Friday, May 15, 2009

"PRAAG - Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep"

PRAAG steun belastingweerhouding in Pretoria

Vrydag, 15 Mei 2009 13:53 Dan Roodt

Ná die aankondiging van 'n dubbele dosis erfbelasting in een maand
deur die sogenaamde "Tshwane"-metro, steun PRAAG die oproep van die
Pretoriase belastingbetalersvereniging aan inwoners om hul munisipale
betalings in 'n trust in te betaal, waarna slegs die gedeelte vir
water en elektrisiteit aan die munisipaliteit oorbetaal sal word.
Gegewe die swak finansiële bestuur van die ANC-stadsraad en miljarde
rande se skuld wat nie ingevorder word nie, is dit net logies dat
Pretorianers nou die voorbeeld van Sannieshof en 'n twintigtal ander
munisipaliteite moet volg wat reeds met aktiewe belastingweerhouding
besig is ná dispute met daardie stadsrade verklaar is.

Die stryd om politieke beheer van Pretoria se munisipaliteit het begin
en die leier van PRAAG, dr. Dan Roodt, het by die Vryheidsfront Plus
aangesluit met die doel om saam te werk om in 2011 'n Vryheidsfront
Plus-meerderheid in die sogenaamde "Tshwane"-metro te behaal.

"Beheer oor die Pretoriase munisipaliteit is van strategiese belang
vir Afrikaneroorlewing in Afrika en Suid-Afrika. Die bestaande
Afrikanerdemografie in die stad skep die moontlikheid om deur harde
werk en 'n grootskaalse politieke veldtog 'n algehele meerderheid in
die volgende munisipale verkiesing te behaal. Al 700 000 Afrikaners in
die gebied moet gemobiliseer word om te registreer en te stem," het
dr. Roodt gesê.

"Daar kom 'n tyd in die bestaan van elke individu en elke volk dat hy
moet kies tussen sy voortbestaan en sy ondergang. Die Afrikaner het
nou by daardie punt gekom. Dit is nóú of nooit. Óf ons gaan deur
misdaad en regstellende aksie die land uit gedryf word, óf ons gaan
hergroepeer en soos een man vir die Vryheidsfront Plus in Pretoria
stem."

Dr. Roodt het die DA van middelmatigheid en 'n gebrek aan visie
beskuldig. "Helen Zille maak baie lawaai, maar sy beskik oor geen
werklike plan om die langtermynhegemonie van die ANC te stuit nie. Dis
net 'n kwessie van tyd alvorens die Xhosa-migrasie vanuit die Oos- na
die Wes-Kaap die party uit die stoel gaan lig. In Pretoria het die DA
die aanvanklike naamsverandering gesteun en het hom as 'n linkse,
sosialistiese en multikulturele party geposisioneer wat afsydig
teenoor Afrikanerbelange staan."

Hierteenoor beskik die Vryheidsfront Plus oor verbeeldingryke planne
om die demografie van Pretoria te stabiliseer en te sorg dat, as die
stad eers herower is, dit permanent in Afrikanerbesit sal bly en
sodoende op plaaslike vlak selfbeskikking vir die Afrikaner te
verseker.

'n Vergadering van PRAAG-intellektuele en -aktiviste is vir aanstaande
naweek belê om die organisasie se bydrae tot die stryd om Pretoria te
bespreek. Dr. Roodt het ook 'n beroep op alle Afrikaanse organisasies
gedoen om hul steun aan die Pretoriaplan toe te sê.

"Ter wille van die oorlewing van die Afrikaner en Afrikaans, is dit
absoluut noodsaaklik dat ons die Slag van Pretoria móét en sál wen."

No comments: