Thursday, January 28, 2010

Kan ons net toekyk dat dit gebeur ?

'Dit was net bloed' in Vaal-aanval
2010-01-26
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/81c07dd929c6474298c7c5b3321455c5/26-01-2010-01-50/'Dit_was_net_bloed'_in_Vaal-aanval_

Stilfontein. – 'n Vrou is gisteroggend net ná middernag in haar huis
op die oewer van die Vaalrivier met 'n panga aangeval en vir dood
gelos.

Mev. Theresa Eksteen (51) was teen druktyd in 'n stabiele, maar
ernstige toestand.

Sy word in die hoësorgeenheid van 'n plaaslike private hospitaal verpleeg.

Eksteen is gister geopereer en penne is onder meer in haar beseerde
hand geplaas.

Volgens haar familie ly sy steeds aan erge skok en verduur sy heelwat pyn.

"Ons vermoed dit was 'n wraakaanval deur 'n werknemer wat in Desember
afgedank is. Hy het haar wang tot op die been van die kaak oopgeslaan,
sy is oor die kop geslaan, haar hande is stukkend gekap en haar pinkie
byna af.

"My kind het ongelooflik baie bloed verloor.

"Iemand is in hegtenis geneem, maar ons weet nog nie wie dit is nie,"
het mev. Hilda Hodges, Eksteen se ma wat 'n paar meter verder op
dieselfde rivierhoewe bly, gister gesê.

"Sy het hier aan ons deur geklop. Sy kon nie praat nie en kon skaars staan.

"Dit was net bloed wat gestroom het," het Hodges, wat self agt jaar
gelede die slagoffer van 'n plaasaanval in die Magaliesburg-omgewing
was, gesê.

Hodges se man, Norman, het by die bure gaan hulp soek.

"In 'n oogwink was hier boere wat ons kom bystaan het.

"Hulle het die polisie en ambulans gereël," het mev. Hodges gesê.

Volgens haar man het die polisie bevestig die wapen wat in die aanval
gebruik is, is in die verdagte se besit gekry.

In Eksteen se huis was die bed, beddegoed, gordyne en matte in haar
kamer en in 'n groot deel van die kombuis deurtrek van bloed. "Dis
soos sy na die voordeur toe gestrompel het om hulp te gaan soek. Dis
wreed. Maar die Here is goed vir ons. Ons kry baie krag van Bo. Sy sal
orraait wees..."

By Beeld se besoek het van die bure en werkers ingespring om die huis
op te ruim en die bloed af te was. Eksteen se man, Joe, werk glo in
Zimbabwe waar hulle selfoontorings oprig en sal na verwagting vanaand
by die huis wees om sy vrou by te staan. Die egpaar het twee volwasse
kinders en een kleinkind.

Kapt. Msisithela Selima, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het bevestig
'n verdagte is in hegtenis geneem. "Die ondersoek duur voort. Dit lyk
of die verdagte vandag (gister) sekere uitwysings aan die polisie wil
doen. Dit is onduidelik wat alles geroof is."

No comments: