Monday, November 23, 2009

Gert Opperman se wanvoorstelling van die waarheid

Na aanleiding van die berig in Beeld op 19 Nov 2009: "*16 Desember: 'Geen
ontwrigting geduld'*", rig die Pretoria Verkennersjeug graag 'n versoek aan
Gert Opperman, HUB van die Voortrekkermonument, om by die waarheid te bly
wanneer hy publieke verklarings maak.

Die Pretoria Verkennersjeug is nou keelvol vir die voortdurende verdraaings
van die waarheid wat deur Gert Opperman verkondig word ten einde sy swak
saak in die publiek te regverdig. Deur die verspreiding van wat ons beskou
as blatante leuens en halwe waarhede skep hy verskeie wanindrukke.

Opperman se verklaring dat die Pretoria Verkennersjeug buitelands besoekers
beledig het, is 'n blatante leuen. Daar was geen buitelandse besoekers
tydens die geskenkwinkelaksie teenwoordig nie. Indien hy hierdie leuen nie
self geskep het nie, moet hy in die vervolg seker maak van die feite wat hy
ontvang voor hy dit in die publiek verkondig.

Die vergadering wat vir Saterdag 14 November by die Monument gereel was, was
'n inisiatief van Orania se jeugbeweging. Opperman het egter die indruk
geskep dat dit die Pretoria Verkennersjeug en/of Bravoland was wat hierdie
vergadering gereel het. Dit het hom so gepla dat hy vir 'n
regsverteenwoordiger opdrag gegee het om alle Verkenners te verban van die
Voortrekkermonument en Bloedrivier. Die Verkennersjeug en Bravoland is as
gaste genooi saam met verskeie ander vryheidsgesinde jeugorganisasies. Ons
dink eerder Opperman wou die vergadering in sy geheel kelder, omdat hy hom
deeglik van ons volk en sy vryheidstrewe gedistansieer het.

Wat die sluit van die hekke tydens die 60-jarige bestaansherdenking betref
het Opperman weereens net aangeneem dat dit die Verkennersjeug is. Weereens
het hy nie seker gemaak van sy feite nie.

Dit is opvallend dat Opperman poog om van hierdie kultuur saak, 'n politieke
saak te maak, deur na die Pretoria Verkennersjeug as "regs" te verwys. Mens
kan seker aanneem uit hierdie uitlating van Opperman dat hy homself as
"links" beskou en dit wil verkondig aan die wêreld. As "regs" dieselfde as
volksgerig en behoudend sou beteken, is ons trots op die etiket wat Opperman
aan ons gegee het. Dit sou egter beteken dat "links" dieselfde beteken as
"volksvyandig" en mens kan maar net wonder of Opperman net so trots sal wees
op hierdie etiket wat hy aan homself gegee het.

Dit is egter hartseer dat Opperman telkens politiek by die
Voortrekkermonument en Bloedrivier moet insleep en dit is net so hartseer
dat hy sy eie politieke voorkeure op die Voortrekkermonument en Bloedrivier
wil afdwing. Sy poging om verlede jaar se Gelofteherdenking by Bloedrivier
in 'n Versoeningsdag viering te verander, is 'n sprekende voorbeeld van
hierdie feit. So ook sy alewige integrasie pogings by die
Voortrekkermonument, soos die sanger uit Soweto wat Boereseun gesing het
tydens die 60ste herdenking van die opening van die Voortrekkermonument en
die kleurling model wat halfnaak op die senotaaf afgeneem is. Polities
gemotiveerde integrasie van hierdie aard, sal lei tot die kulturele
disintegrasie van die Afrikaner en mens kan maar net wonder of dit Opperman
se plan is.

Ten slotte moet Opperman kennisneem dat die Afrikaner NOOIT bloot sal toekyk
terwyl sy erfenis vertrap word nie. Die verset teen die vertrapping sal
aanhou en geen dreigemente sal dit stop nie. Opperman moet vir sy eie
onthalwe ook nie die wanopvatting koester dat dit net die Verkenners is wat
hierdie verset instand sal hou nie, dit mag hom nog baie ontnugtering in die
toekoms besorg.

Mag die volksgerigde Afrikaner homself egter altyd by die waarheid hou,
selfs wanneer hy verset pleeg.

Werner Smook

Pretoria Verkennersjeug


------------------------------------------------------------------------

Die berig in Beeld wat betrekking het:

http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/ff5a908d0e61402d9d787c94694730ab/19-11-2009-10-43/16_Desember_%E2%80%98Geen_ontwrigting_geduld%E2%80%99

--
Werner Smook
Voorsitter: Pretoria Verkennersjeug

No comments: