Wednesday, August 3, 2011

NUUSKOMMENTAAR - 3 Augustus 2011

Komaan, waar is julle stemme nou?

'n Groepie studente dink hulle is snaaks en neem 'n foto van ander studente wat maak of hulle Adolf Hitler is. Wat gebeur? Die radiostasie wat dit gedoen het, word gedwing om die foto en inskrywing van hulle Internet-blad te verwyder omdat hulle so onsensitief was.

Die mense wat kla, is geïdentifiseer as "luisteraars". Dit gaan oor gebeure wat 70 jaar gelede plaasgevind het toe hierdie studente nog nie eers 'n vonkel in Ouma en Oupa se oë was nie. Vir 'n groep mense is hierdie deel van die geskiedenis baie sensitief en hulle werk hard daaraan om te sorg dat die kollektiewe geheue behoue bly – almal in die wêreld moet altyd onthou wat Adolf Hitler aan Jode gedoen het.

Met watter weergawe van die geskiedenis 'n mens ook al saamstem, moet 'n mens hulle ter ere nagee – hulle slaag beslis daarin om die "Holocaust" lewend te hou.

As ons Boerevolkie maar kon leer om so op die kruine van empatie te ry, sou niemand ooit vergeet het van die onreg wat in die konsentrasiekampe teen ons mense gepleeg is nie. Maar dit lê ook in die verlede – nog meer onrusbarend is die onreg wat vandag gepleeg word teen hierdie selfde groep mense.

'n Vyf-en-vyftig jarige boer word in 'n graf gegooi en met klippe geslaan en gegooi tot hy dood is. Sy verlamde vrou word vasgebind en geterroriseer. Sy 84-jarige moeder word vasgebind en aangerand.

Mense, waar is die openbare protes, waar is die uitroepe van afsku?

Waar is die "luisteraars" nou? Hoekom hoor ons nie hulle stem teen hierdie onreg nie? Waarom word die regering en die polisie nie gedwing om in die openbaar om verskoning te vra dat hulle nie boere beskerm nie?

Wat se kos gaan die "luisteraars" oor tien jaar in Suid-Afrika eet as al die boere doodgemaak en verjaag is?

Dieselfde geld vir belange-organisasie soos die Joodse Raad van Afgevaardigdes, die Black Lawyers Association, die Black Business Chamber en sommer ook die Islamitiese Raad. Net so geld dit vir die ANC Jeugliga wat so graag van die vette van die land lewe.

O ja, en moenie die ANC self vergeet nie. Ons eis dat hulle hul verontwaardiging uitspreek oor hierdie grusame voorval en elke ander een waarin 'n kosvoorsiener van hierdie land seerkry of vermoor word.

En laat ons ook maar self ophou om bewusteloos deur die lewe te gaan. Elke plaasaanval is 'n aanval nader aan jou! Staan op, praat, raak betrokke!

'n Foto in die kuberruim lok meer reaksie uit as 'n man wat lewend begrawe word. Waar gaan ons heen?

Ons daag hierdie groepe wat hierbo genoem is, en sommer al die ander belangegroepe in die land uit: As jy môre wil eet, staan op en spreek jouself uit teen die volksmoord wat besig is om op jou drumpel af te speel!