Wednesday, August 11, 2010

Boeredag Terugvoer

Maandag oggend 9 Augustus het so stil-stil aangebreek, maar in baie van ons het daar ‘n opgewondenheid geborrel. Vandag is Boeredag! Na die skriflesing en gebed het daar lieflike lofsange opgeklink, en ons het sommer dadelik geweet ons is presies waar ons hoort! Mense het van oral gekom, en selfs ook lang afstande afgele om die dag by te woon. Dit was wonderlik om te sien hoe almal met sakke en bokse klere, kos en selfs toiletpapier daar opdaag. Elkeen het gebring wat hy kon, of geskenk wat hy kon. Die Boeresport was heerlik, en groot en klein het deel uitgemaak van die pret. Die boerevolk het lanklaas so lekker gespeel . Dit was ‘n unieke geleentheid waar mense mekaar weer kon leer ken, en weer hande kon vat, al was dit so tussen rou eier en meel deur . Die jong manne het gedink hulle is sterk, en het die ou manne uitgedaag met die toutrek. Al was die jong manne baie meer, het die ou manne tog maar gewys dat die krag nog by die wysheid lê! Die Boeremusiek was iets besonders en dit is iets wat ons min sien. Mens se voete het sommer gejeuk toe hulle daar wegtrek met die instumente en die konsertina. Die atmosfeer en gees wat daar geheers het was uit die boonste rakke. Ons het weereens besef dat ons baie meer aandag aan hierdie deel van ons kultuur sal moet skenk. Die besluit om dit by ‘n arm blanke gemeenskap te hou, het dalk vreemd geklink, maar dit was nodig om te sien hoe die mense leef. Hulle is deel van ons volk. Hulle het baie moeite gedoen om die terein baie netjies te maak, en hul organisasie rondom die braaiers, gedekte tafels, en kos was uitstekend. Hierdie dag was gehou om die mense weer naasteliefde te laat ervaar, net boer-wees, sonder enige verdere kompilkasies en politiek. Ons het baie versoeke ontvang om meer gereeld so dag aan te bied, en dit is iets wat ons defenitief sal doen.

No comments: