Tuesday, February 22, 2011

Die gety draai


Gister het ons gewys op die skielike opvlam van ongelukkigheid met regerings in Afrika. Egipte het sy president reeds weggejaag, en intussen blyk dit dat Libië vir alle praktiese doeleindes reeds in twee dele verdeel is. Muammar Ghadaffi en sy ewe diktatoriale seuntjie het reeds beheer oor die een deel van die land verloor waar die opstandelinge teen hulle regering reeds die mag oorgeneem het. In die deel van die land wat die Ghadaffi's nog beheer, maak hulle van aanvalshelikopters gebruik teen hulle eie burgers om hulle mag in stand te hou.

Afrika is senuweeagtig vir soortgelyke opstande. Hierdie vuurtjie kan uiteindelik 'n verterende veldbrand word wat baie lande kan tref en wat uiteindelik daartoe kan lei dat selfs meerdere state kan ontstaan. Soedan het onlangs 'n deel van sy land stembus toe geneem in 'n referendum om te bepaal of die suide van die noorde wil afskei. Hulle het oorweldigend ten gunste daarvan beslis, en die wêreld het sonder sweem van twyfel daardie referendum erken en aanvaar die totstandkoming van die nuwe Suid-Soedan. Selfs die ANC-Ieier, Jacob Zuma, het in sy staatsrede die nuwe staat gelukgewens met sy totstandkoming.

Libië gaan heel moontlik ook in twee state verdeel. Dit word al hoe duideliker dat die ou koloniale eenheidstate verbrokkel in volkstate.

Suid-Afrika is ook 'n produk van kolonialisme waar die Britte die onafhanklikheid van die Boere-republieke van hulle geroof het, en toe uiteindelik hulle in 'n unie saamgesmee het, en daardeur ook 'n koloniale eenheidstaat tot stand gebring. En ook hierdie eenheidstaat het van tyd tot tyd sy spannings opgelewer, want eenheidstate werk nie. Daarom dat dr. Verwoerd 'n beleid in werking gestel het waarvolgens die land ook in volkstate verdeel sou word.

Dat Zuma Soedan se afskei-gedeelte erken, beteken dat hy begrip behoort te hê vir 'n volkstaat. Daarom behoort hy begrip te he vir 'n Boere- of Afrikaner-volkstaat. Sy probleem is dan net dat die werkende en presterende deel wat die hele land aan die gang hou, dan onder sy beheer sal uitkom, en dit is waarom daar so angsvallig aan die eenheidstaat geklou word sodat die gans wat die goue eiers Iê, deur kruissubsidie die grootste ellende kan verhelp.

Tog word die druk na selfstandigheid al meer. Weer eens is dit nie in ons volk se vermoë of aard om op 'n Libiese-wyse sy selfstandigheid herstel te kry nie. Maar die Soedan-opsie, van 'n stemming of referendum, is wel moontlik. En tans is die proses wat die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) aan die gang gesit het, waarskynlik die naaste daaraan en die meeste geskik daarvoor.

Die VVK poog om 'n verkiesing in Mei vanjaar te hou om volksverteenwoordigers verkies te kry om hierdie vryheidseis gestalte te gee. Met die gety wat in Afrika besig is om te draai ten gunste van volkstate en afskeiding, is die tyd waarskynlik baie ryp daarvoor. Daar is egter nog nie naastenby genoeg mense vir die VVK geregistreer om die proses bo enige twyfel geloofwaardig te maak nie. Daarom is dit belangrik dat inisiatiewe soos 'n paar naweke gelede, dat registrasiepunte op openbare plekke ingerig word, nou uiters noodsaaklik om vaart agter die proses te sit.

Helaas is daar enkelinge wat selfs uit hulle pad gaan om hiedie proses te frustreer, en ons betwyfel die eerbaarheid van sodanige motiewe. In hierdie kritieke tyd van ons volksgeskiedenis, durf ons nie moedswillig stokke in speke steek nie. Laat elkeen doen wat sy hand vind om te doen, solank dit opbouend en positief is ter bereiking van ons vryheid. Ons ondersteun steeds die VVK en sy prosesse en doelwitte en sou graag sien dat hierdie proses van nou af in tempo sal toeneem om uiteindelik 'n reuse sukses te word. Ons volk het reeds genoeg mislukkings gehad, dis weer tyd vir 'n sukses op pad na vryheid. En die gety is aan ons kant.



http://www.radiopretoria.co.za/Nuuskommentaar.php


Thursday, February 17, 2011

Die Afrikaner se reg tot selfbeskikking



Die Afrikaner se reg tot selfbeskikking

 

Die jongste uitspraak van Mnr. Jacob Zuma m.b.t. 'n Afrikaner tuiste, gaan beslis debat rondom die kwessie van selfbeskikking vir die Afrikaner ontlok. Die Verkenners Beweging van Suid-Afrika verwelkom hierdie debat. Wat die Verkenners Beweging egter nie verwelkom is Mnr. se aanmatigheid dat hy nou namens die Afrikaner kan besluit waar hulle tuiste is. Mnr Zuma vergeet, of is moontlik onbewus, dat elke volk op aarde in gevolge die volkereg, het die reg tot selfbeskikking, ook die Afrikaner volk. Dit is verder elke volk se eie besluit of hulle wil vry wees en nie die besluit van een of ander regime se hoofman of leier nie. Selfs daardie persone binne 'n volk wat nie hulle eie tuiste wil he nie, kan nie namens die vryheidstrewende gedeelte van die volk besluit of hulle wel geregtig is op hulle eie tuiste al dan nie.

 

Mnr. Zuma is reg dat daar geen liggaam is wat 'n mandaat het om  daardie Afrikaners wat na 'n eie tuiste streef te  verteenwoordig nie. Nog nie, want die Afrikaners wat streef na 'n eie tuiste is wel besig om 'n verkiesing te reël onder die bekwame hand van die Volksraad Verkiesings Kommissie. Mnr. Zuma moet egter kennis neem dat die blote feit dat hierdie Volksraad nog nie verkies is nie, nie vir hom skielik die reg gee om namens die Afrikaner te wil besluit waar die Afrikaner se tuiste is nie. Die Afrikaner sal op 'n demokratiese wyse ons eie Volksraad verkies. Hierdie Volksraad sal 'n mandaat he om namens die Afrikaner, ons vryheid op te eis. Die grondwet van Mnr. Zuma se regering maak voorsiening vir selfbeskikking in Artikel 235. Hierdie jongste uitlating van Mnr. Zuma skep die indruk dat hy homself bo die grondwet van sy eie regime plaas.

 

Mnr. Zuma se uitlating dat die Afrikaner nie 'n Orania kan skep nie, is net so teenstrydig met sy grondwet en kan selfs as rassisties beskou word, aangesien hy hierdie reg kondoneer vir die Zoeloes, Vendas en Xhosas, maar die volk waarna hy verwys as die enigste blanke stam van Afrika, vir hulle wil hy 'n verbod plaas op hierdie reg.

 

In tussen sal die Verkenners Beweging van Suid-Afrika onverpoosd die verkiesing wat deur die VVK gereël word hierdie jaar steun en ondersteun. Sodat die vryheidstrewende Afrikaner vir homself 'n Volksraad kan kies. Sodat hierdie Volksraad 'n eis op selfbeskikking by Mnr. Zuma se regime kan instel en indien Mnr. Zuma steeds van die oortuiging is dat die Afrikaner geen reg het tot selfbeskikking nie, sal daardie Volksraad hulle beroep op die Volkereg. Die feit bly staan, 'n gedeelte van die Afrikanervolk is moeg vir die onderdrukking en is op pad na selfbeskikking in 'n eie begrensde grond gebied.

 

 

Ben Geldenhuys

President

Verkenners Beweging van Suid-Afrika