Thursday, September 10, 2009

Program Volksvergadering

VOLKSVERGADERING

'N OPROEP AAN ALMAL WAT VERLANG NA VRYHEID VIR ONS VOLK

"Die vryheidstryd, as dit eenmaal begin, word van die vader bloeiend
deur die seun geërf, en die stryd sal altyd gewen word, hoe moeilik
ookal ".

Hierdie woorde kom van George Byron, 'n man in wie se gees die
vryheidsvlam onuitblusbaar gebrand het. Hy kon dit sê omdat die drang
na vryheid deur God self in ons gees ingeskape is en dus
onvernietigbaar is.

Die vryheidsgees vind ook neerslag in die lewe van volkere en ons volk
is as't ware daarmee gebore. Jan van Riebeeck het aan die Kaap
geland, slegs vier jaar na die einde van die tagtigjarige oorlog
waarin die Hollanders geveg het om vry te word van Spaans/Roomse
oorheersing. Die vryheidstema het soos 'n goue draad dwarsdeur ons
volk se geskiedenis geloop en ons voorours was bereid om groot offers
te bring vir die verkryging en behoud van vryheid.

Vandag is ons weer 'n verslane en verknegte volk, maar die
vryheidsvlam het reeds weer in die harte van die harde kern van ons
volk ontbrand en dit is hierdie manne en vroue wat opgeroep word na
die volksvergadering. Oor die naweek van 25 - 27 September sal ons
weë moet vind om die vryheidsvuur in die harte van ons volksgenote aan
die brand te steek van "waar Tafelberg begin tot ver in die
Transvaal". Dit sal die grondslag lê vir die uiteindelike herstel van
ons vryheid en soewereiniteit waardeur ons in staat gestel sal word om
'n volkshuishouding tot eer van God te stig.

Die beplande program is hierby ingeslote. Dit sal u help om u voor
te berei vir deelname aan die besprekings. Die stuk, aanvullende
inligting bevat ander tersaaklike besonderhede omtrent
kampeerreëlings, metodiek van die vergadering, besprekings,
kontaknommers vir navrae ensovoorts. Bestudeer dit asseblief deeglik.

Ons webtuiste by www.volksvergadering.co.za gee ook meer inligting
oor die vergadering en ons beplan om dit op 'n deurlopende basis
verder op te dateer. Besprekings kan ook aanlyn gedoen word. Onthou
asseblief dat besprekings voor 19 September gedoen moet word.

Die volksvergadering is die eindresultaat van twee jaar se omvattende
raadpleging met mede-volksgenote, intensiewe beplanning en baie ure
van harde werk. Ons is daarvan oortuig dat daardeur 'n groot tree in
die rigting van die herstel van ons vryheid gegee sal word. Ons glo
dat geen Boer/Afrikaner dit sal wil misloop nie en ons hoop om elke
leser van hierdie brief daar te sien.

Volksvergadering Reëlingskomitee


Dokumente beskikbaar by :
http://groups.google.com/group/onsstem-van-die-nasie/browse_thread/thread/97afd0239aaaa807

Direkte skakel na program :

http://www.facebook.com/topic.php?uid=67798931573&topic=10595

No comments: