Monday, November 17, 2008

** Orania, straatname moet waai in NK **

frans coetzee

KIMBERLEY. – Die naam Orania, straatname van "afvalliges'' en die
Kimberley-lughawe se naam moet waai. Indrukwekkende standbeelde moet
vir kamerade in die bevrydingstryd opgerig word.

Só het die Jong Kommuniste-liga (JKL) die naweek op sy provinsiale
kongres in die stad besluit.

Mnr. Kabelo Mohibidu, sekretaris van die JKL in die Noord-Kaap, het
gister gesê nie net moet Orania se naam verander word nie, maar ook sy
samestelling wat arpartheid steeds verteenwoordig.

"Orania moet ten volle met die res van die land integreer sodat swart,
bruin, wit en Indiër saam kan woon."
Die Kimberley-lughawe moet na die Tommy Morebodi-lughawe herdoop word.
"Tommy was die eerste jeugdige wat hier in 1985 in die bevrydingstryd
gesterf het. Ons gaan met sy naastes in verbinding tree om verdere
inligting oor dié jong held se lewe en tragiese dood in te samel."

Mohibidu het gesê die kongres het verder besluit pogings om
tersaaklike straatname en geskiedkundige landmerke te verander, moet
versnel word.

"Die Bantu Holomisa-straat wat na die renegaat genoem is, is 'n
skande. Lucas Mangopestraat moet ook verander, want dit verteenwoordig
'n uitgediende era."

Die kongres benodig nie "klein" standbeelde wat vir kamerade in die
stryd opgerig word nie.

"Ons moet na Kuba vir voorbeelde kyk in ons strewe om ons
revolusionêre helde met 'ernstige' monumente te vereer."

Mohibidu het gesê die owerheid se tenderprosedures moet dringend
hersien word, want dit is deurspek met korrupsie en bedrog.

"Ons gaan ook vra dat jeugdiges wie se ouers aan byvoorbeeld vigs dood
is, gratis huise, onderrig en 'n basiese toelaes kry."

Die premier se beurstoekenning moet herontwerp en aangepas word sodat
die beurshouers beter vergoed en in bepaalde praktiese rigtings soos
entrepreneurskap opgelei word.

) Mnr. Carel Boshoff IV, president van die Orania-beweging, het gister
gesê hy neem die JKL se besluit oor Orania met 'n knippie sout.

"Orania se naam en samestelling het niks met die JKL uit te waai nie.
Ons indruk is hulle is desperaat vir 'n bietjie publisiteit. Ons wil
ons nie tot 'n sinlose getwis laat uitlok nie."

No comments: