Thursday, July 23, 2009

Onluste ; 'n resep vir Revolusie ?

Iets merkwaardigs is op die oomblik besig om in Suid-Afrika te gebeur.
Vir die eerste keer in dekades vind skynbaar spontane onluste onder
die swart bevolking in hul woonbuurtes plaas. Ons moet onthou dat
vorige onrusepisodes, in die sewentiger- en tagtigerjare onder die
vorige bewind, met honderde miljoene dollar vanuit die buiteland
aangestook is.

Trouens, in Suid-Afrika is iets soos "spontane onluste" eintlik 'n non
sequitur. Maar tensy die Sweedse regering, die Anglikaanse kerk,
Wêreldraad van Kerke of die Britse of Amerikaanse geheime diens soos
in die verlede weer besig is om opstand teen die regering aan te
blaas, vind daar vandag iets baie ongewoons plaas. Swartmense betoog
en pleeg openbare geweld uit protes, nie omdat hulle ideologies vanuit
Londen of Stockholm gemotiveer en - belangriker - befonds word nie,
maar vanself!

Hierdie feit van spontane onluste bevat 'n belangrike boodskap wat nie
geïgnoreer kan word nie. Moontlik - selfs, waarskynlik - staan
Suid-Afrika op die vooraand van die gewelddadige revolusie van die
Afrikatipe wat al dikwels vir die land voorspel is maar nog nooit
gematerialiseer het nie.

Dít waarvan De Tocqueville in sy beroemde ontleding van die Franse
revolusie praat, die sogenaamde "revolusie van stygende verwagtigings"
is besig om sienderoë in Suid-Afrika te gebeur. Volgens De
Tocqueville, pleeg arm mense wat aan gebrek en hongersnood lei nie
revolusie nie (anders as wat ons aldag deur die alwetende joernaliste
in ons hopelose koerante vertel word). Die kiem van revolusie word
juis gesaai as 'n voorheen ondergeskikte klas (of ras, in ons geval)
se lewensomstandighede verbeter. Die opheffing van ekonomiese en
finansiële sanksies, asook 'n gunstige wêreldekonomie, het sedert 1994
tot die langste opwaartse ekonomies siklus ooit in die land gelei.
Hoewel werkloosheid hoog gebly het, het die rekordbelastinginkomste
van die staat aan die ANC-bewind die moontlikheid gebied om 'n
welvaartstaat op die Europese model in te stel waar tot 13 miljoen
mense vandag een of ander vorm van toelaag van die staat ontvang.

Terselfdertyd het die ANC met sy praatjies van "'n beter lewe vir
almal" verdere verwagtings geskep dat daar inderdaad en binnekort
werklik so 'n lewe sal aanbreek, waar die gemiddelde swarte as't ware
by die klub van SEB-miljardêrs kan aansluit. Trouens, in die ou
Suid-Afrika het die verskil tussen ryk en arm geen revolusionêre
potensiaal geskep nie, want blankes het tot 'n ander kultuur en 'n
ander orde behoort. Diegene wat apartheid as 'n soort feodale stelsel
getipeer het, was in dié opsig nie ver verkeerd nie en ons weet dat
feodalisme eeue lank in Europa sonder veel kritiek of teenstand verdra
is.

Die gesig van 'n middelklasblanke in die ou Suid-Afrika wat in sy
toentertydse Volkswagen-kewer klim om na sy middelklashuis in 'n
blanke woonbuurt te ry, het geen woede of nyd by die breë massas
swartes ontketen nie. Slegs die verpolitiseerde elite wat deur die
radikale kliek aan die stuur van die anti-Suid-Afrika-veldtog aagehits
is, het om bloed geroep en met die reusepropagandamiddele tot hulle
beskikking revolusie gepredik. Weereens, dat daardie revolusie
desnieteenstaande hul geld, internasionale invloed en beste pogings
nie plaasgevind het nie, spreek boekdele aangaande die maatskaplike
toestande wat destyds geheers het.

Aan die ander kant word die gemiddelde inwoner van 'n sogenaamde
"township" of lokasie vandag gekonfronteer met die sogenaamde "swart
diamante", die nuwe swart nomenklatoera wat op die rug van die
politieke magsoorname en plundering van staatsbates, regstellende
aksie en rykwordskemas bekend as "swart ekonomiese bemagtiging"
ontstaan het. Enkele duisende swartes is "bemagtig" en verryk, maar
die massa moes meesal sonder werk met 'n aalmoes in die vorm van
toelaes klaarkom.

Die gewone swarte op straat sien, terwyl hy soos 'n sardien in die
taxi ingeryg en vasgedruk sit, die huidig bevoordeeldes verby hom ry
in hul luukse blinkswart sedans; hy neem waar hoe hulle sorgvry in die
winkelsentrums alles koop wat hulle begeer, dikwels op skuld wat die
banke maar te graag aan hulle toestaan. Sal dit ons verbaas as Jan
Alleman in sy lokasie waar die lewe maar min of meer soos tydens
apartheid sy gang gaan, verraai voel? Op die TV is daar aan hom vertel
dat hy aan 'n grootse "bevrydingstryd" deelgeneem het. Nie net het hy
daardeur abstrakte "vryheid" en "demokrasie" - begrippe waaroor dooie
wit mans al honderde jare lank dik boeke geskryf het - verkry nie,
maar ook die reg om as globale verbruiker saam met sy bevoordeelde
medeswartes aan die SEB-partytjie te mag deelneem.

Voeg hierby stygende energie- en voedselpryse, asook die staat wat
skielik 'n afname in sy belastinginkomste ondervind wat sy
welvaarstelsel toenemend gaan bemoeilik en ons het - om nou 'n cliché
te gebruik - 'n resep vir revolusie.

Waarskynlik vind daar op die oomblik meer onluste en openbare geweld
as gedurende die bewind van PW Botha plaas. Die verskil is egter dat
die BBC en die Britse pers dit nie aan die groot klok hang nie.
Onluste onder blanke minderheidsregering is voorbladnuus, maar
onluste of selfs burgeroorlog in Afrika onder swart regerings is niks
om oor huistoe te skryf nie.

Lees verder by :
http://praag.co.za/content/view/5298/402/

No comments: