Thursday, September 10, 2009

"Volksvergadering : Soewereiniteit Binne Gelofteverband"

Inligtingstuk vir voornemende deelnemers aan die beoogde Volksvergadering.

Kampgeriewe:
U word hiermee hartlik uitgenooi om as volk vir die eerste keer ooit
uit te kamp ten einde as volk te vergader waartydens ons moet herbesin
oor ons toekoms as volk. Daar is genoeg plek op die terrein vir etlike
duisende kampeerders. Die aantal staanplekke wat van krag en water
voorsien is, is beperk. Daar is voldoende boorgatwater. Die komitee
sal sorg dat die verspreiding van water uitgebrei word, en beoog om 8
warmwatertoestelle oor die hele kampterrein op te rig . Die komitee
sal die hout vir die warmwater toestelle voorsien.

Toilette en storte:
Daar is ongeveer 8 storte en 10 binnenshuise toilette wat aan die
moeders en dogters van die volk toegeken sal word. Vir die vaders en
seuns van die volk sal daar buite toilette beskikbaar wees. Ons beoog
om 'n aantal buite storte op te rig, maar kan weens onvoldoende fondse
nie waarborg dat dit voldoende sal wees nie. Om enige ongerief te
voorkom, beveel ons aan dat u, u sal inrig om met die minimum geriewe
van die terrein se kant klaar te kom. Die komitee tref tans
voorbereidings om 5000 mense van die mees basiese geriewe te voorsien.

Braaigeriewe:
Daar is nie braaigeriewe nie, en u sal u eie rooster en hout daarvoor
moet saambring. Ons wil u nou reeds vra om uiters versigtig te wees
met die maak van 'n vuurtjie vir braai doeleindes. 'n Veldbrand
ontstaan baie maklik. Bring 'n spitgraaf saam om skoon te maak om u
braaiplek.

Stoele en sonskerms:
Na aanleiding van die groot belangstelling wat die vergadering tot nou
toe onder volksgenote geniet, sal die vergadering in alle
waarskynlikheid deels in die ope lug plaasvind. Indien dit die geval
sou wees moet voornemende deelnemers onthou om die nodige beskermings
maatreëls teen die son te tref. U moet ook die kampstoele onthou
aangesien daar maar ongeveer 700 stoele in die saal beskikbaar is.

Potjiekos kompetisie:
Neem ook kennis van 'n Potjiekos kompetisie wat beplan word vir die
aand van die 26ste. 'n Boer van Rooibokkraal omgewing het 2
Blouwildebeeste en 2 Rooibokke geskenk as pryse om op sy plaas gejag
te word. Onthou ook u flitslig - u kamp op 'n plaas sonder spreiligte.

Opkoms:
Omdat hierdie die eerste poging in baie jare is om die volk te laat
vergader, sodat daar oor ons gemeenskaplike toekoms binne
Gelofteverband besin kan word, weet ons as komitee nie hoeveel
volksgenote gaan opdaag nie. Ons het 'n webwerf geskep waarop u onder
andere u voorgenome teenwoordigheid te kenne kan gee. Dit is vir ons
van die uiterste belang, aangesien ons die vergadering so vlot as
moontlik wil laat verloop. Ons wil u egter nie ontmoedig om die
vergadering by te woon nie, maar wil u betyds in kennis stel van wat u
te wagte kan wees, sodat u ten volle voorbereid daar kan opdaag.

Roete:
Die grondpad tussen Vegkop en Lindley is blykbaar onlangs geskraap en
kan gebruik word. Die grondpaaie na Vegkop, na aan Heibron op die
Edenville pad, moet vermy word. Die pad tussen Heilbron en Vegkop is
geteer en in 'n goeie toestand. Verversings: Aanvanklik sou die
plaaslike CVO Skool behulpsaam wees met die voorbereiding van
verversings en iets te ete, maar is tans net beskikbaar om 'n
snoepwinkel te bedryf. Ons het intussen 'n aansoek ontvang van iemand
wat Worsbroodjies wil maak, asook iemand wat Biltong en Droë wors wil
verkoop. Hierdie aansoeke is aanvaar, maar ons wil u nogtans vra om
selfvoorsienend te kom - die naaste dorp is 20km ver.

Kinders:
As daar iemand is wat inisiatief aan die dag wil lê om die kinders
tydens die vergadering besig te hou met bergklim of Boeresport of
volksspeletjies, sal ons dit waardeer as u na vore kom. Die kinders
kan ook help om die groot vlag te ontplooi. Die grootste Vierkleur
ooit beslaan byna 2 ha, en het baie gewillige hande nodig om oop- en
toegemaak te word.

Alkoholiese drank:
Onthou asb. om die plaaslike Geloftefees komitee (wat die terrein aan
ons beskikbaar gestel het) se reël, dat geen alkoholiese drank op die
terrein toegelaat sal word nie, te eerbiedig.

Kontak:
Indien u oor e-pos fasiliteite beskik kan u aanlyn registreer by
http://www.facebook.com/l/24c9c;www.volksvergadering.co.za of u kan
ons laat weet by vvr@xsinet.co.za of by vrkomitee@gmail.com. Andersins
kan u een van die volgende nommers skakel: Phillip by 083 3341 547 of
Flip by 082 4554 303.

Sien u D.V. by die volksvergadering.
Die Volksvergadering Reëlingskomitee.

No comments: