Friday, October 2, 2009

Nuus oor die VVK

Terwyl die duisend-talle oplaai van Vorm 1's wat hier by die Sentrale
Komitee opdaag en ons ewe gelukkig rondgejaag word deur telefoon- en
e-pos boodskappe, word dit daagliks duideliker: Hierdie volk mag dalk
tot onlangs nog in die nasleep van 1994 "verslae" gewees het, maar hy
is verre van "verslaan". Hy is besig om al sterker vir sy reg as
onafhanklike volk in die state-ry op te staan – en soos altyd wanneer
hy eers oortuig is van sy reg tot 'n sekere bestemming en die roete
daarheen, kan niks en niemand die Bittereinders (wat ook in ons geslag
na vore kom) van stryk bring nie.

Soos wat die maande aanstap word dit al duideliker dat ons 'n
volksgesag gaan verkies as regmatige stap van 'n regmatige proses in
ons stryd van vandag wat steeds die eeue-oue stryd van ons voorouers
is: Die stryd, nie om te oorheers en te verdruk nie, nie om in te palm
nie, maar bloot die stryd om voort te bestaan onder aardse wette wat
ooreenkom met ons begrip van die Vader se Wetgewing - die stryd om
toegelaat te word bloot om te mag bly wat ons is!

Die aantal Registrasie Beamptes kom tans te staan op tussen drie- en
vierhonderd; verder verwelkom ons 'n hele aantal nuwe Streek
Koördineerders: Martie Coetzer (Verkiesing Streek-Koordineerder - VSK
- vir die streek Oos-Vrystaat); Johan Fourie (VSK vir die streek
Natal); Pieter Marx (VSK vir die streek Trans Oranje); Gert Mÿburg
(VSK vir die streek Noord-Kaap); Hennie de Villiers (VSK vir die
streek Wes-Kaap) en Henriëtte van Niekerk (VSK vir Australië).

As Algemene Verkiesing Streek-Koördineerders (AVSK's) wat bestaande
VSK's help om Registrasie Beamptes aan te stel, het bygekom: P.S.
Kruger (Noord-Transvaal), Ds. Ferdi Devenier (Wes-Transvaal), B.C.
Buitendach (Wes-Transvaal), David Grobbelaar (Verre Noord-Transvaal),
Tiaan Theron (Karoo), D.G. Van der Merwe (Wes-Transvaal), B.J.M.
Rossouw (Oos-Vrystaat), O.W. Smith (Natal), Ds. Sarel Roets
(Noord-Transvaal) en Lelani Pelser (landwyd).

HARTLIK DANK aan al die nuwe hande!

Julle sal dalk hierbo opmerk dat daar skielik sprake is van 'n Streek
"Trans Oranje" (suid-, wes- en sentraal Vrystaat) wat nie meer "Trans
Gariep" genoem word, soos voorheen nie. Wel, dié situasie het sy
ontstaan te danke aan 'n kostelike insident op 'n huisvergadering by
Pieter Marx - waarvan hy julle meer sal kan vertel – en wat net gewys
het dat die VVK 'n naam sommer veel vinniger verander as die ANC!

Gedurende Julie-maand is Danie du Toit (VSK: Karoo-Streek) en ek deur
die Noord Kaap en Karoo met 'n vlugtige draai in die Wes-Kaap – en
behalwe vir die talle kieser-registrasies en Registrasie
Beampte-aanstellings, het dit 'n ervaring geword wat my altyd sal
bybly as een van die hoogtepunte van my volksbelewenis. 'n Tyd waarin
ek moed kon put deur weereens te ervaar dat die troue kern van hierdie
volk steeds gevind kan word oor die lengte en breedte van hierdie wye
land en dat daardie kern-oorblyfsel ook kerngesond is!

Intussen het Lelani Pelser by ons aangesluit as voltydse
Administratiewe Beampte en ons wens haar 'n dienstermyn toe wat 'n
waardevolle ervaring sal wees.

Lelani het pragtige VVK-hemde bestel wat einde September teen ongeveer
R200.00 elk gereed behoort te wees – skakel haar gerus om seker te
maak jy word een van die trotse eienaars.

Van hemde gepraat: Nuus uit Brittanje is dat die Jack Hindon
Verkenners (uitgedos in spoggerige VVK t-hemde) 'n Danie
Theron-gedenkkamp van 11-13 September net buite London gehou het ter
bekendstelling van die kieser-registrasie proses in daardie omgewing.
Dankie vir die inisiatief aan Willie en sy span! Dankie ook aan Die
Afrikaner vir 'n netjiese VVK-bylaag in die 4-10 September-uitgawe.
Dit is iets besonders, wat vir latere geslagte bewaar moet word.

Soos hierdie keer met Willie-hulle en Die Afrikaner die geval is, hoop
ons dat die volgende Onlangse Gebeure gaan berig oor wat JY gedoen het
om die volksverkiesing te verhaas. Onthou: JY is die volk! Ons sluit
af met 'n aanhaling van die Duits-Pruisiese filosoof Fichte wat dit
treffend geillustreer het in 'n tyd toe sy volk en staat in 'n
toestand van radeloosheid en verval was:

"…Und handeln sollst du so als hinge von dir und deinem Tun allein das
Schicksal ab der deutschen Dinge und die Verantwortung wär dein".

(overgesetsynde: …handel asof jou volk se noodlot van jou en jou dade
alleen afhang; asof die verantwoordelikheid joune alleen is…)

Groetnis van huis tot huis tot volgende keer,

Paul Kruger

Wednesday, September 30, 2009

Oranje Sake Instituut steun regstellende aksie

Luidens die ideologie van regstellende aksie val die klem daarop dat
die ongelykhede van die verlede reg gestel moet word. In die afgelope
15 jaar, is swartpersone bevoordeel deur swart ekonomiese bemagtiging
en affirmative action ten koste van Afrikaners. Die gevolge van
hierdie ongeregtighede was dat meer as 650 000 Afrikaners tans in
uiterste armoede in plakkerskampe moet leef en dat bykans een miljoen
in die buiteland werk moes gaan soek. Die nadelige, selfs rampspoedige
gevolge vir die hele land, spreek vanself en Eskom kan as so 'n
voorbeeld genoem word.

Hierdie rassediskriminasie teen ons volk wat geskep is, moet nou
dringend reg gestel word en daarom het die Oranje Sake Instituut
besluit op 'n regstellende aksie veldtog wat uit die volk, vir die
volk geloods word. Tydens die nasionale kongres van die Oranje Sake
Instituut op Saterdag 26 September 2009, het die teenwoordige Oranje
Sakekamers hulle verbind tot 'n volkseie indiensnemingsprogram.
Hierdie program het ten doel om werksgeleenthede te skep vir die
verarmde Afrikaner en ook om 'n alternatief te skep vir Afrikaners wat
die land wil verlaat weens 'n gebrek aan werksgeleenthede. Daar is ook
tydens die byeenkoms kennis geneem dat dit wat beoog word ondersteun
word deur die internasionale reg van volke en mense soos vervat in die
Handves van Menseregte van die Verenigde Nasies.

Die ANC regering het oor die afgelope 15 jaar 'n kultuur geskep waarby
hulle slegs na hulle eie kieserskorps en gevolglik slegs na die
swartmassas se belange omgesien het. Weens die wanbalans wat deur die
ANC se optrede geskep is, is daar geen ander keuse as om hierdie
kultuur, van sien om na jou eie, na te volg nie.

Die Oranje Sake Instituut doen ook 'n beroep op volksgenote om oor te
skakel na volkseie arbeid, indien hulle dit nie reeds gedoen het nie.
As daar in ag geneem word dat 80% van huisbrake geskied a.g.v binne
inligting, is dit 'n sekuriteits risiko om volksvreemdes die huiswerk
te laat doen. Verder ontneem elke pos wat gevul word deur 'n
volksvreemde, 'n volksgenoot van 'n geleentheid om uit die kloue van
armoede op te staan.

Ben Geldenhuys
Voorsitter
Oranje Sake Instituut

VVK verklaring t.o.v. Vegkop "Volksvergadering".

OPENBARE VERKLARING DEUR DIE VOLKSRAAD VERKIESING KOMMISSIE (VVK) TEN
OPSIGTE VAN DIE "VOLKSVERGADERING" TE VEGKOP, 25-27 SEPTEMBER 2009

1. Die VVK was in kennis gestel van bogenoemde byeenkoms van
volksgenote onder inisiatief van Mnr. Frikkie Strauss en die
"Volksvergadering Reëlingskomitee", welke byeenkoms na berig word
bygewoon was deur ongeveer 400 tot 500 persone.

2. Die VVK was nie op die byeenkoms verteenwoordig nie; soos wat
geen organisasie klaarblyklik daar verteenwoordig was nie aangesien
dit 'n byeenkoms van individuele volksgenote was buite
organisasie-verband.

3. GEEN BESLUIT is namens die VVK op die byeenkoms geneem of namens
die VVK daar oorgedra nie.

4. Die VVK is ten gunste van dialoog – dialoog, soos by Vegkop,
tussen volksgenote onderling en ook dialoog tussen volksgerigte
organisasies.

5. Terwyl die missie van die Vegkop-byeenkoms was om te besin oor 'n
strategie waarvolgens ons volk kan terugkeer na soewereiniteit binne
Gelofteverband, is die VVK reeds sedert sy ontstaan juis op so 'n
strategie gebou – 'n strategie ten volle verantwoordbaar in terme van
die Suid-Afrikaanse Reg, in terme van die Internasionale Reg, en
belangrikste van alles – in terme van God's Woord.

6. Wat 'n volksgesagsliggaam betref, bly die VVK se standpunt dat so
'n liggaam slegs op een enkele wyse tot stand gebring kan word; en dit
is deur DIE VOLK in sy groots-moontlike geheel behoorlike geleentheid
te bied om aan die verkiesing van so 'n liggaam deel te neem. Dit is
juis ook die proses wat deur die VVK as Verkiesingskommissie
gefasiliteer en deurgevoer word.

7. As Verkiesingskommissie wat ten volle onpartydig en onafhanklik
moet wees, kan en sal die VVK nie van ander organisasies of
inisiatiewe deel word nie.

8. Kiesers wat op die VVK se Kiesregister registreer, kan uiteraard
besluit om hulle persoonlike inligting ook aan ander organisasies of
inisiatiewe bekend te maak – van die VVK se kant af, kan en sal sulke
data met geen ander organisasie of inisiatief gedeel word nie.

Uitgereik deur Paul Kruger (namens die Sentrale Komitee van die
Volksraad Verkiesing Kommissie) op 30 September 2009.

Tuesday, September 29, 2009

Kultuuraand : 9 Oktober 2009 Bloemfontein

BLOEMFONTEINSE KULTUURVERENIGING

('n Gesinskultuurvereniging vir Afrikaners)

Ons leuse: 'n VOLK RED HOMSELF

Liewe Kultuurvriend,

2009 GAAN SNEL VERBY

Die uurglas vir 2009 is vinnig besig om leeg te loop en wie sou dit
nou aan die begin van die jaar kon dink! Hier is ons nou al by ons
laaste kultuurgeleentheid vir hierdie jaar, behalwe vir ons
betrokkenheid by Geloftedag op 16 Desember.

Jou vriendelike uitnodiging lyk só:

Na aanleiding van 'n versoek by verlede jaar se dinkskrum, kyk ons
hierdie keer na die betekenis van ons Gereformeerde Belydenisskrifte
in die huidige tydsgewrig en die jare wat voorlê. Gelowige Afrikaners
wonder soms of ons Belydenisskrifte tans nog relevant kan wees. Kom
luister gerus en kom praat saam.

Datum en tyd: Vrydagaand, 9 Oktober 2009 om 19:00
Plek: Ouditorium, Bybelhuis
Gespreksonderwerp: Die Belhar Belydenis - wat is die bohaai?
Gespreksleier: Professor Johan Janse van Rensburg
Prof. Johan is geen onbekende by ons nie en kan onderhoudend en met
gesag oor geloof- en kerksake gesels.

Verder sluit ons program in:
• Opening – ds Gert Terblanche.

• Paul Kruger - vas soos 'n berg! (ds Bertie de Lange).
• Koorsang.
• Voorlees van 'n humoristiese skets.
• Lekker saamsing.
• Breek 'n lans vir Afrikaans - het jy dit gedoen? Kom deel met ons.


Ons volk is met die rug teen die muur - in baie gevalle 'n banneling
in ons eie land. Daarom is dit nodig dat volksgenote rondom ons
geloofsbegronding, ons taal en ons kultuureie mekaar moet versterk om
die aanslae te kan afweer. Kom ons doen dit ook hierdie keer.

Vriendelike kultuurgroete van huis tot huis.
Sam de Klerk, 24 September 2009. Tel. (051) 446-1899

Friday, September 25, 2009

Verkennerskongres 3 Oktober 2009

U word harlik uitgenooi om die Transvaalse Verkennerskongres by te woon.
Dit sal plaas vind op 3 Oktober 2009 by die Willie Marais
Afrikanersentrum in Pretoria. Die kongres sal begin om 9 uur die
oggend.

Na afloop van die kongres sal daar 'n bring en braai geleentheid wees.
Bring u eie drinkgoed saam. Kom geniet dit gerus saam met ons.

Laat weet asseblief indien u beplan om die kongres by te woon, sodat
ons die nodige voorsiening kan maak.
Let asseblief daarop dat u ledegelde opbetaal moet wees voordat u
stemreg by die kongres sal hê. Ledegelde kan by die kongres self ook
betaal word.
Ons herinner u dan graag weer daaraan dat u voorstelle vir
besprekingspunte asook grondwetwysigings aan onderstaande e-pos adres
kan stuur.
Indien u voorstelle het vir toekennings wat by die kongres gemaak moet
word, moet u dit asseblief dadelik ook aan die e-posadres stuur.

Vir meer inligting, kontak gerus vir Werner Smook by:

wernersmook@gmail.com

of 084 271 4777
Verkennergroete

Monday, September 21, 2009

Bravoland Kersfees hulpaksie 2009

Kom ons help ons mense


Bravoland se inwoners het die afgelope jare telkens hulle hand in die
sak gesteek om ons verarmde volksgenote te help. Dit is daardie deel
van ons volk wat nie oor 'n inkomste beskik nie weens die onreg van
"verkeerdstellende aksie" van hierdie owerheid.
Die verarming neem toe onder ons mense – kinders wat die voorreg van
skoolgaan nog nooit beleef het nie, wat nog nooit die feestelike van
Kersfees kon ervaar nie, wat nog nooit skoene gehad het nie……. Dit is
ons mense, en dit is nie hulle skuld dat dit so is nie.
Bravoland wil weer vanjaar help waar dit nodig is. Die gemeenskap wat
daardie hulp dringend nodig het, is reeds geïdentifiseer. Nou moet
daar net planne gemaak word om daardie gemeenskap gedurende die
Kersseisoen iets te laat beleef van die vreugde van Kersfees. Die
geestelike waardes moet saam met die stoflike noodsaaklikhede geskenk
word aan hierdie mense wat die gevoel van honger en koudkry so goed
ken.
Bravoland het 'n verantwoordelikheid wat nagekom moet word. Daardie
verantwoordelikheid word nou gerugsteun deur 'n wonderlike vriend wat
R1.00 skenk vir hierdie aksie vir elke R1.00 wat deur Bravolanders
bewillig word, tot 'n maksimum bedrag van R10,000-00 Dit beteken dat
ons hierdie Kerstyd tot soveel as R20,000-00 kan aanwend om ons eie
mense te bevoordeel op besondere wyse.
Laat ons dan alles in die stryd werp om ons deel van R10,000-00 in die
komende maande bymekaar te bring sodat ons nie net die vreugde van
Kersfees oordra nie, maar ook in die dae meer permanente verligting te
bied as net Kersdag.
Ons roep u op tot diensbaarheid – ons is immers Christen-Afrikaners
wat uit dankbaarheid ook hierdie jaar ons weldaad wil verrig.
Elders op die Forum sal u die bankbesonderhede vind – en u is welkom
om meer as een keer in die volgende maande 'n skenking te maak.
Kom ons probeer om daardie R10,000-00 in te samel met 'n gejubel uit
dankbaarheid vir ons eie voorregte wat ons so onverdien uit die
Vaderhand ontvang. As ons daarin slaag, sal ons vriend nog R10,000-00
daar byvoeg.
Wat 'n heerlike roeping om te vervul.

Vir meer besonderhede , besoek :
http://www.bravoland.co.za/forum/index.php/topic,4963.0.html

Friday, September 18, 2009

Radio Pretoria vier sestiende bestaansjaar

Dit is 'n groot eer om aan ons eie Radio Pretoria geluk te wens met 15
jaar se diens aan die volk. Meeste van die Bravolanders is in hulle
20's en dus het hulle groot geword met Radio Pretoria. As ek die
volwasse volksliefde van hierdie jongmense aanskou kan ek nie anders
om te besef die groot invloed wat Radio Pretoria het op die volgende
geslag. En dit is tog waaroor ons stryd gaan, om ons volskeie te
bewaar vir die volgende geslag. Ek kry die vyand jammer wat die
volgende geslag Radio Pretoria luisteraars gaan teenstaan!

Ons besef nie altyd hoe bevoorreg ons is om 'n volksradiostasie te he
nie. Hoe bevoorreg ons is om in hierdie land nog met Die Stem wakker
gemaak te word. Om die nuus suiwer te hoor. Om op hoogte te bly van
wat in ons vryheidstrewe aan die gebeur is. Hiervoor se ons dankie aan
Radio Pretoria. Ook se ons dankie aan die mense wat by Radio Pretoria
werk vir die opofferings wat hulle maak. Dankie ook dat hulle ons
herinner dat die Vierkleur weer sal wapper. Want in ons stryd is dit
so maklik om moedeloos te raak, tog is Radio Pretoria altyd daar om
aan die moedelose weer hoop te gee.

My verjaarsdagwens vir Radio Pretoria, is dat al julle wense sal waar
word. Dat die Vierkleur weer sal wapper en dat julle waarlik grensloos
sal wees!

Die uwe,

Ben Geldenhuys
President
Bravoland

Thursday, September 17, 2009

Die Afrikaner Vryheidsbulletin

Geagte volksgenoot,

Hiermee die jongste uitgawe van die Vryheidsbulletin. Dit bevat
inligting wat vir elke Boer/Afrikaner van groot belang is. In 'n
historiese perspektief op die beplande volksvergadering val die
soeklig op die rol wat die vergadering in die herstel van ons vryheid
behoort te speel teen die agtergrond van die bydrae wat twee
soortgelyke vergaderings tot die herstel van ons vryheid in ons
geskiedenis gelewer het.

In 'n ander artikel word verduidelik hoe ons ons erfgrond kan bekou
deur alles in ons vermoë te doen om die kanker van grondhervorming uit
te roei. Lees die artikel om uit te vind wat u persoonlike bydrae
daartoe kan wees.

Besonderhede oor al die inligting omtrent die volksvergadering en baie
ander interessante inligting wat op www.volksvergadering.co.za
verskyn, word ook gegee.

In die paar dae wat nog oor is voor die volksvergadering wil ons graag
die maksimum aantal volksgenote bereik en daarom wil ons elke persoon
wat hierdie Vryheidsbulletin ontvang versoek om dit aan soveel
moontlik ander volksgenote te stuur. Dankie vir u meelewing met
hierdie saak.

Frikkie Strauss

Nms Dagbestuur van die BVI

Dokument beskikbaar by :
http://groups.google.com/group/onsstem-van-die-nasie/browse_thread/thread/bff0533d33766f13

Tuesday, September 15, 2009

Paul Krugerdag - 10 Oktober 2009 Paardekraal

Arena Program Paul Kruger Fees 10 Oktober 2009 te Paardekraal Monument
10:00 - 10:30 Vlag optog
10:30 - 10:45 Vlag voorstelling
10:45 - 11:00 Vlag hysing
11:00 – 11:15 Opening – Ds. Johan
11:15 - 11:30 Spreker – Ben Geldenhuys
11:30 - 12:30 Volkspele
12:30 - 13:30 Pouse
13:30 - 14:30 Penkoppe – Junior Boere Orkes
14:30 - 15:30 Fourie Broers - Boere orkes - Tradisioneel
15:30 - 16:30 Hekkie de la Guerre
16:30 – 16:45 Bedankings, Vlagstryking, Afsluiting
17:00 – laat Bring en braai
Groot skerm rugby – Transvaal vs. W.P.

Deurlopend:
Stalletjies
Skyfskiet
Boeresport
Perdekar ritte

Thursday, September 10, 2009

Program Volksvergadering

VOLKSVERGADERING

'N OPROEP AAN ALMAL WAT VERLANG NA VRYHEID VIR ONS VOLK

"Die vryheidstryd, as dit eenmaal begin, word van die vader bloeiend
deur die seun geërf, en die stryd sal altyd gewen word, hoe moeilik
ookal ".

Hierdie woorde kom van George Byron, 'n man in wie se gees die
vryheidsvlam onuitblusbaar gebrand het. Hy kon dit sê omdat die drang
na vryheid deur God self in ons gees ingeskape is en dus
onvernietigbaar is.

Die vryheidsgees vind ook neerslag in die lewe van volkere en ons volk
is as't ware daarmee gebore. Jan van Riebeeck het aan die Kaap
geland, slegs vier jaar na die einde van die tagtigjarige oorlog
waarin die Hollanders geveg het om vry te word van Spaans/Roomse
oorheersing. Die vryheidstema het soos 'n goue draad dwarsdeur ons
volk se geskiedenis geloop en ons voorours was bereid om groot offers
te bring vir die verkryging en behoud van vryheid.

Vandag is ons weer 'n verslane en verknegte volk, maar die
vryheidsvlam het reeds weer in die harte van die harde kern van ons
volk ontbrand en dit is hierdie manne en vroue wat opgeroep word na
die volksvergadering. Oor die naweek van 25 - 27 September sal ons
weë moet vind om die vryheidsvuur in die harte van ons volksgenote aan
die brand te steek van "waar Tafelberg begin tot ver in die
Transvaal". Dit sal die grondslag lê vir die uiteindelike herstel van
ons vryheid en soewereiniteit waardeur ons in staat gestel sal word om
'n volkshuishouding tot eer van God te stig.

Die beplande program is hierby ingeslote. Dit sal u help om u voor
te berei vir deelname aan die besprekings. Die stuk, aanvullende
inligting bevat ander tersaaklike besonderhede omtrent
kampeerreëlings, metodiek van die vergadering, besprekings,
kontaknommers vir navrae ensovoorts. Bestudeer dit asseblief deeglik.

Ons webtuiste by www.volksvergadering.co.za gee ook meer inligting
oor die vergadering en ons beplan om dit op 'n deurlopende basis
verder op te dateer. Besprekings kan ook aanlyn gedoen word. Onthou
asseblief dat besprekings voor 19 September gedoen moet word.

