Tuesday, May 5, 2009

Eenheid! Die VVK en VF+ Praat Saam!

E E N H E I D !

Op Maandag, 4 Mei 2009 het die Studiegroep vir Eietydse Geskiedenis
(SEGE) 'n middagete-geleentheid aangebied waartydens Dr. Pieter
Mulder, leier van die VF+, die gasspreker was. Dr. Mulder het sy
indrukke en ervarings rondom die parlementêre politiek, met verwysing
na die kwessie van selfbeskikking en die pas-afgelope verkiesing,
weergegee.

In vraetyd is Dr. Mulder spesifiek uitgevra oor die VF+ se houding
rondom die buite-parlementêre verkiesingsinisiatief van die VVK. Die
strekking van sy antwoorde was die volgende:

1. Die VF+ beskou die vestiging van groeipunte as die basis waarop ons
selfbeskikking-strewe gerealiseer kan word. Sulke groeipunte, waar ons
volk fisies gekonsentreer word, moet die fondament wees waarvandaan
ons stelselmatig vorder vanaf derdevlak (plaaslike-) regering na 'n
aanspraak op uiteindelike outonomie oor so 'n gebied.

2. Die VF+ dra egter kennis van die VVK-inisiatief; besef dat die
stryd multi-dimensioneel is en gevolglik dat buite-parlementêre aksie
ook noodsaaklik vir die verwesenliking van selfbeskikking is; besef
dat daar vroeër of later 'n Raad verkies sal moet word in hierdie
verband; en het geen probleem daarmee dat VF+ kiesers ook op die VVK
se kieserslys registreer nie.


Kom ons kyk na die agtergrond van die huidige volkspolitiek waarteen
hierdie uitspraak van Dr. Mulder gemaak word:

1. Die Afrikaner Front, sambreel-organisasie met 25 volks-organisasies
op alle terreine (waaronder TLU SA, Radio Pretoria, die GHA,
Bravoland, die Verkenners en vele ander) het besluit om die
VVK-inisiatief amptelik te steun met 'n beroep op individuele lede om
as kiesers op die VVK-kieserslys te registreer.

2. Die HNP asook die AWB steun die VVK-inisiatief amptelik.

3. Aan die ander kant registreer talle VF+ ondersteuners ook as
kiesers op die Volksraad-kieserslys van die VVK; en die party-leiding
het geen probleem daarmee nie.

4. Ook talle ontnugterde Ja-stemmers van die 1992-referendum wat De
Klerk se beloftes van "wigte en teenwigte" geglo het (en net booswigte
daarvan gekry het) registreer óók op die VVK-kieserslys.

Uit al voorgaande maak ons by die VVK, wat niks anders as nederige
instrumente in diens van ons volk en sy vryheid wil wees nie, in
dankbaarheid die volgende gevolgtrekking:

Soos klein sytakke saamvloei om uiteindelik 'n groot rivier te word,
is ons volk besig om te versamel rondom die BEGINSEL van
selfbeskikking en die Volkeregtelik-voorgeskrewe prosedure om ons REG
daarop, wat skandelik geskend is, te herstel.


ONS HET EENHEID!

Paul Kruger

Sentrale Komitee: Volksraad Verkiesing Kommissie

No comments: