekkie in Suid-Afrika, wat die
vyand ons volk in elk geval nie gun nie.