Monday, May 4, 2009

Netwerk vir gemeenskapsveiligheid

AfriForum
ʼn Inisiatief van Solidariteit
Mediaverklaring
4 Mei 2009

AfriForum loods Netwerk vir Gemeenskapsveiligheid

Die burgerregte-inisiatief AfriForum gaan op 21 Mei 2009 tydens ʼn
konferensie in Pretoria, ʼn netwerk vir gemeenskapsveiligheid loods om
onderlinge skakeling en inligtingsuitruiling tussen bestaande
gemeenskapsgedrewe veiligheidsinisiatiewe - wat binne die raamwerk van
die wet funksioneer - te bevorder.

AfriForum se Netwerk vir Gemeenskapsveiligheid sal ook die beste
praktyke van die bestaande plaaslike teen-misdaadinisiatiewe
identifiseer vir die daarstelling van gemeenskapsveiligheidsaksies
waar dit tans nie bestaan nie. Die kontakbesonderhede van bestaande
plaaslike teen-misdaadinisiatiewe sal ook as deel van die netwerk aan
lede van die publiek, wat graag by sodanige aksies wil inskakel,
beskikbaargestel word. Die konferensie wat op 21 Mei 2009 in Pretoria
gehou word, is die eerste van ʼn reeks landswye konferensies om die
netwerk uit te bou.

Volgens Nantes Kelder, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid,
bestaan daar letterlik honderde positiewe inisiatiewe landswyd waar
plaaslike gemeenskappe binne die raamwerk van die wet hulle
gemeenskappe teen misdaad help beveilig. Die sukses van hierdie
inisiatiewe kan volgens Kelder nog verder verbeter indien daar
onderling skakeling tussen gemeenskappe is oor watter aksies werk en
wat nie werk nie. "Dit is tyd dat die burgerlike samelewing ʼn
gesamentlike front vorm teen die misdaadvlaag wat die land teister,"
het Kelder bygevoeg.

Tydens die konferensie op 21 Mei 2009, sal doktor Johan Burger van die
Instituut vir Sekerheidstudies en doktor Rudolph Zinn van Unisa, ʼn
kort oorsig oor die misdaadprobleem en die modus operandi van
misdadigers gee, waarna verteenwoordigers van verskeie suksesvolle
teen-misdaad-gemeenskapsaksies in die Pretoria-omgewing hulle
werksaamhede met konferensiegangers sal deel. ʼn Bespreking sal dan
volg oor hoe onderling skakeling tussen die onderskeie aksies
volhoubaar aangepak moet word, hoe hulle mekaar kan bystaan en hoe die
publiek in groter getalle betrek kan word. Die onderskeie aksies
skakel reeds op plaaslike vlak met die SAPD, maar tydens die
konferensie sal ook oorweging geskenk word aan die noodsaak om op
provinsiale en nasionale vlak gesamentlik met die SAPD te skakel.

Gemeenskapsveiligheidsaksies wat verteenwoordigers wil stuur na die
konferensie wat op 21 Mei 2009 in Pretoria gehou word, of na die ander
konferensies wat daarna landswyd gehou gaan word, kan Nantes Kelder by
nantes@afriforum.co.za of telefoonnommer 086 10 200 30 kontak.


Nantes Kelder
Hoof Gemeenskapsveiligheid: AfriForum
084-619-8264
nantes@afriforum.co.za

No comments: