Wednesday, September 10, 2008

Kimberley - Sol Plaatje in geldelike gemors

Sol Plaatje 'gaan in die drein af'
Sep 10 2008 Volksblad
Hannatjie van der Merwe
KIMBERLEY. – Die Sol Plaatje-munisipaliteit is in 'n baie groot
geldelike gemors weens veral miljoene rande wat betaal word aan
Intelligent Meter Systems (Pty) Ltd (IMS) wat nie nou werk vir die
munisipaliteit doen nie.
'n Munisipale belegging van R3 miljoen moes selfs vroeër uitbetaal word
sodat dié geld aan IMS betaal kon word.
Dié R3 miljoen moes eintlik gebruik word vir R16 miljoen wat in die
volgende week aan Eskom betaal moet word.
Dié inligting het gister bekend geword op 'n spesiale
stadsraadsvergadering wat dringend gehou is.
Van die raadslede was bekommerd dat die stad se krag moontlik afgesny
kan word as Eskom nie betaal word nie.
Me. Gladys Mthukwane, waarnemende burgemeester, het verslag oor die
stand van sake gedoen.
Sy het gevra hoekom moet mnr. Frank Mashilo, munisipale bestuurder, nie
geskors word nie. "Die finansiële hoof (me. Nandi Madiba) moet ook redes
gee hoekom sy nie geskors moet word nie. Hoekom moet mnr. Khuza Bogacwe
(direkteur: tegniese dienste) nie geskors word nie?"
Dié munisipaliteit is vroeër in 'n tussentydse bevel verbied om verdere
voorafbetaalde elektriese meters in woonhuise hangende 'n
multimiljoenrand-hersieningsaansoek aan te bring.
Actaris South Africa (ASA), wat aanvanklik vir die verskaffing en meting
van die voorafbetaalde elektriese toestelle in die stad verantwoordelik
was, het die dringende aansoek by die hooggeregshof ingedien.
Waarnemende regter-president L.O. Bosielo was in sy uitspraak verbyster
dat die Sol Plaatje-munisipaliteit die "astronomiese" bedrag van R94
miljoen van IMS ten koste van ASA se aanbod van R36 miljoen aanvaar het.

Dit het gister aan die lig gekom dat die munisipaliteit sowat R16
miljoen aan IMS moet betaal.
'n Dokument sê op 2 September 2008 het die munisipaliteit 'n bewys van
IMS van R10 miljoen gehad bestaande uit drie fakture van R3,42 miljoen
wat betaal moet word.
"Die finansiële hoof is ingelig daar is nie geld beskikbaar om dit te
betaal nie omdat 'n tekort aan kontantvloei toe ondervind is. Die
munisipaliteit het net twee beleggings van R3 miljoen wat in die nabye
toekoms uitkeerbaar is."
Dit wil die munisipaliteit gebruik vir die Eskom-betaling van R16,8
miljoen wat toe oor twee weke betaal moes word.
"Die finansiële hoof het die bank gekontak en 'n reëling getref vir die
vroeëre beskikbaarheid van 'n belegging van R3 miljoen wat op 3
September uitbetaal is (net R2,9 miljoen) wat gebruik is om een faktuur
van IMS te betaal. Mnr. Lawrence Matsekete (ANC) het gister gesê:
"Hierdie munisipaliteit gaan elke sekonde van elke dag die drein af."
Mthukwane het gesê daar is selfs 'n moontlikheid dat raadslede nie hul
salarisse gaan kry nie.
"Sedert ek die waarnemende burgemeester is, kry ek klagtes oor finansies
en korrupsie. Ons kan nie so aangaan nie."
Sy het gesê sy is baie teleurgesteld met die werkverrigting van die
munisipale bestuurder (wat gister afwesig was).
"Ek het na huil gevoel. Van ons (raadslede) is werkloos. Ons kan sonder
salarisse wees omdat die munisipale bestuurder nie sy werk doen nie.
"Hoekom moet die munisipale bestuurder nie geskors word nie? Boonop is
munisipale rekeninge laat, lesings is verkeerd en inwoners is nie meer
lus om te betaal nie."
Mnr. Ronnie Bauser (DA) het gesê 'n dokument moet opgestel word met al
die bewerings teen die munisipale bestuurder. Sy skorsing moet hangende
'n ondersoek wees.
Daar is besluit dit moet binne sewe dae gedoen word en 'n forensiese
oudit moet ook gedoen word. ) Die stadsraad het op 31 Maart vanjaar op
'n spesiale raadsvergadering besluit dat enige toekomstige betalings aan
IMS tot verdere kennisgewing teruggehou word.

Tuesday, September 9, 2008

Gebed van ‘n Republikein

In stille nag ure voor 'n koue vuur,
word die stilte beklem met 'n eensame gluur…
Stil, roerloos glinster die vlamme hul ballade,
hitte wat stroom uit aardse sade.
Alleen, diep bevange in sy eie bepeinsing
begin sy gedagtes, met eer, die vraag te sing…

Wat is nodig, Heer?
Ek sal alles gee, en as U dit verlang, meer…
Wat is nodig Heer, vir vryheid?
Waar moet ek soek: noord, suid?
Moet ek by U kom skuil,
of is ek Heer… voor U te vuil?
Dan Heer, dit is tyd, reinig my!
Maak U volk skoon, maak my vry!
Skei pienk en rooi bloed, Heer
want rooi bloed sal vloei tot U eer!
Ek is gereed: vir U volk, sal ek sterf!
Gebruik dit, Heer… om U volk te kerf!
Groot en almagtige God aan U al die eer
U is my God en U volk se reddende Heer!

Skielik word die nagtelike stilte verbreek.
Die Republikein verlang om met jóú te spreek…
Is jy gereed om vir jou volk te sterf?
Het jy wat my vriend is genoeg geswerf,
en sonder om dit te beplan… ons kreet:
Volkgenood: Is jy gereed?

Derick le Roux

Monday, September 8, 2008

D R Art Glass Studio

Alle loodglas en brandskildering van glas vanaf nuwe ontwerpe ,
herstelwerk , restourasie en loodglas klasse tot geskenke van loodglas
deur hierdie professionele kunstenaar , beste in die land . Ek doen
werk dwarsdeur die land en die buiteland .
Besoek my webwerf by http://www.stained-glass.co.za
Webwerf is Afrikaans en engels en ek is besig om op te gradeer , dit
mag miskien snaaks lyk met die hoofblad nuut en sommige ander blaaie
nog in ou formaat .
Al my kontak besonderhede is op die blad .
Danie de Klerk

Volksvergadering

4 September 2008

Geagte volksgenoot,

VRYHEIDSKONFERENSIE

'n Tyd gelede het ons die voorstelle vir 'n volkskongres/vryheidskonferensie aan u gestuur. Die raadplegingingsfase is nou afgehandel en die volledige verslag van die meningsopname word hierby ingesluit. Indien u moontlik nie die voorstelle ontvang het nie, kan u dit lees in Vryheidsbulletin nr 20 op ons webtuiste by vryheidenreg.com.

Uit die opname is dit vir ons duidelik dat verreweg die meeste Boere/Afrikanerorganisasies op hierdie stadium nie gereed is vir 'n byeenkoms in sy voorgestelde vorm, naamlik 'n landswye verteenwoordigende kongres/konferensie van die groots-moontlike getal organisasies nie. Die BVI het aan die hand van die resultate van die meningsopname gekonsulteer met die ander instansies wat ook met inisiatiewe vir so'n byeenkoms begin het. Daarop gebaseer dink ons dat daar op die volgende wyse met hierdie saak vorentoe beweeg moet word:

* Die tyd vir die beoogde byeenkoms in sy huidig-voorgestelde vorm is nie nou ryp nie. Dit is egter uiters noodsaaklik dat daar 'n gesamentlike strategie vir die herwinning van ons vryheid ontwikkel moet word en daarvoor sal verteenwoordigers van ons volksorganisasies wel op een of ander stadium in die toekoms bymekaar moet kom.

* Daar was egter ses organisasies en dertig individue by wie daar 'n behoefte aan so 'n konferensie bestaan. Dan is daar nog twee organisasies wat voorwaardelik ingestem het. Saam met die BVI gee dit nege organisasies. Ons kan aanvaar dat hulle verteenwoordigend is van 'n groter getal mense. Ons voel dus dat ons moet voortgaan met die byeenkoms, maar in 'n ander vorm. 'n Vryheidskonferensie waarheen alle vryheidsgesinde Boere/Afrikaners in hulle persoonlike hoedanighede uitgenooi word, moet gehou word. Dit sal dus nie meer 'n konferensie wees waarheen organisasies verteenwoordigers stuur nie maar een wat individue in hulle eie hoedanighede bywoon.

* Die doelstellings van die konferensie sal nog dieselfde bly naamlik:

* Vryheidsgesinde Afrikaners moet mekaar persoonlik ontmoet en beter leer ken.
* Gedagtes oor bestaande en beplande vryheidsaksies kan uitgeruil word.
* Daar kan besin word oor 'n gesamentlike strategie vir die herwinning van ons vryheid.

Sommige praktiese reëlings sal bietjie aangepas moet word om vir die veranderde vorm van die konferensie voorsiening te maak. Na ons mening sal dit beter wees om dit op 'n sentrale plek soos byvoorbeeld Bloemfontein te hou ten einde meer individue die geleentheid te gee om dit by te woon en verder sal dit baie moeilik wees om dit nog gedurende 2008 te hou. Ons dink dat ons moet kyk na 'n datum in 2009 soos 6 April (Van Riebeeckdag/Stigtingsdag) of 31 Mei (Bittereinderdag/Republiekdag).

* Dit is belangrik dat die konferensie op so'n wyse ingerig word dat dit 'n konkrete, positiewe bydrae tot die uiteindelike herstel van ons vryheid in 'n soewereine staat kan lewer. Die doel moet wees om bestaande aksies, wat tans op 'n gefragmenteerde basis plaasvind, te koördineer en kragte saam te snoer om 'n groter impak te maak. Wanneer die konferensiegangers na die konferensie huistoe gaan, moet elkeen presies weet wat hy/sy prakties kan doen om die vryheidsideaal te bevorder. In besonder moet mense toegerus word om die vryheidsideaal tot op voetsoolvlak in die harte van mede-volksgenote in te dra. Die beweging vir vryheid sal uit die volk self moet kom. Alleen dan sal ons uiteindelike vryheid, as God ons dit genadiglik skenk, 'n blywende, langtermyn karakter hê.


'n Beplanningsvergadering word DV op Saterdag 20 September in Bloemfontein gehou waarheen alle voornemende beskermhere uitgenooi word. Ons het egter besluit om ook ander persone wat alreeds hulle belangstelling in en meelewing met ons vryheidstryd betoon het, uit te nooi om die vergadering in hulle persoonlike hoedanigheid by te woon. U is een van hierdie persone. Die vergadering word om 10h00 in die CVO-skool Dankbaar se saal gehou. Bloemfontein is gekies vanweë sy sentrale ligging. Dit sal waarskynlik duur tot ongeveer 16h00 en 'n ligte middagete en verversings sal teen geringe koste aangebied word. Vir roete-aanwysings kan mnr Marius de Vos by 082 - 745 5183 geskakel word. Die BVI sal as sameroeper van die vergadering optree en by die aanvang daarvan sal 'n voorsitter uit die aanwesiges gekies word. Die doel van die vergadering sal wees om finaliteit te kry oor die doelstellings en praktiese reëlings vir die beoogde vryheidskonferensie en om 'n datum en 'n plek daarvoor te bepaal. Die voorstelle in verband met die volkskongres/ vryheidskonferensie wat uitgestuur is, sal as basis van bespreking dien maar 'n volledige agenda sal voor die vergadering gestuur word aan alle persone wat die vergadering wil bywoon.

Ons vertrou dat dit vir u moontlik sal wees om die beplanningsvergadering by te woon. Ons sal baie graag u antwoord voor of op Donderdag 18 September 2008 wil ontvang. Hierby ingeslote is 'n vormpie wat u kan gebruik om op die uitnodiging te reageer.

Verskoon asseblief die onpersoonlike vorm van hierdie brief. As gevolg van tydsdruk moes ons noodgedwonge op dié wyse te werk gaan.


Met vriendelike groete

Frikkie Strauss

nms Dagbestuur van die BVI



* Ek .................................................................................beplan om die beplanningsvergadering wat DV op Saterdag 20 September in Bloemfontein gehou word, by te woon. (Aantal persone.........................)


*******************************************************
* Ek kan nie die vergadering bywoon nie, maar is gewillig om 'n bydrae van R............. tot die delging van die kostes daarvan te maak.

********************************************************
Naam: ....................................................................................
Posadres/e-posadres:.................................................................
Tel/Sel:....................................................................................
Stuur na BVI by Posbus 339, Piketberg 7320, Faks 022 - 913 1482,
e-pos strausse@xsinet.co.za of bel ons by 022 - 913 2391

Bankbesonderhede: BVI : Absa, 334-211 : 910 397 1109


Dokument beskikbaar by :
http://groups.google.com/group/onsstem-van-die-nasie/browse_thread/thread/4948e27959a5d874

Sunday, September 7, 2008

Man help grypdief vang, self aangekla

Sep 06 2008 03:31:32:080PM

Sonja Carstens
Pretoria

Mnr. Stefan Kloppers het 'n meisie te hulp gesnel en 'n grypdief
platgetrek wat haar van haar selfoon beroof het, maar nou word dié
held aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer.


Kloppers (34) van Cullinan se heldedaad op 20 Julie vanjaar het binne
minute in 'n nagmerrie verander toe hy in hegtenis geneem is.

Sy skoenveters en gordel is van hom afgeneem en hy is twee dae lank in
'n sel by die Brooklyn-polisiekantoor toegesluit voordat hy op borgtog
van R2 000 vrygelaat is.

"Nooit wéér in Suid-Afrika help ek 'n slagoffer van misdaad nie," het
Kloppers die afgelope week gesê nadat hy vir die tweede keer in die
Hatfield-gemeenskapshof verskyn het.

Kloppers word vervolg hoewel die polisie nog nie sy "slagoffer", die
vermeende grypdief, se verklaring afgeneem het nie. Die polisie het
ook nog nie die vermeende grypdief in hegtenis geneem vir die roof van
die selfoon nie.

Kloppers het op dié gewraakte nag saam met vriende in 'n re-staurant
in Hatfield gaan eet. Hulle was op pad na sy motor toe hulle sien hoe
'n lap-swaaier die meisie lastig val.

"Ek het gedink hy soek geld en het aangestap. Skielik het die meisie
gegil en geskree hy het haar selfoon. Ek het hom agternagesit en hom
getekkel soos wat ek dit gedoen het toe ek op skool rugby gespeel
het," vertel Kloppers.

Hy het die selfoon uit die man se hand geneem en dit aan die meisie
terugbesorg. "Hy het nie teëgestribbel nie," sê Kloppers.

Volgens hom het verskeie omstanders nader gehardloop. Kloppers het in
sy motor geklim en gesien hoe van die omstanders die grypdief skop.

"Toe ek by die parkeerterrein wou uitry, het vyf veiligheidswagte in
'n motor my voorgekeer en gesê ek moet net daar bly, want hulle het
'presies gesien' wat gebeur het.

Die polisie is ontbied.

"Die polisie het my gevra om agter hulle aan te ry na die
polisiekantoor. Ek het dit gedoen onder die indruk dat ek 'n
verklaring sou aflê.

"By my aankoms is ek in hegtenis geneem," vertel Kloppers.

Mnr. Dirk Human, Kloppers se regsverteenwoordiger, het die afgelope
week beswaar gemaak toe die staat wéér gevra het dat die verhoor
uitgestel word vir 'n verklaring van die vermeende grypdief.

Die hof het gehoor die polisie het die "slagoffer" se adres, maar het
hom nog nie opgespoor nie.

Volgens Human het die polisie meer as ses weke tyd gehad om dit te
doen. "Die sogenaamde slagoffer is ook 'n vermeende grypdief," het
Human aangevoer.

Hierop was landdros Christo-pher Chokwe se antwoord: "As iemand jou
foon steel, rand jy hom nie aan nie. Jy bel die polisie."

Chokwe het die verhoor vir verdere ondersoek uitgestel.


Oorsprong:

Lees die storie by:
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2389299,00.html

Saturday, September 6, 2008

Verwysings na wapens op jeugliga-CD kwel MRK

Sep 05 2008 08:25:31:183PM - (SA)

Carien du Plessis

As dit van die ANC-jeugliga afhang, is die verkiesingsveldtog se
klankbaan die geluid van masjiengeweervuur, AK47's en oorlogsliedere –
iets wat die Menseregtekommissie (MRK) laat regop sit.

Die jeugliga beplan om met sy 64ste verjaardagvieringe volgende week
'n CD met die oog op volgende jaar se verkiesing bekend te stel.

Mnr. Floyd Shivambu, jeugliga-woordvoerder, het gister gesê die CD
bevat "liedere wat ons in die organisasie sing, niks dramaties nie".

Die CD is deur die platejoggie Oskido van YFM vervaardig.

Talk Radio 702 het gister 'n eksemplaar daarvan in die hande gekry.
Die lirieke van een liedjie, wat in Zoeloe gesing word, lui: "Ons is
gewapen met AK47's. Ons is gewapen met PK's (masjiengewere). Ons wil
veg. Voorwaarts met die stryd, voorwaarts met die oorlog."

Mnr. Jody Kollapen, MRK-voorsitter, het gesê die kommissie kwel hom
oor die liedjies.

"Wat ook al die bedoeling agter dié . . . woorde; die simboliek is
iets wat ons moet vermy.

"Die kwessie van geweld in die gemeenskap is so dat ons eerder van die
taal van geweld moet wegbly."

Mnr. Julius Malema, jeugliga-leier, het voorheen deurgeloop nadat hy
gesê het die jeug sal doodmaak vir Zuma.

Die jeugliga het ook gister gesê hy hoop om sy ledetal teen die einde
vanjaar te verhoog. Dit het van 500 000 in 2004 tot 317 000 gedaal.

Shivambu het gesê dit is weens die registrasieproses wat verander het.
Die jongste syfer dateer volgens hom van Februarie, en hy sê
voornemende lede bel die jeugliga daagliks.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2388978,00.html

Mag, gulsigheid en geld.....

'Mag, gulsigheid en geld' – dit is waaroor dit gaan
Sep 04 2008 Ons Stad
Marietjie Gericke
Prof. Fief van der Merwe, koukusleier van die DA-koukus, het op die
jongste spesiale raadsvergadering van Mangaung gesê weens die ANC se
alewige binnegevegte in die raad mors die belastingbetaler se tyd en
steel hy die belastingbetaler se geld.
"Kosbare werkure word verspeel waarin belangrike take vervul moes word.
Mense wat hul werk doen, word verdag gemaak, terwyl ander wat nie hul
werk doen nie, soos gereflekteer in die verslag oor die munisipale
bestuurder, weer moontlik in hul poste heringestel sal word."
Van der Merwe wou weet wat die uitvoerende burgemeester me. Getrude
Mothupi en die speaker me. Mahlomola Ralebese verkeerd gedoen het.
Volgens die DA het hulle niks verkeerd gedoen nie, maar omdat daar binne
die ANC twee faksies bestaan en hulle nie aan die "regte" groep behoort
nie, word hulle geviktimiseer en gedwing om met verlof te gaan.
Van der Merwe het gesê alles gaan oor mag, gulsigheid en geld omdat 'n
mens in 'n magsposisie meer geld verdien. "Die ANC maak of hy so
demokraties in sy benadering is, maar as jy nie met hom oor alle sake
saamstem nie, word jy uitgewerk. Dit is nie aanvaarbaar dat al die
veldtogte en politieke speletjies die belastingbetaler geld kos nie.
Dit, terwyl bankrotskap die munisipaliteit in die gesig staar. Geld word
verkwis, terwyl net 'n handjievol ANC-lede van die 'regte-groepering'
voordeel uit al die binnegevegte trek. Die meerderheid van die mense wat
hulle veronderstel is om te dien, gaan gebuk onder armoede."
Ná besware van ANC-raadslede het mnr. Rassie Erasmus, wat waargeneem het
as speaker in die Mangaung-raad, Van der Merwe beveel om nie verder
bewerings oor geld te maak nie, aangesien dit nie ter sprake was in die
verslag van die burgemeester waaroor Van der Merwe se toespraak gegaan
het nie.
Raadslid Mxolile Siyonzana, hoofsweep van die ANC, het gesê dit gaan oor
'n aansoek om verlof wat die uitvoerende burgemeester en die speaker
versoek en nie oor partypolitiek nie.
Raadslid Gert Fouché van die Vryheidsfront+ het gesê die skorsing van
die uitvoerende burgemeester en die speaker deur die ANC is 'n interne
politieke aangeleentheid wat deur die ANC gehanteer en opgelos moet
word.
Die afwesigheid van politieke leiers in die raad beïnvloed egter die
administrasie en werkverrigting van die raad nadelig. Daarom doen hulle
'n ernstige beroep op die ANC en sy strukture om die dissiplinêre
prosedure so spoedig moontlik af te handel.
Raadslid David van Vuuren van die DA het gesê pres. Thabo Mbeki het
vroeër in sy staatsrede gesê die ANC moet so flink regeer dat dit
business unusual is, maar wat 'n mens hier sien, is business as usual of
no business at all
* Hy het ook te kenne gegee dat hy nie ten gunste van die verlof is
nie.
Raadslid Hendrik Minnie van die ACDP het gesê die probleme van die ANC
is soos die Cremora-advertensie: It is not inside, but on top.
Hy het begin deur al die ANC-raadslede wat die vergaderings in die
laaste tyd geboikot het, welkom te heet by die vergadering aangesien
bykans almal teenwoordig was. Hy het gesê wat binne die ANC aan die gang
is, het 'n verleentheid vir almal geword en die binnegevegte belemmer
dienslewering.
"Ons kan nie die spinnerak verwyder sonder die spinnekop nie."
Die ACDP het ook gesê dat hy nie ten gunste van die verlofaansoeke vir
die burgemeester en die speaker is nie.
Mnr. Theo Coetzee van die DA het gesê die huidige gebeure in die
Mangaung-raad is 'n swart dag vir Suid-Afrika en in besonder ook vir
Bloemfontein se geskiedenis. As in ag geneem word dat die ANC bykans 100
jaar vir vryheid geveg het, dan moet 'n mens die vraag vra: Wat het van
sy vryheid geword? "Die vryheid word deesdae vervang met die
binnegevegte van die ANC om 'n posisie in die party.
"Demokrasie bestaan nie vir die ANC nie, want as hulle nie met iemand
saamstem nie, word hy eenvoudig uitgewerk. Dit is 'n sprekende voorbeeld
van wat hier in die raad gebeur, toe die ANC besluit het om aan die
uitvoerende burgemeester en speaker verlof toe te staan om die ANC die
kans te gee om hul binnegevegte uit te sorteer.
"Die ANC verontskuldig hom deur te sê dat die DA ook sy burgemeester in
die Wes-Kaap ontslaan het. Dit het egter gebeur sonder enige ontwrigting
in die raad, sowel as in die proses van dienslewering.
"Dié binnegevegte van die ANC word, behalwe wat in die Vrystaat gebeur
en ook in Mangaung, baie duidelik geïllustreer deur die ANC se kongres
in Noordwes waar hulle meer vuis geslaan het as om besluite te neem. In
die Oos-Kaap is die saal waar die kongres gehou sou word, in die proses
afgebreek.
"Al wat oorgebly het, as 'n bewys van die ANC se swak gedrag, was leë en
gebreekte drankbottels. In die Noord-Kaap het hulle vir die drie dae
lank gesukkel om hul kongres aan die gang te kry en meer as een mens het
al sy lewe in die proses opgeoffer.
"Die ANC verkondig die mense sal regeer, maar soos in Zimbabwe wat nou
deur Mugabe geregeer word, word Suid-Afrika deur Luthuli-huis in
Johannesburg geregeer."
* 'n Besluit is op die raad geneem dat die speaker en uitvoerende
burgemeester betaalde verlof kan neem soos wat hulle tot hul beskikking
het, en dat dit nie 31 dae mag oorskry nie. Indien hulle langer verlof
wil neem, sal hulle weer by die Mangaung-raad hiervoor aansoek moet
doen.
Me. Eva Moilwa, adjunk of burgemeester, is toe deur die ANC aangewys as
waarnemende burgemeester vir die tydperk, terwyl mev. Maureen Scheepers
as waarnemende speaker in 'n verdeling van stemme aangewys is ondanks
die feit dat die DA daarop gewys het dat 'n lid van die uitvoerende
burgemeester se komitee nie ook as speaker mag waarneem nie.

