Tuesday, September 1, 2009

Praagse lente

Beste Praag-ondersteuner,

In Suid-Afrika vier ons vandag Lentedag, en dis beslis geen Meidag
nie. Te oordeel aan bostaande grafiek van weeklikse besoeke aan ons
nuus- en meningsblad, http://www.praag.co.za, is daar beslis 'n
Praagse Lente in Afrikaans aan die gang, want oor die afgelope drie
maande het besoeke aan http://www.praag.co.za verdubbel.

Teenoor die eenselwigheid van die Suid-Afrikaanse media met hul
daaglikse dosis misdaad en politieke korrektheid, poog ons om
prikkelende nuus en menings aan te bied wat mense aan die dink sit.
Die geskiedenis van media in Suid-Afrika is een van beheer deur die
Britse Ryk, die mynhuise, asook die ou Broederbond en Nasionale Party
wie se ideologiese sienings dikwels vrye debat en nuwe perspektiewe
gesmoor het. Ná 1994 het dieselfde media in die nadraai van die Koue
Oorlog verder in 'n geykte propagandataal verval, dié keer ontleen aan
die VSA met sy ongemaklike gemeenplase oor diversiteit, regstellende
aksie en dergelike meer. Plek vir skeppende, inheemse denke oor
Afrikanerskap en die land se tipiese Afrikaprobleme was daar helaas
nie.

Maar soos elke winter uiteindelik moet wyk voor bome wat bot en in
bloeisels uitslaan, soos selfs die Sowjet-tenks in 1968 slegs tydelik
die Praagse lente in Tsjeggië kon stuit, so fladder 'n swaeltjie op 'n
dag vanuit wie weet waar bo die dakke se nokke verby en besef 'n mens
skielik: 'n nuwe, vryer - en blyer - seisoen het aangebreek.

Alle revolusies begin klein en dit sou onvanpas wees om nou al op ons
louere te begin rus. Terwyl ons getroue ondersteuners tot dusver
rojaal bygedra het om ons joernalistieke opstootjie teen Grootbroer
moontlik te maak, durf ons nou groter droom. Ons wil ten minste nog
twee voltydse joernaliste aanstel om verborge Suid-Afrikaanse
nuusgebeure te gaan uitsnuffel, asook ons huidige aanbod in
verskeidenheid uitbrei. Ons benodig ook bykomende toerusting om 'n
werklike multimediakanaal te word. Onder andere wil ons 'n weeklikse
geselsprogram oor aktuele sake op die internet laai waar mense dit op
YouTube en elders kan kyk.

Om dit alles moontlik te maak, moet ons 'n bedrag van R100 000
insamel. Diegene wat reeds maandeliks by wyse van 'n debietorder of
bankoordrag tot die sukses van ons webblad bydra, hoef hul waarskynlik
nie aan dié oproep te steur nie. Maar indien u 'n paar rand kan skenk
om ons webwerf se sport-, leef-, reis-, vermaak-, motor- en ander
afdelings uit te brei, sal u eendag kan sê dat u 'n aandeel aan die
Afrikaanse revolusie gehad het.

Ons bankrekeningnommer is: ABSA Fourways, takkode 632905,
tjekrekeningnommer 4052326604 en gebruik u van en voorletters as
verwysing. Of staan 'n maandelikse debietorder toe deur vir ons 'n
e-pos te stuur aan debietorders@praag.co.za en ons sal elke e-pos
persoonlik beantwoord.

Ons sal u voortdurend op hoogte hou van hoe ons fondsinsameling vorder
en ook, waar doenlik, name van skenkers publiseer.

Wie weet, oor 'n paar jaar gaan ons almal terugkyk en ons verstom oor
die gemak waarmee ons 'n alternatiewe medium op die internet gevestig
het wat Afrikaners van regoor die wêreld met mekaar verbind en 'n nuwe
politieke en kulturele toekoms vir ons moontlik gemaak het.

Soos I.D. du Plessis gesê het:

...soet is die stryd vir die stryer,
Al moet hy uiteindelik verloor;
Maar die man wat sy deelname weier,
Is die man wat sy nasie vermoor.

'n Heerlike Lentedag word u toegewens.

Met vriendelike groete,

Dr. Dan Roodt

No comments: