Thursday, November 19, 2009

Moenie van uitsonderings die reël maak nie

http://www.radiopretoria.co.za/Nuuskommentaar.php

Wanneer 'n volk, of dan ten minste 'n kerngedeelte van die volk,
namens die passiewe res van die volk 'n vryheidstryd voer, word sekere
opofferings en offers gevra. Ongelukkig is dit so dat dit die klein
groepie vasberade idealiste en diegene met die visie van vryheid is,
wat daardie offers bring, ook namens die passiewe res van die volk,
terwyl daardie passiewe deel van die volk wel uiteindelik die voordeel
daaruit gaan trek. Dit was so in die verlede, dit is so in die hede,
en in die toekoms sal dit netso gebeur.

Mense wat vanuit Europa vertrek het in die sewentiende eeu, was die
klein groepie wat sterk gevoel het oor byvoorbeeld geloofsake, en het
daarom na Suid-Afrika gekom. Die Groot Trek, was in wese 'n trek van
'n minderheid van die Kaapse bewoners van daardie tyd. Die meerderheid
het hulle die verdrukking en vertrapping van die Engelse laat
welgeval. Dit was slegs 'n handjievol Boere wat so sterk oor hulle
vryheid gevoel het, dat hulle die lang pad na iewers waar aangepak
het. Maar dit was daardie handjievol wat die geskiedenis van hierdie
land onherroeplik in 'n bepaalde rigting gestuur het. Maar dit was ook
daardie handjievol wat bereid was om aanvanklik verguis en bespot te
word deur die agterblywendes. En dit was daardie handjievol wat die
offers gebring het: wat alles agtergelaat het, die ontberings
getrotseer het, en wat deur die barbare vermoor is by 'n Weenen en
Bloukrans.

Selfs gedurende die twee Vryheidsoorloë was dit 'n minderheid wat
aktief die wapen teen die Engelse kolonialis en imperialis opgeneem
het, en die reeds klein groepie is later verder verklein, toe
hanskakies die Engelse aanvanklik ter wille was en later aktief
ondersteun het, en toe die verraaiers hulle aan die kant van die
Engelse geskaar het om teen hulle eie mense te veg. Ja, daardie
verraaiers wat selfs bereid was om hulle eie volksgenote, hulle pa's
en broers, te vang of dood te skiet, net om die guns van die vyand te
probeer wen – iets wat uiteindelik futiel was, want geen verraaier
word ooit vertrou nie: nie by sy eie mense nie, en ook nie by diegene
aan wie hy sy verraaiersdiens of –mentaliteit aanbied nie.

Maar dit maak nie van alle Boere verraaiers nie. Hulle was die
uitsondering, en nie die reël nie. Ook vandag is die werklike
volksverraaier wat met die vyand heul, gelukkig die uitsondering en
nie die reël nie, alhoewel dit soms wel voel of die passiewe deel van
'n volk, hulle dalk eerder skaar aan die verkeerde kant, maar dis net
'n indruk wat nog nie bewys is nie.

Netso word indrukke as feite aanvaar, soos dat ons as volk nie kan
saamstaan nie. Die geskiedenis het al geleer dat as die nood druk, ons
wel gesamentlik kan optree. Die enkele verraaiers, wat skeef en dwars
trek, bly die uitsondering en maak nie die reël nie. Die reël is dat
ons wel kan saamwerk as omstandighede dit vereis. Die skeeftrekkende
randeiers word dan outomaties uitgedruk en uitgeskuif, juis omdat
hulle die uitsondering verteenwoordig en nie die reël nie.

Netso is dit so dat die Boere- of Afrikanervolk harde werkers is. Dit
is uiteindelik hulle wat die kennis opgebou het en die inisiatief
geneem het om paaie, hawens en lughawens te bou, terwyl die nuwe
bewindhebbers wat nie deel van ons volk is nie, in groot mate steeds
daardie infrastruktuur met plesier gebruik, daar waar hulle dit nie
deur slegtigheid en onbekwaamheid laat verval het nie. Ons mense kan
werk. Dis die reël. Daar is egter die uitsonderings op die reël ook.

Waar ons toenemend op mekaar aangewese is, is dit ook noodsaaklik dat
ons volkseie arbeid moet aanwend bo die volksvreemde arbeid, omdat
hulle ons geld teen ons gebruik, en volksvreemde arbeid toenemend ook
'n veiligheidsrisiko word. Maar te dikwels word die argument gehoor
dat van ons eie mense slegter werkers is as volksvreemdes. Inderdaad
is daar van ons mense wat geen werksetiek het nie, maar ook hulle is
die uitsondering, en verteenwoordig nie die reël nie. Maar ook in ons
optrede, moet ons nie reëls verander nie: as 'n boer bereid is om sy
volksvreemde werker ses en dertig jaar lank elke dag te maan om die
hek agter hom toe te maak, is dit seker nie te veel gevra om ons
volkseie arbeiders twee maande te vra om die hek toe te maak nie, in
plaas van net te aanvaar hy sal die hek toemaak.

Laat ons ons nie moedeloos maak met uitsondering-verraaiers nie, en
laat ons nie volkseie arbeid vermy omdat ons verkeerdelik van die
uitsondering 'n reël wil maak nie. Maar inderdaad moet die
uitsondering, of hy nou 'n verraaier is of te sleg is om te werk,
uiteindelik as randeiers uitgestoot word. Die eise van ons stryd, om
oorlewing en vryheid, laat geen plek vir remmende uitsonderings nie.

No comments: