Sunday, February 15, 2009

Spogplaas nou vervalle

Bo, mnr. Sias Strydom se plaashuis drie jaar gelede. (Onder) Só lyk
die huis nou.

14/02/2009 21:41 - (SA)

Willem Pelser

Hazyview

Skaars drie jaar gelede was mnr. Sias Strydom se familieplaas Altyd
Beter naby Hazyview 'n spogplaas waarop enige piesangboer trots sou
gewees het.

Toe die Giba-gemeenskap 'n grondeis teen die plaas ingedien het, was
die piesangboorde, trekkers en pakhuise in so 'n goeie toestand dat
die regering Strydom R3,2 miljoen vir die grond aangebied het.

Die piesangs het geil gegroei in dié vrugbare aarde en die drie huise
op die plaas was pynlik netjies.

Toe neem die staat die grond oor. Aanvanklik het alles goed gegaan.

Die projek is destyds voorgehou as 'n voorbeeld van hoe
grondhervorming in Suid-Afrika eintlik gedoen moet word om te slaag.
Die geheim is samewerking tussen boer en grondeiser, is toe gesê.

Mediagroepe het joernaliste en fotograwe gestuur om na die
suksesverhaal te gaan kyk. Maar binne drie jaar het dinge drasties
verander.

Verlede week het Strydom self gaan gaan kyk hoe dit nou daar lyk.

"Wat ek gesien het, het my letterlik laat huil van ontsteltenis,"
vertel Strydom die afgelope week.

Toe trekkers langs 'n piesangboord gebreek het, het die nuwe eienaars
dit net daar gelos. Later is die stukkende trekkers vir onderdele
gestroop – om te verkoop, óf om in ander trekkers te gebruik.

Toe die kweekhuise se dakke afgewaai het in 'n storm, is dit net so
laat staan. Onderdele van die plaas se waterpompe, wat in Strydom se
tyd die boorde gevoed het, is stuk-stuk weggedra.

Die netjiese vierslaapkamerhuis waar hy en sy gesin gewoon het, is erg
verwaarloos. 'n Tweede huis, wat Strydom verhuur het, is nou 'n
murasie.

Nagenoeg 37 ander boere in sy omgewing het ook aan die staat verkoop.
Hulle is ruim vergoed: tussen R30 000 en R100 000 per ha.

Maar vir die meeste boere, soos Strydom, was dit nie genoeg om weer 'n
boerdery van dieselfde kaliber elders te begin nie. Strydom het 'n
hoewe gekoop en 'n tuisnywerheid begin.

Die 1 500 plaaswerkers wat vir Strydom en die ander boere gewerk het,
was die groot verloorders toe die grondeisers die plase oorgeneem het.
Die meeste het hul werk verloor omdat die grondeisers die plase self
wou bewerk, sê Strydom.

Die omstrede landboumaatskappy SAFM (South African Farm Ma-nagement)
is in 2006 deur die regering aangewys om die 38 plase te bestuur. Die
hele gebied se plase het toe bekend gestaan as een groot plaas
Burgershall.

Die afgelope drie jaar het die hele projek met rassse skrede
agteruitgegaan: SAFM het feitlik heeltemal in duie gestort en na
bewering skuld dié maatskappy Absa meer as R100 miljoen.

Boonop het 'n dispuut tussen twee groepe grondeisers verlede jaar
ontstaan oor wie presies die regmatige eienaars is van die 38 plase.
Boerdery-bedrywighede en instandhouding het erg gekwyn.

Vandag sal dit R6 miljoen kos om sy eertydse plaas weer te herstel tot
wat dit destyds was, sê Strydom.

Die Burgershall-grondeis wys presies wat verkeerd is met
grondhervorming, sê dr. Theo de Jager, adj. pres. van Agri SA.

"Die regering moet ewe veel aandag skenk aan landbou-ontwikkeling as
aan grondhervorming. Dis tog twee kante van dieselfde muntstuk," sê De
Jager.

Hy sê die staat hou hom bloot besig met die herverdeling van grond –
sonder om aan die sake- of produksie-kant van die landbou te dink.
Volgens De Jager is daar ook byna geen samewerking of sinergie tussen
staatsdepartemente wat met landbou gemoeid is nie.

"Die verskillende departemente praat eenvoudig nie met mekaar nie.
Elke week bel 'n staatsdepartement ons by Agri SA om te hoor wat sê 'n
ander staatsdepartement hieroor of daaroor," sê De Jager.

Met druktyd kon kommentaar nog nie verkry word van die kommissie op
die herstel van grondregte in Nelspruit nie.

Oorsprong:Rapport

http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2470100,00.html

No comments: