Monday, February 2, 2009

Onbevoegdheid en wanadministrasie van SA Onderwysdepartement

AfriForum Jeug het gesê dat hy gratis regsadvies gaan gee aan die
2008-matrikulante wat benadeel is deur die departement van onderwys se
onvermoë en wanadminsitrasie met hul matriekuitslae. Hier is 'n paar
van die stories wat ingesamel is. Dit is vandag, meer as 'n maand
nadat die matriekuitslae beskikbaar moes gewees het, in 'n verslag
bekend gemaak:


Chante-Lee van Vuuren – Confidence College, Pretoria

Chante-Lee wag nog vir haar uitslae vir Toerisme en Verbruikerstudies.
Die departement het vir haar gesê dat haar punte "moontlik verlore"
is.

Kotie van Eck (ouer) – Sir Val Duncan Collage, Phalaborwa

Daar is vir haar gesê dat haar seun al sy vakke gedruip het. By
navraag kon sy nie ʼn konkrete antwoord ontvang nie. Daar kon nie vir
haar gesê word wat haar seun se opstuurpunte of sy finale punte is
nie.

Francois Britz – Hoërskool Hoogenhout, Bethal

Francois se finale punt vir Lewensoriëntering is 50% minder as sy
opstuurpunt. Dit beteken dat hy, volgens die departement, 0% in die
eksamen gekry het. Hy sê dat sy hele klasgroep vermoed dat hulle
punte foutief is.

André de Klerk – Hoërskool Volksrust

André is ʼn musikant en het beplan om Musiek te studeer by die
Universiteit van Pretoria. Na afloop van die eindeksamen het ʼn
amptenaar van die departement van Onderwys aan hom gesê dat hy 81%
gekry het in die eindeksamen, maar op sy rapport het gestaan dat sy
uitslae nie beskikbaar is nie. Nadat hy gaan kla het, het hulle sy
rapport verander met die woorde: "voldoen aan minimun slaagvereistes".
As gevolg van die probleme met sy punte kon hy nie gaan studeer nie
en het hy sy beurs verloor. Die hoof van die betrokke afdeling van
die departement van Onderwys het aan hom gesê dat hulle sy punte het,
maar dat hulle (die departement) nie weet hoe om dit te verwerk nie en
dus kan hulle nie sy punte vir hom gee nie.

Ryno Henry – Bloemfontein

Ryno en sy hele klas wag nog vir hulle Afrikaanse punte. Die
departement het vir hulle gesê dat hulle die eksamen weer moet gaan
skryf omdat hulle punte nie beskikbaar is nie, en dat dit hulle R500
elk gaan kos.

Fredrick Basil Kourie – Hoërskool Hoogenhout, Bethal

Fredrick is ʼn toppresteerder, wil graag Medies studeer. Hy het nog
nooit minder as 80% vir Biologie behaal nie. Sy Biologie-opstuurpunt
was 95%, maar die gemiddeld wat vir hom gegee is, is 68%. Hy sê dat
dit nie moontlik is nie, aangesien die vraestel vir hom maklik was.
Hy sê dat daar ook probleme met sy Engelse punte is. Hy is afgekeur
vir Medies en gaan nou oorsee.

No comments: