Friday, November 20, 2009

Generaal Opperman belet sekere Boere van die Voortrekkermonument en Bloedrivier

'n Sterk polisieteenwoordigheid sal rondom 16 Desember by die
Voortrekkermonument in Pretoria en die Bloedrivier-gelofte*terrein
heers om ontwrigting van enige aktiwiteite te voorkom.

Genl.maj. Gert Opperman, uitvoerende hoof van die monument, het gister
gesê geen ontwrigting sal meer geduld word nie.

Dit kom nadat 'n groep jeugdiges sowat 'n week gelede die program ter
viering van die monument se 60ste bestaansjaar in die wiele wou ry.

Hulle het gepoog om die hoofhekke met kettings en slotte te sluit om
gaste toegang tot die terrein te ontsê.

Die polisie ondersoek dié voorval tans en regstappe kan teen die
oortreders volg.

Opperman het gesê daar was ook vroeër vanjaar nog twee voorvalle toe
lede van 'n "regse jeugbeweging" onder meer die geskenk*winkel beset
het en na-uurs met aflospersoneel en buitelandse besoekers by die
Erfenissentrum ingemeng en hulle beledig het.

In Desember verlede jaar het nog 'n groep studente die ingang na die
wa-laer by Bloedrivier versper, terwyl lede van Dogter van Sion by die
hek ingejaag en in die proses byna iemand raak gery het.

Volgens Opperman moet die nodige voorsorgmaatreëls getref word om 'n
herhaling van die voorvalle te voorkom.

'n Woordestryd woed die afgelope maand tussen Opperman en die
Verkennersbeweging.

Mnr. Henk van de Graaf, president van die beweging, het gesê hulle het
vroeër kapsie gemaak omdat die monument se direksie tydens die 60ste
bestaansjaarvieringe "agteroor gebuig het en musikante van Soshanguve
en Soweto ingesluit het.

Dít terwyl dit eerder 'n suiwer Afrikaner-fees moes wees".

Hy het gesê die beweging het 'n prokureursbrief van Opperman gekry
waarin lede prakties toegang tot die monument en sy talle geriewe
verbied word, asook by Bloedrivier.

"Hierdie word gesien as 'n daad van aggressie deur Opperman na
aanleiding van herhaalde meningsverskille oor voorvalle wat hy geskep
of toegelaat het om plaas te vind wat volgens die beweging nie pas by
die aard en kultuur van die monument nie."

Van de Graaf het gesê dis 'n absolute skande dat juis diegene wat die
belang van die monument op die hart dra en as waghond vir
volksvervreemding daarvan optree, toegang verbied word.

Volgens Van de Graaf is dit tydens 'n gesprek met Opperman duidelik
gestel dat die Verkenners die monument so heilig beskou dat hulle met
geen optrede die waardigheid daarvan sal aantas nie – "só anders as
die modeparades, popkonserte en onvanpas geklede vroue wat op die
senotaaf vir foto's poseer en wat onder die bestuur van Opperman
plaasvind".

Opperman het gesê hy sal nie skroom om 'n interdik teen mense te kry
wat aktiwiteite wil ontwrig nie.


http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/ff5a908d0e61402d9d787c94694730ab/19-11-2009-10-43/16_Desember_%E2%80%98Geen_ontwrigting_geduld%E2%80%99

No comments: