Oom Otley vertel my dié staaltjie oor hulle wildtuintoer:
Sommer met die intrapslag hou ek niks van die Ingelsman wat my kleindogter
hier by ons kom aansleep nie. Vir weke al sien ons uit na haar kuiertjie
uit London en aan die begin kon ons nie fout sien, dat sy nou haar Ingelse
boyfriendjie wou saamnooi op 'n onvergeetlike toer saam met Oupa en Ouma
deur die Kruger Wildtuin nie. Uiterlik nie 'n onaangename seun nie, maar
toe die bleeksiel sy bek oopmaak en my met "Hello Gramps" groet, is my more
klaar suur. Sulke voorbarige vermetelheid. Met die pap handjie waarmee hy
bladskud, skud ek hom amper uit sy oorbel (en hy het reeds die ander een
verloor.)
Maar opgedress vir die okkasie hoor. Leerstewels wat amper tot by sy knieë
kom, sy khakibroek al die pad ingedruk. Met sy dik belt se gespe sal mens
n olifant met twee houe kan doodslaan. Wat die man als gelees het oor
Suid-Afrika weet ek nie, maar aan die belt is 'n waterbottel, 'n mes wat
amper sy stewels raak, 'n moonbag met 'n rooi kruis op en een van daai
kanariegeel selfone met die baie knoppies. Die man dra 'n swart T-shirt wat
sê rook is verbode en iets van die aardbol wat warm word. Maar ek weet, die
Wildtuin is nie speletjies oor Desember nie. Warm gaan die man beslis warm
kry en rook gaan ek beslis rook, al het Kleinpop my agteraf gewaarsku dat
die man so bietjie opgewonde oor tabakgebruik kan raak.
Die man is goed in tale ook. Al drie Afrikaanse woorde by Kleinpop geleer.
Dankie, kak en lekka.' Alles is kak of lekka. Kleinpop is lekka. Ons
paaie is kak. Die son is kak. Ouma se koeksisters is lekka. Vreeslik
puntenerig oor kos ook, die mannetjie. Eet nie vleis nie, eet nie dit nie,
eet nie dat nie, daai moet eers gekook word voor hy sal drink ens, ens.
Ek kon dit nog vat toe die man iets van "kak SUV" sê toe hy in die kombi
klim, maar toe die man "kak music" op my Klipwerf mompel, steek ek summier
my pyp op. Sommer so in die ry, soos ek altyd maak. Kleinpop probeer nog
verbouereerd keer, maar Oupa leer die man nog bietjie Afrikaans:
"Fok jou, in my van rook ek, broer!"
Die man leer vinnig en maak sy eie Afrikaanse kombinasies: "Fok, this rook
is lekka kak, dankie."
Maar met 'n man wat nie vleis eet nie, gaan dit maar lekka kak in die
Wildtuin. Teen dag drie is die man se slaaiblare wat hy in Phalaborwa se
Spar gekoop het al heel vrot. Sy dieet bestaan uit Ouma se padkoskoekisters
Nik-Naks en braaivleispap sonder sous. Teen aand vier is hy honger genoeg
om sy vegetariese geloof te verloën. Natuurlik nie openlik nie. Vang ek vir
Kleinpop uit, toe sy ongemerk 'n tjop of drie na die man se
tentjie toe smokkel.
Dag vyf ruik ons al vroegoggend vegetariese maagreaksies op vleis. Net mooi
in die middel van nêrens en op die dag se hitte kom klop die man op my
skouer hier voor in die kombi, so in die ry.
"I MUST go!" beduie die man na sy poephol asof ek nie lankal kon ruik wat hy
wil doen nie.
Ek stop maar die kombi naby 'n laagte boompies. Dit is in elkgeval so warm,
geen dier sal dit in die omgewing waag nie.
"There," beduie ek hom na die boompies.
"No ways!" protesteer die mannetjie toe.
Ek beduie vir die mannetjie in my beste Engels dat daar "no ways" is dat hy
verder my kombi se binnelug met sy buikwinde gaan ontsier. As hy nie nou sy
ding gaan doen nie, gaan hy verder stap.
"Gee vir die man kakpapier," beveel ek vir Kleinpop.
Die man weet nou al genoeg van Afrikaans om te smeek "No, I want nice paper
please!"
Soos iemand wat oor duwweltjies stap, benader die Ingelsman sy natuurtoilet.
Na 'n rukkie verdwyn hy agter die boompies. Ons kyk maar almal versigtig in
die omgewing om die man darem betyds te waarsku, sou daar dalk ongediertes
nader sluip.
Nou een ding van die Wildtuin. As een kar stop, stop almal agter hom om te
kyk watse diere kyk die voorste kar. Veral so op die middaghitte as daar
min is om te sien. Die Ingelsman het skaars gehurk, voor die Land Rover
agter ons stop. Die gesinnetjie bespied die rigting wat ons kyk. Hulle wil
ook sien wat ons sien. Verkykers word uitgehaal. Nog voertuie stop. Een
ou klim uit met 'n groot kamera op 'n driepoot. Nog karre stop. Na vyf
minute lyk dit soos die Dakar Rally wat wil afskop. Groepies brawes staan
teen die reëls orals buite hul karre en kyk met lang lense. Party klim
bo-op hul voertuie se dakke vir 'n beter uitsig. Wild was besonders skaars
hierdie jaar.
Nou of daar werklik een was, weet ek nie, miskien was dit 'n oorywerige
verbeelding in 'n desperate soeke na diere. Maar toe die ou so ses karre
van ons af skree "Leeu, ek sien hom!" weet ek die Ingelsman verstaan meer
Afrikaans as wat ons gedink het. Met al die mense wat so staan en kyk na
die veld agter hom, kry die kreet nog eerbaarheid ook.
Soos 'n lus foksterriër wat hitte geruik het, peul die man uit sy bostoilet
uit en hardloop vir die kombi. Die broek om die enkels laat die man so paar
keer pens en pootjies neerslaan, maar sy herstel is elke keer merkwaardig.
Sy roete na die eindpaal is een stofbol soos die man beweeg. By die kombi
aangekom is die man se broek darem min of meer heuphoogte, maar in die veld
lê 'n lang mes en 'n kanariegeel selfoon. Die Ingelsman soek dit
klaarblyklik nie terug nie. Die konvooi karre agter ons, ry stadig verby,
terwyl die Ingelsman sy broek en asem op die regte plekke kry. Te oordeel
aan die hoeters en gesigte het die mense waarde vir hul geld in die wildtuin
gekry.
Na die vakansie is Kleinpop heel uit haar Ingelsman uit. Dié het sommer
vroeg 'n vlug London toe gevat. Sy wil hom nie weer sien nie. Miskien was
dit die nagedagte aan die ongebruikte toiletpapier. Miskien was dit die
klein, bleek, swaaiende voorgedagte.