Tuesday, May 11, 2010

Regse komplot onthul of nie ?

Radio Pretoria Nuuskommentaar vir 11 Mei 2010
Regse komplot onthul, of nie?

Verlede week pryk dit op die plakkate van koerante in die strate:
"Regse komplot opgerol, bomplanters gearresteer." Die His Masters'
Voice van die ANC, die SABC, maak dit hoofnuus op sy nuusbulletins.

Uiteindelik. Almal het dit verwag na die gruwelike moord op meneer
Eugene Terre'Blanche: die sogenaamde vêrregses gaan uiteindelik
moeilikheid maak, want almal weet dat die Boerevolk briesend kwaad is.
Hulle was te lank stil, niemand het gekoördineerde dom dinge gaan
doen nie. Die yster dissipline wat heers onder die Boerevolk, is vir
die regering 'n steen des aanstoots, selfs waarskynlik 'n bron vir
ongekende vrees. Daarom moet daar eenvoudig iets gebeur. En as dit
dan nie gebeur nie, moet dit maar so 'n bietjie aangehelp word.

Waarskynlik is die Verkennersbeweging heeltemal korrek in hulle
ontleding dat die sogenaamde vêrregses wat gearresteer is, net 'n
foefie is van die Kommuniste om 'n soort revolusie binne hulle reeds
voortwoedende revolusie te kweek.

Die ANC se minister van polisie het die aankondiging van die
"verregses" wat gearresteer is, gemaak voor die parlementêre
portefeuljekomitee. Sy ANC-revolusiemaatjies, dus. Omdat wet en orde
nie meer bestaan nie met meer as vyftig moorde per dag, moes hy 'n
weerligafleier kry om sy revolusiemaatjies tevrede te hou, en die
afgelope sestien jaar onder ANC-verdrukking het al geleer dat niks so
goed werk as om 'n regse of wit gevaar te skep nie. Dit lei dadelik
die aandag af van alle tersaaklike dinge.

Dieselfde naweek dat meneer Eugene Terre'Blanche vermoor is, het His
Masters' Voice ook berig dat daar gesoek word na 'n wit
dubbelkajuitbakkie iewers in Oos-Transvaal waaruit daar geskiet is op
'n minibus-taxi. Dit was sommer ook die laaste wat gehoor is van die
hele saak.

Nou is daar weer op 'n beweerde regse komplot afgekom om plofstof in
swart woonbuurte te gaan toets. Selfs Rooikappie sou waarskynlik
swaar gesluk het aan so 'n storie. Verder word daar gegis oor hoeveel
mense gearresteer is en aan welke organisasie hulle verbonde is.
Radio Pretoria het met al sy krag en middele beskikbaar probeer
vasstel watter organisasies betrokke sou wees, maar ons soeke het op
niks uitgeloop nie, waarskynlik omdat dit doodgewoon 'n wolhaarstorie
was.

Waarop ons wel afgekom het, is dat, toevallig dieselfde naweek as die
moord op meneer Terre'Blanche, die polisie wel skynbaar toegeslaan het
op mense wat onwettige wapens besit het en wat hulle nie ingehandig
het gedurende die amnestietydperk nie, en waarvan die polisie bewus
was. Enkele arrestasies is skynbaar daaroor gemaak, maar dit het
totaal niks met 'n vêrregse komplot te doen gehad nie, die mense was
sovêr vasgestel kon word, nie eens lede van die bekende organisasies
nie, en ook nie besig met 'n soort staatsgreep nie. Skynbaar het die
minister hierdie arrestasies gebruik om homself belangrik te laat lyk
asof hy nou 'n formidabele komplot oopgevlek het. Daarmee saam poog
hy om volksgenote wat wel besig is om te organiseer om hulleself te
beveilig, en wat hulle vryheidsideaal wil verwesenlik, die skrik op
die lyf te jaag en hulle van hulle planne te laat afsien.

Vir die minister wag daar waarskynlik 'n groot ontnugtering. Ons volk
het sy vrees afgeskud, en dit kos meer as fabels om hom weer bang te
maak. Die volk het na die Ventersdorpse landdroshof in duisende
opgeruk, ten spyte van dreigemente van arrestasie. Die volk het in
nog baie meer duisende opgeruk na die begrafnis op Ventersdorp, ten
spyte van dreigemente dat Cosatu 'n groot byeenkoms 'n klipgooi
daarvandaan gaan hou. Sedertdien daag die volk in sy duisendtalle op
by openbare vergaderings om betrokke te raak in veiligheidsnetwerke,
en by instansies wat werk vir die republikeinse vryheid vir ons volk.

Die gees van volksnasionalisme het weer in beweging gekom.
Volksnasionalisme is 'n wêreldwye verskynsel. Volksnasionalisme kan
nie in tronke gestop word nie en ken geen vrees nie. Daardie gees
leef nou in ons sterker as ooit, en sal eers weer tot bedaring kom in
'n eie vrye volksrepubliek. Intussen gaan ons nie val vir
publisiteitsfoefies en intimidasie deur die ANC-bewind nie.

No comments: