Thursday, August 12, 2010

Onderwys moet selfrespek herwin

Mediaverklaring met verwysing na die onderwysstaking en die SAOU se rol
daarin.

Groete

Leonard

www.indicato.co.za______________________

Leonard van der Dussen

Besturende Direkteur

indicato_logo_jpg_jpg

Tel 012 664-2300 Faks 012-644-2902
Posbus 16985, LYTTELTON, 0140

1ste Vloer, Barclayssentrum, h/v Burgerlaan en Cantonmentsweg,

Lyttelton. Verwoerdburg

Pdf dokument hier beskikbaar :
http://groups.google.com/group/onsstem-van-die-nasie/browse_thread/thread/e16b1f945289b307

ONDERWYS MOET SELFRESPEK HERWIN
Indicato neem met skok en teleurstelling kennis van die
Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) se deelname aan die
staatdiensstaking en die samewerking met organisasies van
kommunistiese ingesteldheid soos Cosatu. Die ontevredenheid met
vergoedingsvlakke vir onderwysers word verstaan, maar die wyse waarop
hier opgetree word, kan nie goedgepraat word nie.
VERKEERDE WERKSWYSE EN KEUSE VAN BONDGENOTE
Die wyse waarop die stakings gereël word, met pette, T-hemde wat
uitgedeel en nog daarby "Bring jou vuvuzela!" en straatoptogte (SAOU
se WK Nuusflits 38 van 2010) verlaag onderwysers tot maar net 'n nog
'n groep werkers wat ronddans. Dit lyk of onderwysers - insluitende
die oorwegend Afrikaanssprekende korps van die SAOU - die vervlakking
wat menseregte en al die sosialisme wat deur Kurrikulum 2005 in die
skole ingedra is nou geabsorbeer het tot op 'n punt wat daar weinig
onderskeid tussen "leerders" en hulle onderwysers is as beide hulle
laat aftrek na 'n humanistiese lewensbeskouing van gelykheid en
menseregte.
Die SAOU se webblad dra verskeie dokumente van die staking onder
beheer van "Cde" (comrade) sus en so, 'n term waarvan Afrikaners en
regdenkendes wat die kommunisme verwerp en bestry, hulle voorheen
duidelik afgeskei het. Dis 'n skandelike dag dat die eens trotse SAOU
nou in hierdie geselskap voordeel soek.
VERGOEDING IS PROBLEMATIES
Dit is so dat die onderwysberoep oor baie jare beskadig is deur
vergoeding wat nie tred gehou het nie, en nie erkenning gegee het aan
die professionele status en besonder belangrike posisie wat dit in 'n
samelewing behoort te hê nie. Dit is ook op die oomblik waar dat
onderwysers gerus beter vergoed mag word, maar as die onderwysberoep
homself verlaag tot stakings waarin hulle boonop soos 'n klomp
kommunistiese arbeiders met pette, T-hemde en vuvuzelas die strate
invaar, doen hulle self mee aan die afbreek van die status van
onderwys, wat in beginsel 'n edele en hoogstaande funksie in die
samelewing behoort te wees. Die regering moet ook verantwoordelikheid
aanvaar vir hierdie steurings in die onderwys as belastinggeld links
en regs vermors word en in korrupsie opgaan, terwyl onderwysers nie
opgebou word vir die belangrike rol wat hulle in die samelewing vervul
nie.
VERHOUDING MET PRIVAATSKOLE
Hierdie optrede van die SAOU is onverantwoordelik en rig onberekenbare
skade aan in die geloofwaardigheid van die uitoefening van dissipline
in skole. Dit is ook 'n terugslag vir die verhoudinge van die SAOU met
privaatskole – en veral daardie privaatskole wat ernstig probeer om
Afrikaanse christelike onderwys te handhaaf – as die SAOU met die
werkersvakbonde in kommunistiese wyse van optrede saamspan pleks
daarvan om sterker aansluiting te soek by die Afrikaanse christelike
onderwysinisiatiewe.
Ouers wat ernstig is oor die handhawing van onderwysstandaarde en die
opsoek van christelike onderwys vir hulle kinders, moet kennis neem
dat hierdie staking die antitese tussen staatsonderwys en christelike
privaatonderwys versterk, en dat die maak van besliste keuses tussen
staatsonderwys en christelike onderwys nie langer uitgestel kan word
nie.
Die christelike privaatskole, en meer spesifiek rolspelers soos die
Beweging vir Christelik-volkseie Onderwys (BCVO) en ARSO (Aksie
Reformatoriese Onderwys) wat tot 'n mate die ruimte vir Afrikaanse
christelike onderwys te beset, moet egter ook besin hoe lank die
onder-gekapitaliseerde situasie in hierdie geledere volhoubaar is.
Intussen moet ons almal die onderwysers wat hier aanhou werk - dikwels
met beperkte hulpbronne en met onbevredigende vergoeding – salueer.
Dat hierdie personeelkorps nie staak en ronddans nie, is 'n beskamende
voorbeeld vir die SAOU se lede en moet ouers opnuut laat dink in
watter skole kinders regtig leer hoe die gelowige sy lewe inrig, en
waar daar standhoudende onderwys is waar roepingsbewustheid sigbaar
is.
OPLOSSINGS
Die huidige regering het al dikwels gewys hoe min hy hom werklik aan
sy bevolking sy behoeftes steur en die staking gaan weinig invloed op
die regering hê. Dit breek onderwys net nog verder af.
Christelike Afrikaanse onderwys moet sy wortels terugvind, met insig
hoe om dit in praktyk werkbaar te maak in die Suid-Afrika van die
21ste eeu. Die pad vir gesonde onderwys is een wat los staan van die
huidige regering en aansluiting soek by westerse standaarde, en vrye
onderwys is wat onder eie beheer van die gemeenskap vir die die
onderwys opgestel is, staan, sonder regeringsinmenging.
Dit is bereikbaar deur privaatonderwys wat die Bybel bely en ken, en
wat die onderwyser betaal wat sy werk werd is (Lukas 10:7; 1 Timotheüs
5:18). Dit verg sake-insig wat skole tot stand kan bring wat nie net
in geestelikheid sterk staan nie, maar ook 'n realistiese bestaan en
loopbaan aan onderwysers kan bied. Die Afrikaner-sakemanne, geestelike
en onderwysleiers se kundigheid moet saamgevoeg word om skole op te
rig wat leerlinge en onderwysers vanself sal aantrek, en wat werklik
in die 21ste eeu onderwys lewer.
As die skande van die staking waarin Afrikaner-christenonderwysers nou
meedoen in die kommunistiese styl, kan dien om ons wakker te skud; om
ons op te roep om met wesentlike kapitaal skole te bou wat die mooi
ideale, maar sukkelende formate van Christelike Afrikaanse onderwys
tot die eer van God en die voordeel van hele samelewing kan sterk
maak, dan kan hierdie staking dalk tog 'n goeie uitwerking hê.
LEONARD VAN DER DUSSEN
Besturende Direkteur
Selfoon : 082-5732-732
Epos : lvddussen@indicato.co.za
AGTERGROND
Indicato Inligting (Edms) Bpk se aandeelhouers is al meer as tien jaar
betrokke by privaatonderwys. Die Indicato-kurrikulumstelling is 'n
standpuntinname vir Christelike onderwys en met spesifieke verwysing
na die Afrikaner se wese wat met calvinisme en veral die gereformeerde
belydenis wat geformuleer is vanuit die hervorming van die 16de eeu
verbind is.
Indicato sien die begrip "skool" in die 21ste eeuse konteks as 'n
instelling wat gesonde basisonderwys lewer, sport speel en
kultuuraktiwiteite beoefen sodat leerlinge binne hulle skool 'n
samelewingsverband ervaar met onderrig as die formele produk, terwyl
die wyse van hoe ons Suid-Afrikaanse samelewings sport- en
kultuurbeoefening aan dieselfde skool verbind, erken word.
Die sakemodel vir suksesvolle en volhoubare skole moet die 21ste eeu
verstaan, wat korporatiewe beeld en bedryf gebruik en nie in 'n
post-modernistiese samelewing nie op grootskaalse vrywilligers
lojaliteit kan reken om te groei nie.
Leonard van der Dussen is ook voorsitter van Laerskool Raslouw en
Hoërskool Raslouw, onafhanklike privaatskole wat deur 'n filiaal van
Indicato besit word en het dus aktiewe daaglikse insig in die
werklikheid van christen-Afrikaneronderwys.
Die volgende webblaaie word aanbeveel vir verdere agtergrondinligting:
www.indicato.co.za
www.raslouwskool.co.za
www.saonderwys.wordpress.com
www.saou.co.za
www.bcvo.co.za
www.arso.co.za
www.aros.ac.za

Wednesday, August 11, 2010

Boeredag Terugvoer

Maandag oggend 9 Augustus het so stil-stil aangebreek, maar in baie van ons het daar ‘n opgewondenheid geborrel. Vandag is Boeredag! Na die skriflesing en gebed het daar lieflike lofsange opgeklink, en ons het sommer dadelik geweet ons is presies waar ons hoort! Mense het van oral gekom, en selfs ook lang afstande afgele om die dag by te woon. Dit was wonderlik om te sien hoe almal met sakke en bokse klere, kos en selfs toiletpapier daar opdaag. Elkeen het gebring wat hy kon, of geskenk wat hy kon. Die Boeresport was heerlik, en groot en klein het deel uitgemaak van die pret. Die boerevolk het lanklaas so lekker gespeel . Dit was ‘n unieke geleentheid waar mense mekaar weer kon leer ken, en weer hande kon vat, al was dit so tussen rou eier en meel deur . Die jong manne het gedink hulle is sterk, en het die ou manne uitgedaag met die toutrek. Al was die jong manne baie meer, het die ou manne tog maar gewys dat die krag nog by die wysheid lê! Die Boeremusiek was iets besonders en dit is iets wat ons min sien. Mens se voete het sommer gejeuk toe hulle daar wegtrek met die instumente en die konsertina. Die atmosfeer en gees wat daar geheers het was uit die boonste rakke. Ons het weereens besef dat ons baie meer aandag aan hierdie deel van ons kultuur sal moet skenk. Die besluit om dit by ‘n arm blanke gemeenskap te hou, het dalk vreemd geklink, maar dit was nodig om te sien hoe die mense leef. Hulle is deel van ons volk. Hulle het baie moeite gedoen om die terein baie netjies te maak, en hul organisasie rondom die braaiers, gedekte tafels, en kos was uitstekend. Hierdie dag was gehou om die mense weer naasteliefde te laat ervaar, net boer-wees, sonder enige verdere kompilkasies en politiek. Ons het baie versoeke ontvang om meer gereeld so dag aan te bied, en dit is iets wat ons defenitief sal doen.