Op 'n ysig koue wintersdag tydens die Tweede Wêreldoorlog kom ongeveer
sewentig duisend mense by die Vrouemonument in Bloemfontein byeen om
aan hulle leiers en die wêreld die boodskap te gee: "Ons is nie
tevrede om slawe van die Britse Ryk te wees en te bly nie: ons eis ons
gesteelde republiek op."
Sewentig jaar later wil die nageslag van daardie mense weer die koue
winterweer van die jaar 2010 trotseer om op dieselfde plek daardie
geleentheid te herdenk. Maar die terrein van die Vrouemonument,
volksbesit, word hulle geweier…
Watter groter bewys is daar dat ons volk, die Boere- of Afrikanervolk,
in knegskap leef, as hy nie mag byeenkom by sy monument, waar sy
volkshelde pres. MT Steyn, generaal Christiaan de Wet, Vader Kestell
en Emily Hobhouse begrawe lê nie? De Wet was nie net bereid om die
wapen teen die buitelandse Britse onderdrukker op te neem vir sy
vryheid nie, maar hy was ook bereid om die wapen op te neem teen sy
eie mense wat in die pad van vryheid gestaan het, soos Louis Botha en
Jan Smuts tydens die Rebellie. Maar ons mag nie by sy graf dit herdenk
waarvoor hy en sy nageslag gestry het nie…?
Tog gaan hierdie gebeurtenis sewentig jaar gelede, toe ons voorgeslag
hulle republikeinse eis sigbaar gaan stel het, nie onvergete verby
nie. Gelukkig ly die Paardekraal Monument Komitee nie aan die moderne
siekte van politieke korrektheid en nasiebou nie, en het wél hulle
terrein beskikbaar gestel om die geleentheid te herdenk, en dit vind
more, 17 Julie plaas.
Weer eens gaan duisende volksgenote opruk, hierdie keer na
Paardekraal, enersyds om die stryd van hulle voorgeslag te herdenk,
maar andersyds om daardie onvoltooide stryd voort te sit, en om die
basis te lê sodat die volgende geslagte daarop kan voortbou, soos ons
vandag kan voortbou op die fondamente wat ons voorgeslag gelê het.
Toe die volk in 1940 hulle eis om 'n republiek gaan stel het, was die
Tweede Wêreldoorlog aan die gang. Daar was tog 'n hoop dat die Britse
Ryk se mag gebreek sou kon word, sodat die Boerevolk weer vry kon
word. Die geskiedenis het egter 'n wyer draai geloop. Dit was eers agt
jaar later dat 'n politieke keerpunt gekom het toe die Nasionale Party
die regerende party geword het. Maar uiteindelik was dit eers een en
twintig jaar later dat die land 'n republiek geword het. Baie mense
wat in 1940 by die Vrouemonument was, het dit nie eens meer beleef
nie, maar hulle teenwoordigheid het die geesdrif, besieling en gesig
op 'n uiteindelik vrye republiek help posvat, sodat opvolgers dit wel
kon verwesenlik.
Daardie republiek se karakter is uiteindelik vernietig met die gebeure
van 1994, en die Boerevolk word tans weer onderdruk, nie direk meer
deur Brittanje soos dit was in 1940 nie, maar deur Afrikane wat dit
doen in dieselfde taal as die verdrukkers van 1940.
Die republikeinse vryheidsvlam brand steeds in ons volk. En more gaan
daardie vlammetjie by Paardekraal heel moontlik weer van 'n vlammetjie
na 'n fakkel groei. Mog dit egter bestem wees dat dit na 'n veldbrand
van republikeinse volksvryheid kan groei, wat ons volk se geesdrif
weer laat opvlam soos dit was in 1940, en dat ons weer by ons eie vrye
republiek kan uitkom.
More gaan daar waarskynlik weer geskiedenis gemaak word, net soos die
sewentigduisend mense in 1940 onbewustelik geskiedenis gemaak het, en
waarskynlik daarmee die verloop van die toekomstige geskiedenis in 'n
rigting gestuur het. Daarom is dit nodig dat die volk more in
maksimale getalle na Paardekraal opruk, ongeag hoe warm of hoe koud
die weer is, om weer geskiedenis te maak, en hopelik die verloop van
die geskiedenis in die toekoms in die regte koers te druk.
Die geskiedenis kan homself herhaal more. Dit sal nie vryheid oormôre
beteken nie, maar kan inderdaad 'n verskil in die toekoms maak. Maar
ook hier geld die bekende woorde van President Brand: "Alles sal
regkom… as elkeen sy plig doen…" Elkeen se eerste plig is om more op
Paardekraal die stryd van ons voorouers te herdenk, en dit ons s'n te
maak vir die toekoms.
http://www.bravoland.co.za/forum/index.php?topic=5414.new;topicseen#new