Die volksvergadering is die eindresultaat van twee jaar se omvattende
raadpleging met mede-volksgenote, intensiewe beplanning en baie ure
van harde werk. Ons is daarvan oortuig dat daardeur 'n groot tree in
die rigting van die herstel van ons vryheid gegee sal word. Ons glo
dat geen Boer/Afrikaner dit sal wil misloop nie en ons hoop om elke
leser van hierdie brief daar te sien.

Volksvergadering Reëlingskomitee


Dokumente beskikbaar by :
http://groups.google.com/group/onsstem-van-die-nasie/browse_thread/thread/97afd0239aaaa807

Direkte skakel na program :

http://www.facebook.com/topic.php?uid=67798931573&topic=10595

Paul Krugerdag - 10 Oktober 2009 Paardekraal

Vandag is daar presies 'n maand oor voor die Paul Krugerfees te
Paardekraal. EK kan egter noem dat Alwyn uitstekend gedoen het met die
reelings. Daar is nou wraggies nie 'n ding uit plek nie.

So bietjie terugvoer oor die dag. Dit is nou nie meer net 'n dag nie,
maar 'n naweek. Die Vrydagaand gaan daar weer vir Oom Paul se
standbeeld 'n ampserp op gesit word. Dit is die derde keer wat dit nou
gebeur en ons kan seker al van 'n instelling praat. Dit is ook 'n
gewilde instelling, verlede jaar het ons bykans 'n 100 mense daar
gehad sonder dat ons werklik mense genooi het. Hierdie jaar sal daar
verseker meer mense daar wees!

Die ander goeie nuus is dat die beveiling van Paardekraal teen
volgende week klaar sal wees. Wat beteken dat dit nou baie veilig sal
wees om daar te kamp. Een van die Paardekraal Verkenners wat ook 'n
elektrisien is, het onderneem om die badkamers met krag en warmwater
te voorsien voor 10 Oktober. Gevolglik verwag ons baie meer kampers
vir daardie naweek. Die reuse bedrag van R75-00 per staanplek per nag
sal gehef word. Hierdie bedrag sal gebruik word om die kamp gebied
verder te verbeter.

Die gewilde skyfskiet sal weer aangebied word en daar sal ook 'n
Boeresport stalletjie wees, waar daar bokmis gespoeg sal word, paal
gegooi sal word en ook baksteen gegooi sal word. Deur die loop van die
dag sal daar sakressies en toutrek ook wees.

Die gewilde friesperde sal ook weer daar wees en ek het verneem van 'n
perdekarretjie waarop oud en jonk sal kan ry.

Aangesien ons Oom Paul se verjaarsdag vier, is daar besluit op 'n
hoogs tradisionele fees. Daar kom blykbaar 'n Tannie wat gaan
Boerebrood bak. Verskeie Boere-orkeste gaan optree waaronder die
gewilde Penkoppe ook is. Natuurlik is die Volkspele ook wees daar,
want geen fees by Paardekraal sal volmaak wees sonder die Volkspele
nie.

Van die stalletjies wat al bevestig het is:

Camdix - met hulle militaria uitstalling.
GK267 - Volkseie aandenkings
Willie Bienedell -Volkseie boeke
Horst - Volkseie boeke
Orania beweging - Inligting m.b.t Orania
VVK -Registrasie en inligtingspunt
HVO - Oranjekas, HVO en enige ander inligting m.b.t die Volksekonomie
Verkenners - Inligting oor die Verkenners
CVO Brandwag - Inligting oor die CVO bestel

Die kosstalletjies sal deur verskeie volkseie kerke behartig word.

Persone wat die fees bywoon is welkom om in tradisionele drag te kom,
ons volk het niks om voor skaam te wees nie en gevolglik sal ons met
trots ons erfenis uitleef!