Friday, September 5, 2008

VVK - Selfbeskikking 'n reg , nie voorreg nie

Geagte Redakteur,
SELFBESKIKKING 'N REG, NIE 'N VOORREG
Met verwysing na die brief van Bossie Marais (Rapport, 10 Augusus
2008) die volgende:
Art. 235 van die Grondwet is alles behalwe 'n "vae omskrywing". Dit
erken, onder andere,
ondubbelsinnig die reg van 'n taal- en kultuurgemeenskap (soos ons
volk) op territoriale
selfbeskikking in 'n gebied binne Suid-Afrika.
Selfbeskikking is verdermeer alles behalwe 'n "abstrakte begrip". Dit
is 'n duidelike
regsbegrip wat veranker is in die Volkereg en in talle internasionale
verdrae; byvoorbeeld
die "Internasionale Verdrag op Burgerlike en Politieke Regte" wat
bindend is op alle
lidstate van die Verenigde Nasies (dus, ook op Suid-Afrika).
Betreffende Grondwet-artikels wat na bewering teenstrydig met Art. 235
sou wees, geld
die normale reëls van Wetsuitleg - naamlik dat 'n Wet in sy geheel
geïnterpreteer moet
word; asook dat aan elke onderdeel van 'n Wet, 'n gevolg verleen moet word.
Enige volk (hetsy dit meerderheidsbesetting van 'n gebied geniet al
dan nie) is 'n draer
van die reg op selfbeskikking. Ons volk se reg op selfbeskikking word
tans geskend, en
ons is op die herstel daarvan geregtig; dit is nie een of ander guns
wat ons gedoen sou
word deur die Regering nie. Soos met enige ander reg wat geskend word,
is daar egter 'n
voorgeskrewe proses wat gevolg moet word om hierdie reg herstel te
kry. Die eerste stap
in só proses is dat 'n volk verteenwoordigers demokraties moet verkies
wat beklee sal
wees met 'n mandaat om ons territoriale selfbeskikking by die Regering
te eis en te
beding.
Die onafhanklike Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) is in proses om
kiesers op 'n
kieserslys vir sodanige volksverkiesing te registreer; en
belangstellendes wat verdere
inligting verlang is welkom om ons webwerf by http://www.vvk.co.za te
besoek. Laat ons ophou
spekuleer oor moontlike teenkanting van 'n Regering wat hierdie
artikel in die eerste plek
op die wetboek geplaas het – laat ons doen wat ons hand vind om te
doen terwyl ons
geloof en hoop gevestig bly op God wat die suidpunt van Afrika as
woonplek vir ons volk
bestem het.
Paul Kruger, Pretoria (Praktiserende prokureur en Voorsitter:
Volksraad Verkiesing
Kommissie)

Thursday, September 4, 2008

Kaap van storms

Hier is 'n paar wat in Seepunt en Mouille Punt in Kaapstad geneem is.

ANC meer verdeeld

Beeld-forum: ANC-kampe ál meer verdeeld

Sep 03 2008 06:34:20:607PM

Die rolle doringdraad rondom die skouterrein in Nelspruit was nie daar
om die skurke of regses uit te hou nie, maar wel die kamerade wat nie
afgevaardigdes tot die ANC se Mpumalanga-konferensie was nie.

Carien du Plessis

Die rolle doringdraad rondom die skouterrein in Nelspruit was nie daar
om die skurke of regses uit te hou nie, maar wel die kamerade wat nie
afgevaardigdes tot die ANC se Mpumalanga-konferensie was nie.

Verlede maand se konferensie was reeds die derde probeerslag, en soos
die Engelse sou sê, was dit third time lucky en vreedsaam.

In Kuruman, waar die Noord-Kaap se provinsiale konferensie verlede
week plaasgevind het, is traangas en polisiebeamptes ingespan om vrede
tussen die strydende ANC-lede te maak. Ook hierdie konferensie het op
die ou end nuwe leiers verkies, maar die ongelukkige verloorders, wat
nou hul heenkome in ander partye wil gaan vind, het laat blyk dat die
konferensie verdelend was.

Die interessante deel van hierdie twee onlangse konferensies is egter
dat die leiers wat om die vyf topposisies meegeding het, almal mnr.
Jacob Zuma se verkiesing as ANC-leier tydens die Polokwane-konferensie
verlede jaar gesteun het.

Dit was te wagte dat die sogenaamde Zuma-kamp ná Polokwane verdeeld
sou wees, veral omdat dit 'n ope geheim was dat almal wat hulle teen
pres. Thabo Mbeki geskaar het, nie noodwendig eerste vir Zuma sou stem
nie. Dis net dat Mbeki hul laaste keuse was.

Byvoorbeeld: Die ANC-jeugliga se kritiek verlede week teen mnr.
Kgalema Motlanthe, ANC-adjunkpresident, is tekenend van 'n wantroue in
Motlanthe wat lankal reeds bestaan onder sommige (senior) ANC-leiers
wat Zuma steun.

Die jeugliga het Motlanthe gekritiseer nadat hy hulle gepak het oor
die manier waarop hulle hul veldtog teen Zuma se korrupsiesaak bedryf.

Reeds voor Polokwane was daar al vrae oor Motlanthe se presidensiële ambisies.

Hy is in 'n stadium ook deur die Mbeki-kamp as 'n kandidaat vir hul
lyste oorweeg en is nie wyd in die party as 'n 100%-Zuma-man beskou
nie.

Sy steun vir die Zuma-kamp was egter van strategiese waarde, want as
ANC-sekretaris-generaal had hy sy vinger op die pols van die party.

Zuma en ander senior ANC-leiers se besoek aan Morogoro in Tanzanië
vandeesweek sal waarskynlik pynlike herinneringe vir die ANC
terugbring. In 1969 het die ANC in ballingskap 'n baie belangrike
konferensie hier gehad. Mnr. Ben Turok het toe gewaarsku teen 'n party
wat besig was om uitmekaar te val met probleme soos 'n tekort aan
dissipline en politieke leiding, elitisme, en wanadministrasie.

Soos toe, is die ANC nou ook pynlik bewus van sy tekortkominge. Dié
party se nasionale werkkomitee het egter die pot misgesit toe dit
vandeesweek in 'n verwarrende mediaverklaring die Zuma-saak die skuld
gegee het vir verdelings in die party en die land.

As dit waar is, hoekom is daar steeds verdelings onder mense wat almal
dieselfde oor Zuma voel? Die stryery op die konferensies in Mpumalanga
en die Noord-Kaap was eerder oor watter leier en sy vriende volgende
jaar in beheer van die provinsies se openbare geld sal wees.

Mnr. Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, het gister juis weer in
'n radiodebat op SAFM gesê die party is nie verdeeld oor beleid nie,
maar het wel "probleme" met mense wat magsbehep is.

Dié "probleme" gaan oor gierigheid vir politieke gunste en openbare
geld, twee kwessies wat in die Zuma-saak ter sprake is.

Een daadwerklike manier om dié "probleme" aan te pak, is om die saak
teen Zuma sy gang te laat gaan.

As die ANC-leier dan skuldig is en die minimum vonnis van 15 jaar
tronkstraf weens korrupsie kry, kan hy as voorbeeld dien vir dié
ANC-leiers wat bloot gierig is.

Alles dui egter daarop dat hy nie onselfsugtig genoeg sal wees om sy
moontlike presidentskap hiervoor op te offer nie.

Nog 'n manier, wat selfs tot voordeel van Zuma kan strek, is om skuld
te beken in 'n pleitooreenkoms met die staat, wat hom moontlik steeds
in staat sal stel om die land se president te word. Dit kan hom selfs
ondersteuning wen uit oorde waar sy integriteit tans in twyfel getrek
word.

Tydens die 1969-konferensie was daar mense in die ANC wat so vas geglo
het in 'n goeie toekoms vir die mense van ons land dat hulle bereid
was om hul lewens op te offer.

Dus is hierdie bietjie selfopoffering wat van Zuma 'n grootse leier
sal maak, tog sekerlik nie te veel gevra nie.

Carien du Plessis is Beeld se politieke beriggewer.


Oorsprong:
Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Opinie/Rubrieke/0,,3-2085-66_2387552,00.html

FJS Finansiële Dienste

BELASTING- EN FINANSPLAN VIR
KLEIN ONDERNEMINGS


* KLEIN ONDERNEMERS HET BESONDERE BEHOEFTES

Sover dit belasting en finansies betref, het die klein ondernemer die
volgende behoeftes:

* Hy wil seker wees dat hy aan alle wetlike vereistes
voldoen, ten einde nie met die Ontvanger probleme te hê nie. *
Hy wil graag sy belastinglas tot 'n absolute minimum beperk. * Hy
wil graag ingelig bly oor die stand van die finansies van sy
onderneming. * Hy wil beheer oor sy onderneming se finansies hê.
* Hy wil dit alles met die mins-moontlike tyd en teen die
laags-moontlike koste bereik.


* BELASTING- EN FINANSPLAN

FJS Finansiële Dienste se Belasting- en Finansplan is 'n professionele
produk wat spesifiek ontwikkel is om te voorsien in die behoefte van
die klein ondernemer en dit behels die volgende:

 Die voltooiing en indiening van alle wetlik-vereiste vorms en opgawes.

 Die volledige benutting van die beskikbare belastingvoordele van
Kleinsake Korporasies (KSK's). Dit behels die volgende:

• KSK's is 'n paar jaar gelede ingestel deur Art 12E van die
Inkomstebelasting-wet en bied die heel laagste belastingtariewe van
alle ondernemingsvorms.
Op 'n netto-inkomste van R300 000 sal 'n KSK tans R25 400 (8%),
'n individu R64 930 (22%), 'n gewone maatskappy of BK R84 000 (28%)
en 'n trust R120 000 (40%) betaal. Met vindingryke beplanning kan 'n
KSK se belastinglas afgebring word tot so laag as R18 900 (6%).

• KSK's geniet die beste slytasietoelaes. Algemene toerusting kan
binne drie jaar afgeskryf word en vervaardigingstoerusting binne een
jaar.

• 'n KWB-korting van R750 000 geld en eenvoudiger Inkomste-belasting
en BTW-voldoeningsvereistes word in die vooruitsig gestel.

(Die voordele is beskikbaar vir ondernemings met 'n omset van
tot R14 miljoen en is ook beskikbaar vir boere. Vir ondernemings wat
nie kwalifiseer vir KSK-voordele nie, is daar baie ander
belastingbeplanningsgeleenthede om te benut, insluitende die optimale
aanwending van trusts).

 Onder ons Belasting- en Finansplan help ons klein ondernemings om
die belastingvoordele van KSK's te benut. Dit behels die volgende:

• Verskaffing van inligting en doen van beplanning vir die gebruik van KSK's.

• Die oprigting van die vereiste strukture en verfyning van
bestaande strukture.

• Die mees belastingdoeltreffende oordra van die bates, die opening
van bankrekeninge en registrasie vir statutêre doeleindes, soos vir
Inkomste-belasting en BTW.


 Die plan behels verder die volgende:

• Die instelling en/of verdere verfyning van 'n boekhoustelsel wat
daarop gerig is om aan die ondernemer tersaaklike, tydige en korrekte
inligting oor sy besigheid te verskaf.

• Die instelling en/of verfyning van beheersisteme oor vaste bates,
bankreke-ninge, debiteure, krediteure en voorraad.

• Hulp met finansiële en operasionele beplanning, opstel van
sakeplanne, begrotings, kontantvloeistate en finansiële state.


* WATTER VOORDELE IS DAAR VIR DIE KLEIN ONDERNEMER ONDER ONS
BELASTING- EN FINANSPLAN?

 Wesenlike belastingbesparings: In een jaar alleen kan ±R63 000
teenoor 'n gewone maatskappy of BK bespaar word met 'n relatief lae
inkomste van R300 000. Vir hoër inkomstes en veral binne
familiebesighede en –boerderye kan die besparings oor verskeie jare
enorme bedrae beloop.

 'n Dinamiese en vaartbelynde boekhoustelsel: Dis 'n
boekhoustelsel wat so aangelê en bedryf word dat die ondernemer dit as
'n effektiewe bestuursinstrument kan gebruik en die koste in verband
daarmee nie net 'n dooie, onproduktiewe las is nie.

 Doeltreffende beheer oor bates: Hierdeur kan die ondernemer sy
bates behoorlik beskerm en beheer en skades en verliese tot die
minimum beperk.


* ALGEMEEN

 Die plan is daarop gerig om administratiewe rompslomp uit die
hande van die ondernemer te neem ten einde hom in staat te stel om
homself op 'n bevredigende wyse toe te lê op sy besigheid se
waardeskeppende aktiwiteite.

 Ondernemings wat reeds rekenmeesters het, het nie nodig om van
rekenmeester te verander wanneer hulle van ons dienste gebruik maak
nie. Ons dienste kan beperk word tot die beplannings- en/of
implementeringsfase.

 Ons werk teen fooie wat vir klein ondernemings bekostigbaar is.
Voorafberaminge kan gegee word en ons verwag slegs dat ons rekeninge
betaal word as ons vir kliënte waarde geskep het.

************************

Vir meer besonderhede oor ons Belasting- en Finansplan of vir 'n
onderhoud skakel ons asseblief by:

Telefoon : 022 – 913 2353 * Faks : 022 – 913 1482
* Sel : 082 – 493 3785
E-pos : strausse@xsinet.co.za * Langstraat 101, Piketberg

*************************
EIENAAR:

FRIKKIE STRAUSS : MA, B.Compt, NDFB, CFP : Professionele Rekenmeester
*************************
Ons het ook kantoorfasiliteite in Bellville