Wednesday, September 30, 2009

VVK verklaring t.o.v. Vegkop "Volksvergadering".

OPENBARE VERKLARING DEUR DIE VOLKSRAAD VERKIESING KOMMISSIE (VVK) TEN
OPSIGTE VAN DIE "VOLKSVERGADERING" TE VEGKOP, 25-27 SEPTEMBER 2009

1. Die VVK was in kennis gestel van bogenoemde byeenkoms van
volksgenote onder inisiatief van Mnr. Frikkie Strauss en die
"Volksvergadering Reëlingskomitee", welke byeenkoms na berig word
bygewoon was deur ongeveer 400 tot 500 persone.

2. Die VVK was nie op die byeenkoms verteenwoordig nie; soos wat
geen organisasie klaarblyklik daar verteenwoordig was nie aangesien
dit 'n byeenkoms van individuele volksgenote was buite
organisasie-verband.

3. GEEN BESLUIT is namens die VVK op die byeenkoms geneem of namens
die VVK daar oorgedra nie.

4. Die VVK is ten gunste van dialoog – dialoog, soos by Vegkop,
tussen volksgenote onderling en ook dialoog tussen volksgerigte
organisasies.

5. Terwyl die missie van die Vegkop-byeenkoms was om te besin oor 'n
strategie waarvolgens ons volk kan terugkeer na soewereiniteit binne
Gelofteverband, is die VVK reeds sedert sy ontstaan juis op so 'n
strategie gebou – 'n strategie ten volle verantwoordbaar in terme van
die Suid-Afrikaanse Reg, in terme van die Internasionale Reg, en
belangrikste van alles – in terme van God's Woord.

6. Wat 'n volksgesagsliggaam betref, bly die VVK se standpunt dat so
'n liggaam slegs op een enkele wyse tot stand gebring kan word; en dit
is deur DIE VOLK in sy groots-moontlike geheel behoorlike geleentheid
te bied om aan die verkiesing van so 'n liggaam deel te neem. Dit is
juis ook die proses wat deur die VVK as Verkiesingskommissie
gefasiliteer en deurgevoer word.

7. As Verkiesingskommissie wat ten volle onpartydig en onafhanklik
moet wees, kan en sal die VVK nie van ander organisasies of
inisiatiewe deel word nie.

8. Kiesers wat op die VVK se Kiesregister registreer, kan uiteraard
besluit om hulle persoonlike inligting ook aan ander organisasies of
inisiatiewe bekend te maak – van die VVK se kant af, kan en sal sulke
data met geen ander organisasie of inisiatief gedeel word nie.

Uitgereik deur Paul Kruger (namens die Sentrale Komitee van die
Volksraad Verkiesing Kommissie) op 30 September 2009.

No comments: