Tuesday, May 18, 2010

Kragdag

Kragdag Diamantvallei
22 Mei 2010

Verhoogde kragtariewe? Elektrisiteit 'n luukse? Terug na lamp en kers en primus?
Gelukkig hoef dit nie!
Alhoewel elektrisiteit van Eskom vir baie van ons 'n swaar las word,
is daar gelukkig 'n nuwe beweging na alternatiewe kragbronne en word
Eskom met sy reuse tariefverhogings juis die stimulus vir nuwe
uitvindings en die ontwikkeling daarvan.
Diamantvallei se Kragdag wil uitvindings en produkte bekendstel, wat
ons almal meer onafhanklik maak
Krag lê in onafhanklikheid daarom wil ons ook Sekuriteitsisteme,
Selfverdediging, alarms, plaas-en huisbeveiliging hier ten toonstel
Ons nooi dus uitstallers met hulle produkte: Sonverwarming vir kook en
waterverwarming, alternatiewe verbrandings materiaal (bv jel) , LED
ligte vir besparing, Sonpanele, batterye, windlaaiers,
brandstofontwikkeling (bv bio-diesel) Sekuriteit ens
En dan nooi ons almal wyd en syd om te kom kyk wat op die mark of in
omloop of in ontwikkeling is
Ons nooi ook daardie innoverende individue wat slim planne bedink en
in werking stel om vir ons te wys en verduidelik
Ons het reeds tevore 'n baie suksesvolle Kragdag op Diamantvallei
gehou en intussen het baie van die produkte wat nog slegs in 'n
eksperimentele fase was, praktyk geword. Nuwe produkte het op die mark
verskyn. Nuwe kennis het na vore gekom.
Daar is pryse vir die beste idee of model vir die opwekking van
alternatiewe energie of energie besparing in die volgende kategorieë.
A. Laerskool
B. Hoërskool
C. Individue
Stuur asb vir ons jou idee of bring jou model. Daar is nog tyd tot 20 Mei
Ons is nie meer oorgelewer nie!!
Bespreek u stalletjie @ R50 buitenshuis en R100 binnenshuis (beperkte
aantal) en onderdak betyds by
info@diamantvallei.co.za of tel 012 736 2154 /083 2585 239
Hendrik en Alida Verwoerd

Thursday, May 13, 2010

GKK Nampo Vergadering

Volksvergadering 8 - 10 Oktober 2010

Geagte Volksgenoot

Tydens die Volksvergadering van die Geloftevolk te Vegkop,
September 2009, is verskeie sake aan die GKK opgedra. U word versoek
om kennis te neem van die volgende en om asseblief u deelname te
verleen. Al die besluite is verkrygbaar by bostaande adres asook by
http://www.volksvergadering.co.za

Volkskommunikasie

In die nastrewing van Volksvryheid is dit noodsaaklik dat volksgenote
onbelemmerd gesprek moet kan voer en aktuele inligting moet kan
bekom. Tans is daar weinig openbare media wat die vryheidspad saam
met die Geloftevolk wil stap. Die internet vul daardie leemte en maak
dit moontlik dat ons direk met mekaar kan kommunikeer.
Maak asseblief u bydrae deur u e-pos adres, asook dié van mede
volksgenote te voeg by die Volksdata:
http://www.volksvergadering.co.za
Klik op "Komitee"
Klik op "Versoek om inligting te ontvang" Vul inligting in;
Klik op "Stuur versoek".
U kan ook u telefoon en/of selfoon nommer, asook u posadres stuur aan
Phillip Groenenstein by 083 334 1547 of vrkomitee@gmail.com

Volksvergadering 2010

Die volgende Volksvergadering van die Geloftevolk sal DV plaasvind
gedurende 8 – 10 Oktober 2010 te Nampo Park naby Bothaville –
GPS S 27°13'936" O 26°39'958".

Voorstelle, of versoeke tot 'n spreekbeurt kan aan Frikkie Strauss
gestuur word by vvr@xsinet.co.za vóór 1 Augustus 2010. Die program
en sakelys sal later bekend gemaak word.

Bybelse Beginsels

Die Geloftevolk se begeerte is om in 'n toekomstige Volks-huishouding
ons Hemelse Vader ter getuienis van Sy onuitspreeklike Grootheid,
Almag en Genade te eer en te dien.

'n Komitee is getaak om die funksionering van 'n Teokratiese
Volkshuishouding te ondersoek en by 'n volgende Volksvergadering ter
tafel te lê. Indien u enige bydrae in hierdie opsig kan maak kontak
asseblief Dr. Jann Schlebusch by 051-5750710, of 0729593214 of
epos: jann.schlebusch@gmail.com

Volksverootmoediging

Ter uitvoering van die opdrag van die Volksvergadering dat die Volk tot
verootmoediging begelei moet word, is die GKK ook berokke by 'n
Onafhanklike Reëlingskomitee wat intussen saamgestel is uit bekende
volksaksies wat verootmoediging nastreef. Daar word 'n beroep gedoen
op volksgenote om mee te doen aan 'n gebedsaksie om daagliks om
05h00 spesiaal te bid dat ons as volk tot verootmoediging sal kom.
Gesamentlike geleendhede ter verootmoediging word beplan vir 10
Oktober en 16 Desember 2010. Elke gesin word versoek om die
volksgeloftes opnuut ter harte te neem, en die gesinsaltaar in stand te
hou deur die volgende opdrag te gehoorsaam:
Deut.6:6-7 "En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in
jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as
jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy
opstaan."
Vir verdere besonderhede kontak die sekretaris Pieter Bothma by
083 542 9993, phb@joba.co.za of besoek http://www.bidsaam.co.za

Befondsing

Die vrywordingsproses verg aansienlike finansiële insette. Bydraes sal
opreg waardeer word. Verskaf asseblief u kontakbesonderhede sodat
dank aan u betuig kan word.

Bankbesonderhede is soos volg:
Naam van rekening: Geloftevolk Koördinerings Komitee;
Absa Bank; Tak: Vanderbijlpark; Takkode: 632005;
Spaarrekening nommer: 92 3938 7030.
Skakel Gerhard Smith by 082 952 9228 of jjgsmith@mweb.co.za

Groete
Dr. Ronnie van der Merwe; Voorsitter GKK, cvofraser02@telkomsa.net


Dokument beskikbaar by :
http://groups.google.com/group/onsstem-van-die-nasie/browse_thread/thread/9cba1dd33ced3530

Tuesday, May 11, 2010

Regse komplot onthul of nie ?

Radio Pretoria Nuuskommentaar vir 11 Mei 2010
Regse komplot onthul, of nie?

Verlede week pryk dit op die plakkate van koerante in die strate:
"Regse komplot opgerol, bomplanters gearresteer." Die His Masters'
Voice van die ANC, die SABC, maak dit hoofnuus op sy nuusbulletins.

Uiteindelik. Almal het dit verwag na die gruwelike moord op meneer
Eugene Terre'Blanche: die sogenaamde vêrregses gaan uiteindelik
moeilikheid maak, want almal weet dat die Boerevolk briesend kwaad is.
Hulle was te lank stil, niemand het gekoördineerde dom dinge gaan
doen nie. Die yster dissipline wat heers onder die Boerevolk, is vir
die regering 'n steen des aanstoots, selfs waarskynlik 'n bron vir
ongekende vrees. Daarom moet daar eenvoudig iets gebeur. En as dit
dan nie gebeur nie, moet dit maar so 'n bietjie aangehelp word.

Waarskynlik is die Verkennersbeweging heeltemal korrek in hulle
ontleding dat die sogenaamde vêrregses wat gearresteer is, net 'n
foefie is van die Kommuniste om 'n soort revolusie binne hulle reeds
voortwoedende revolusie te kweek.

Die ANC se minister van polisie het die aankondiging van die
"verregses" wat gearresteer is, gemaak voor die parlementêre
portefeuljekomitee. Sy ANC-revolusiemaatjies, dus. Omdat wet en orde
nie meer bestaan nie met meer as vyftig moorde per dag, moes hy 'n
weerligafleier kry om sy revolusiemaatjies tevrede te hou, en die
afgelope sestien jaar onder ANC-verdrukking het al geleer dat niks so
goed werk as om 'n regse of wit gevaar te skep nie. Dit lei dadelik
die aandag af van alle tersaaklike dinge.

Dieselfde naweek dat meneer Eugene Terre'Blanche vermoor is, het His
Masters' Voice ook berig dat daar gesoek word na 'n wit
dubbelkajuitbakkie iewers in Oos-Transvaal waaruit daar geskiet is op
'n minibus-taxi. Dit was sommer ook die laaste wat gehoor is van die
hele saak.

Nou is daar weer op 'n beweerde regse komplot afgekom om plofstof in
swart woonbuurte te gaan toets. Selfs Rooikappie sou waarskynlik
swaar gesluk het aan so 'n storie. Verder word daar gegis oor hoeveel
mense gearresteer is en aan welke organisasie hulle verbonde is.
Radio Pretoria het met al sy krag en middele beskikbaar probeer
vasstel watter organisasies betrokke sou wees, maar ons soeke het op
niks uitgeloop nie, waarskynlik omdat dit doodgewoon 'n wolhaarstorie
was.

Waarop ons wel afgekom het, is dat, toevallig dieselfde naweek as die
moord op meneer Terre'Blanche, die polisie wel skynbaar toegeslaan het
op mense wat onwettige wapens besit het en wat hulle nie ingehandig
het gedurende die amnestietydperk nie, en waarvan die polisie bewus
was. Enkele arrestasies is skynbaar daaroor gemaak, maar dit het
totaal niks met 'n vêrregse komplot te doen gehad nie, die mense was
sovêr vasgestel kon word, nie eens lede van die bekende organisasies
nie, en ook nie besig met 'n soort staatsgreep nie. Skynbaar het die
minister hierdie arrestasies gebruik om homself belangrik te laat lyk
asof hy nou 'n formidabele komplot oopgevlek het. Daarmee saam poog
hy om volksgenote wat wel besig is om te organiseer om hulleself te
beveilig, en wat hulle vryheidsideaal wil verwesenlik, die skrik op
die lyf te jaag en hulle van hulle planne te laat afsien.

Vir die minister wag daar waarskynlik 'n groot ontnugtering. Ons volk
het sy vrees afgeskud, en dit kos meer as fabels om hom weer bang te
maak. Die volk het na die Ventersdorpse landdroshof in duisende
opgeruk, ten spyte van dreigemente van arrestasie. Die volk het in
nog baie meer duisende opgeruk na die begrafnis op Ventersdorp, ten
spyte van dreigemente dat Cosatu 'n groot byeenkoms 'n klipgooi
daarvandaan gaan hou. Sedertdien daag die volk in sy duisendtalle op
by openbare vergaderings om betrokke te raak in veiligheidsnetwerke,
en by instansies wat werk vir die republikeinse vryheid vir ons volk.

Die gees van volksnasionalisme het weer in beweging gekom.
Volksnasionalisme is 'n wêreldwye verskynsel. Volksnasionalisme kan
nie in tronke gestop word nie en ken geen vrees nie. Daardie gees
leef nou in ons sterker as ooit, en sal eers weer tot bedaring kom in
'n eie vrye volksrepubliek. Intussen gaan ons nie val vir
publisiteitsfoefies en intimidasie deur die ANC-bewind nie.

Saturday, May 8, 2010

Hemelvaartdag

Die Verkenners Beweging van Suid-Afrika steun die oproep van die
Oranje Sake Instituut en die Oranje Sakekamer van Pretoria op
volksgenote om Hemelvaartdag, die 13de Mei 2010 in dankbaarheid
teenoor die Almagtige Vader deur te bring. Ook word die beroep op
volksgenote met besighede om hierdie dag hule besighede te sluit en
volksgenote wat werknemers is, om verlof te neem gesteun. Die
Verkenners Beweging van Suid-Afrika doen 'n beroep op alle
lidorganisasies van die Afrikanerfront en Afrikaanse kerke, om hierdie
oproep te steun en ook hulle lede aan te moedig om hierdie dag te
eerbiedig.


Ben Geldenhuys
President
Verkenners Beweging van Suid-Afrika