In sterk vereenvoudigde Nederlands, feitlik al Afrikaans, skryf Eugene
Marais in 'n hoofartikel in Land & Volk in 1891 as volg:
"… die vyande van di Afrikaanse taal is Jingo-Afrikaners – mense so
lag gevalle dat jy lus het om jou mond uit te spoel as jy hulle name
noem. Ons het al baie slegte nasies en mense in ons tyd gesien, maar
nog nooit iets lager of gemener dan Engels-gesinde Afrikaner wat sy
moedertaal – die taal door sy vaders gesproke – verag."
Vandag sal ons met Eugene Marais se stelling kan saam stem. Vandag,
net soos in 1891 is daar ook sulke mense. Jingo–Afrikaners. Die
moderne Jingo-Afrikaners word verseker vandag net soveel verag en in
sekere gevalle selfs meer. Dink maar aan die gevoel wat 'n FW de Klerk
of selfs 'n Koos van der Merwe van die IVP by mens laat. Die term
Jingo is egter gegee aan Afrikaners wat besluit het om ter wille van
hulle nuwe meesters, Brittanje, te verengels. So kry mens vandag talle
mense met Afrikaanse vanne, maar wat skaars twee woorde in Afrikaans
kan praat. Hulle is Engels. Jingos.
Daar is nuwe Jingos ook. Dit is daardie Afrikaners wat die ANC ter
wille wees. Wat verkies om hulle kinders in 'n staatskool te sit sodat
hulle kinders die ANC propaganda kan insluk. Wat selfs hulle kinders
in Engelse skole sal sit, sodat hulle kindertjies tog nie moet
"sukkel" om aan te pas in die "nuwe" wêreld nie. Jingos. En asof dit
nie erg genoeg is nie, maak hulle ook hulle kinders groot as Jingos.
Kinders van die wêreld. Humanisties, kerkloos, liberaal en verlore.
Die aftakeling begin natuurlik eerste by ons taal. So sal die ANC 'n
skool verswart juis deur die skool te verengels. Ons taal is 'n wapen
wat teen ons gebruik word, maar kan ook dien as 'n kragtige wapen in
ons guns. Dit is egter belangrik dat ons besef dat 'n taal wat geen
kommersiele waarde het, sal uit eindelik sterf. Die behoud en groei
van ons taal sedert sy ontstaan was juis sy kommersiele waarde en nou
gooi van ons mense dit weg sodra hulle vermoed iemand is dalk Engels.
Hoeveel Afrikaners slaan onmiddelik oor na Engels sodra hulle moet
besigheid doen nie? Selfs as hierdie Afrikaners kliënte is, weier
hulle om aan te dring of selfs te vra om in Afrikaans bedien te word.
Skandelik. Jingos? Ek hoop nie so nie. Miskien is dit daardie Boere
goeie maniere wat mense dwing om oor te slaan Engels toe sodra hulle
reken die ander persoon gaan sukkel in Afrikaans. Indien dit so is,
is dit een stukkie goeie maniere wat ons sal moet weg gooi, as ons nog
enige liefde vir ons taal oor het. Ons sal moet aandring en meewerk
dat ons taal sy kommersiele waarde behou.
Die Afrikaner se laaste mag is gesetel binne sy ekonomiese krag.
Werkkrag, kapitaalkrag en koopkrag. In sy koopkrag rus sy mag om
Afrikaans se kommersiele waarde te behou. Dit verg ook nie groot
inspanning nie, al wat dit verg is om duidelik te verklaar: My geld,
praat Afrikaans.
Onlangs het die Solidariteitgroep 'n bankverslag die lig laat sien.
Hierdie verslag volg na aanleiding van hulle geveg met ABSA oor ABSA
se aandringing op swartkwotas in Rugby. Die Solidariteit verslag het
gefokus op die bankkostes van sekere banke en op hierdie manier die
banke teen mekaar op geweeg. Kostes is egter net een faset van
bankwese en in my beskeie mening amper die onbelangrikste. So
byvoorbeeld is diens 'n baie belangriker aspek. Indien 'n onderneming
se kostes hoog is, maar sy diens regverdig die koste, dan is dit
regverdigbaar as waarde vir geld. Mens verwag tog nie om by 'n een
ster hotel en by 'n vyf ster hotel die selfde prys te betaal nie. As
Afrikaner is diens in Afrikaans vir my uiters belangrik. Dit wys dat
die onderneming met wie ek besigheid doen respek het vir my en genoeg
waardering het vir my besigheid dat so onderneming my in my eie taal
sal bedien. Feitlik geen van die banke in Solidariteit se studie kan
dit waarborg nie, of bied selfs aan om mens in Afrikaans te bedien
nie.
Indien diens in Afrikaans aangebied deur vriendelike Afrikaners vir
iemand belangrik is, is die Ko-operatiewe banke soos Oranjekas en
Kleinfontein Spaar en Krediet die enigste opsie. Met die kaartstelsel
en elektroniese bankdienste wat Oranjekas nou ook aanbied, het mens
amper nie meer 'n verskoning om beledig te word om in Engels gehelp te
word by die "ander" banke nie. Afrikaans sal kommersieel oorleef deur
instansies soos Oranjekas en ander, maar dan slegs as Afrikaners wat
nie Jingos is, hierdie instansies ondersteun.